Met die aanbreek van ’n strawwe winter in die middel 1960’s het tan’ Griet erge griep en ’n borsprobleem opgedoen. Sy was daarna kort-kort siek en het telkens by die rand van die dood omgedraai. Toe, kort voor Kersfees van 1970, kon die ou liggaam nie meer nie. Sy is plegtig daar langs die opstal in die familiebegraafplaas ingespit.

Die inspitman van die dorp het dit kom doen. Gawie en oom Gert het om die beurt byna drie dae aaneen die gat gegrawe. Die potklei wou nie saamspeel nie en die son was genadeloos. Met die jare het oom Gert ook nie jonger geword nie. Gawie het maar so op sy eie manier die boerderytjie aan die gang probeer hou.

Van tyd tot tyd is bees en skaap op die dorp verkwansel vir lewensmiddele, soos suiker, koffie, melk, pruimtabak vir oom Gert, seep en lampolie. Die ouderdom en koue winters het later ook oom Gert ingehaal. Gawie was juis met bees en skaap op die dorp toe oom Gert ’n hewige griepaanval opdoen. Sophina het gedokter so goed soos sy kon, dog die skrif was aan die muur.

Met Gawie se terugkeer, toe hy haar koponderstebo onder die peperboom sien sit, het hy dadelik geweet alles is nie pluis nie. Gawie het die huis binnegestorm, net betyds om nog vir oulaas die sweetdruppels op sy pa se voorkop met ’n klam lap af te vee. Oom Gert het gesterf met Gawie se hande styf om syne vasgeklem. Nou is hy by ma Griet, waar hy maar altyd wou wees, het Gawie gedink.

WEGBRING VAN DIE TYDING

Met die terugtog van die dorp af het sy perd Poon in ’n molsgat getrap en sy voorpoot beseer. Gawie het dit skaars tot by die huis gemaak. Met dié dat Poon nou op die krukkelys is, moes Gawie te voet na die naaste buurplaas gaan om die tyding te bring. Dit is omtrent twaalf kilometer verder. Duin op en duin af.

Tussen doringbome deur en oor potkleistroke heen. Boonop is dit twaalfuur en die sonbesies vertel aan almal wat wil hoor dat dit warm – helwarm – is. Pa Gert was ’n groot man. Daar sal ’n spesiale kis gemaak moet word. Gawie sal ook by dominee moet hoor of daar nog plek in die dorp se begraafplaas is, want hul eie stukkie grond is onlangs aan ’n uitlander verkoop.

Die balsemgoed is ook op. Oorle’ ma Griet het altoos gesê ’n mens moet gebalsem word voordat hy begrawe kan word. Sy het immers haar eie ma gebalsem. Mans kan mans balsem en mans kan hul eie vrou balsem, maar mans kan nie ander vroue balsem nie, want daar is plekke waar die son nie skyn nie op jou liggaam.

Dan kan almal nie maar net staan en balsem nie. Voor hy weg is buurplaas toe, het Gawie nog vir oulaas vir Sophina gesê om nie vir oorle’ pa Gert te was nie. Sy moet wag totdat hy terug is. Sê nou sy staan en was daar waar die son nie skyn nie. Dit sal nie deug nie. Toe Gawie by oom Koos en tan’ Annie aanland, was sy kleure deurtrek van die stof en sweet en het sy bors sonder ophou op en af gejaag.

Later, toe hy tot bedaring kom, het hy die nuus van oorle’ pa Gert se afsterwe oorgedra. Oom Koos het onderneem om met die man wat altyd die inspittery behartig, vir ’n groot graf vir oorle’ pa Gert te reël. Op Gawie se aandrang moes hy uitdruklik vir almal laat verstaan dat dit ’n groot inspit gaan wees – eerstens oorlat oorle’ pa Gert ’n groot mens was en tweedens oorlat oorle’ pa Gert ’n mens van aansien was.

Oom Koos sal ook sommer vir dominee en die mense in die omtrek en op die dorp van die komende groot inspittery laat weet. Oom Koos het gemaak soos Gawie gevra het. Oom Gert is op ’n Dinsdag oorlede, en aangesien dominee vir die sinodesitting stad toe moes gaan, het oom Koos gereël vir die begrafnis op Vrydagoggend om elfuur.

TAN’ RAAITJIE SE SONDE

Tan’ Raaitjie, wat langs die poskantoor bly en al die jare by die plaaslike drukkery gewerk het, bevorder ná haar aftrede steeds die plaaslike koerantjie se belange. Almal wat wil hoor en ook dié wat nie wil hoor nie, hoor alles van almal by tan’ Raaitjie. Boonop is tan’ Raaitjie ook ’n bobaasbakster.

Ná die afsterwe van tan’ Griet het sy gesorg dat almal dit weet, geniet en waardeer. Sy het een groot sonde gehad – pruim. Nie dat pruim as sodanig ’n sonde is nie. Nee, maar die wyse waarop sy gepruim het! Daar het immers ’n straaltjie pruimsous teen haar ken tot op haar bors verskyn. Wanneer die pruim in die kies uitgewerk was, kon sy dit sonder enige seremonie baie behendig daar eenkant uitspoeg.

DIE DAG VAN DIE BEGRAFNIS

Mense het van heinde en ver vir die groot inspit opgedaag. Die kerk was tot barstens toe vol. Dominee het ietwat langer as normaalweg gepreek en oom Jannie Louw se lys van bedankings het aan dié van ’n politieke toespraak herinner. By die graf aangekom, het dominee dadelik met die verrigtinge voortgegaan.

Gawie het gemerk dat daar fout is met die stellasie waarop die kis moes rus. Hy het in die rigting van die inspitman beduie oor die fout by die stellasie, dog dié het baie waardig vir Gawie beduie om rustig te wees. Gawie, hewig ontsteld oor die foutiewe stellasie, het hardop sy ontevredenheid te kenne gegee.

Oom Koos, menende dat Gawie van ontsteltenis so optree, het nader gestaan om Gawie te vertroos en in dié proses tan’ Raaitjie agter die blad geklap. Die halfgekoude pruim het met ’n boog oor die graf tot voor die bors van dominee getrek. Sy wit hemp en das was in ’n oogwink deurtrek met pruimsop.

Tan’ Annie wat langs dominee gestaan het, het met haar sakdoekie die pruimsous probeer afvee en ’n Picasso van formaat geskep. Konsternasie op konsternasie het gevolg. Toe gebeur dit waarvoor Gawie gevrees het. Die tou aan die voetenent van die kis breek. Oorle’ oom Gert tuimel die dieptes in.

Met die trefslag onder in die gat spring die deksel oop, en daar “staan” oorle’ oom Gert – styf toegedraai in sy balsemgewaad. “O heigenhert,” kon tan’ Annie uitkry voor sy flou geval het, en met ’n u-u-geluidjie het tan’ Raaitjie gevolg. Dominee het uit volle bors begin sing en die inspitman is graf in om die kis toe te maak.

Vanaf die saal skreeu iemand dat die melktert brand en die tee koud word. Gawie het daar gestaan. Verwese en verdwaas, dog tevrede. Sy pa se inspit was inderdaad iets om te aanskou.

Kobus Bester lees graag kortverhale en het besluit om sy hand ook aan die pen te waag.


© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.