’Pa, is jy besig ?’’

‘‘Nee wat, Ma. Ek wil net gou die jong bees gaan sout gee.’’

‘‘Die nuwe bankman wil vir ons kom kuier . . . hy het seker maar ’n behoefte aan geselskap.’’

‘‘Ek weet nie so mooi nie! Sakkie van Niekerk sê altyd by hom op Flentervlei is hulle gewoonlik die draers van slegte nuus, maar nou ja, dalk wil hy kom geld leen. Die banke kry ook seker maar swaar in die droogte. Sê vir die man hy kan Woensdagmiddag tweeuur kom, dan kan ons gesels. ’’

Dis Woendagmiddag 14:06 toe ’n swart kar by die hek stilhou en deurry. Hy los sommer die hek oop, kan jy dit glo?! As daai melkkoeie kom skade maak in die tuin, wil ek nie by wees as my vrou hom gaan regsien nie . . . Maar dis nou vir jou ’n netjiese man! Sy swart pak blink en ek ruik die Brylcreem op sy snor. Dit móét op sy snor wees, want hare het hy nie!

‘‘Goeiemiddag, meneer Vermeulen?’’

‘‘Dis nou ek daai, ou maat, maar noem my sommer oom Jakobus. Wat roep die mense jou?’’

‘‘Ek is Juan Rupert, die nuwe bankbestuurder, senior finansiële adviseur . . . en ekonoom, in my vrye tyd. U mag my maar meneer Rupert noem.’’

‘‘Nou ja, Jan, voor ons verder gaan, die afspraak was eintlik tweeuur, maar laat ons ingaan, jong, die koffie word koud.’’

Die regte getalle

‘‘Ek verstaan u is ’n veeboer. Hoe groot is u kudde, as ek mag vra?’’

‘‘Ma, bring asseblief vir my daai nuwe BSB-boekie met die skaapgetalle. Hy lê daar by die Bybel op my kas. Die beesgetalle is op daai Pieter Stywesant-sigretsboks.

‘‘Jong, ek weet julle geleerde mense hou van die regte getalle. Ai, die jakkals en rooikat vang alweer. Ek sal weer vir Giel Jakkals moet inkry om te kom getters stel. Daai tien tagtag gif van hom werk goed. Die jong manne dink jakkalsproef gaan beter werk, maar ek is nie so seker nie. Dit kan ’n duur besigheid afgee.

‘‘Nou laat ons sien . . . die tweetandooie in die bergkamp staan nou op, wag net so bietjie, die dooies moet nog af . . .’’

‘‘Meneer Vermeulen, dis rérig nie nodig nie.’’

‘‘Jan, as jy die regte getal wil hê, moet jy nou ophou om my in die rede te val.’’

‘‘Meneer Vermeulen, die kontantvloei lyk baie goed, so dis nie nodig vir enige getalle nie.’’

‘‘Jong ja, ek weet nou nie mooi wat jy bedoel met die kontantvloei nie, maar oorle’ Pa het altyd gesê ’n mens gooi nie geld in die water.’’

‘‘Nee wag, u verstaan verkeerd. Goeie kontantvloei is nodig om u besigheid op ’n gesonde basis te bedryf.’’

Daar om te help

‘‘Nee wat, jong, oom Toitjie van Cloverly het altyd gesê dis ’n baie eenvoudige sommetjie. Jy moet net meer geld inkry as wat jy uitgee. So van geld uitgee gepraat, ek en die Tannie se belegging is ongelukkig vir vyf jaar vas by die Poskantoor. Ek sal ’n bietjie hoor by Blink Ben Botha of hy julle dalk kan help.’’

‘‘Meneer Vermeulen, ons het nié u geld nodig nie!"

‘‘Jan, ek verstaan, dis seker maar moeilik om te vra, maar onthou net, ons is daar om mekaar te help.’’

‘‘U is besig om my kosbare professionele tyd te mors! Ek kan net sowel gaan gholf speel!’’

‘‘Jan, ja, ek het nogal gedink jy gaan dit nie maak in ’n rugbyspan nie.’’

‘‘Meneer Vermeulen, verskoon my!’’

‘‘Jan, maar ons begin dan nou net lekker kuier. Jou koffie is nog nie klaar nie en ek kan sien jy het die koeksisters geniet.’’ Maar daar trek Juan.

‘‘Jan, stadig net by die trap. Ou Boel hou nie van swart skoene wat blink nie. En jong, jy moenie die kar se deur so klap nie! Netnou val hy af. Hulle maak nie meer karre soos in die ou dae nie.’’

Magtag, hoe gooi die kar my nou vol stof! Ek wou nog die man vra om net weer die hek agter hom toe te maak.

Henk Buytendag is ’n afgetrede boer van Oos-Londen. Hy reis graag en is lief vir musiek.



© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.