Op haar lessenaar is ’n bordjie met haar naam en ’n glas water met ’n Weighless-logo op. Albei wéét hulle gaan nie van mekaar hou nie.

Hy is onder dwang hier. Hy is kwaad vir sy vrou en sy dokter. Wat kan dié kind hom vertel? Sy wil als weet; pen in die hand: Ouderdom, gunsteling-kossoorte, oefening? “Oefening! My magtag, ek is ses-en-sestig!”

Sy praat stywelip; duidelik in beheer. “Ek verwag eerlike antwoorde, asseblief. Hoeveel eet u op ’n slag? Het u drinkgewoontes die afgelope tyd verander? Hoeveel keer per dag eet u?” Dink sy hy is ’n voerkraalbees?

Die geveg is nog lank nie verby nie. Duidelik verstaan sy nie. “Juffie, laat oom vir jou verduidelik. Ek het as boerklong met kos grootgeword. My ma het ons geleer jy eet ál jou kos, anders kry jy nie poeding nie. ’n Mens eet nie net nie. Soms peusel ’n mens of kou iets. Jy slurp jou koffie en jy teug aan ’n wyntjie. Jy knibbel aan kaas, lek ’n roomys, lê weg aan Kentucky en verslind ’n Big Mac. En soms proe en sluk en suig en smul en verorber en nuttig jy. Ons eet nie net nie! ‘Eet’ klink so plat, man ...”

Weet wanneer jy verloor

Sy kyk hom met ongeloof aan. Hy voel hy het haar teen die toue. Sy staan op agter haar lessenaar. Sy probeer tyd wen. Hy moet momentum behou.

“En, juffie, julle jong mense wat só uitvaar teen als wat soet is. Gaan lees self wat staan in die Boek geskrywe.”

Haar gesig is ’n vraagteken. “Jy moet jou nagereg liefhê soos jouself.” (Koeksisters 3 vers 11; Kook en Geniet; 1970-vertaling)

Hy is los voor op punte. Sy kry haar stem terug. “Meneer, ek het gedink dit is van baie eet dat jy só lyk, maar lyk my dit is van twak praat.”

Dít is ’n lae een. “Trek jou skoene uit sodat ek jou lengte en gewig kan bepaal. Jy kan maar jou kouse en klere aanhou.”

Hy klim op so fênsie skaal met ’n glasblad. Toe hy afkyk, sien hy twee yslike gate in sy kouse. By elkeen loer ’n groottoon uit. Hy probeer sy tone omkrul, maar dit help niks. Sy vat haar tyd. Sy gaan lessenaar toe en laat hom en sy groottone net daar staan.

Sy voltooi haar verslag en skuif ’n dieetplan in ’n bruin koevert in sy rigting. Sonder om op te kyk, sê sy hy kan maar aantrek. “En terloops, meneer, vir ’n arm man eet jy nogal goed. Ek hoop jy kan my rekening betaal.”

Hy weet wanneer hy verloor het.

Op pad terug plaas toe stop hy by McDonald’s. “ ’n Big Mac en tjips en ’n Coke asseblief. Nee, gewone Coke en ja, upsize.”

Hy betaal die honderdrandrekening met ’n tweehonderdrandnoot. “Hou die kleingeld.” Die man kan sy geluk nie glo nie.

Hy lê weg aan sy burger, knibbel die tjips en slurp sy Coke. “Eet klink so plat, man,” dink hy en vee sy hande af aan die bruin koevert op die sitplek langs hom. 

Mnr. Albie Schoeman is ’n boer van Heilbron.