Dit was die Julievakansie, 1955. Ek was 11 jaar oud, amper 12, en in standerd 6. Ek en Ouboet was op Heidelberg in die Unie op skool, maar nou was ons met vakansie saam met pa-hulle Zambezi toe. Daar naby die Chirundubrug was ’n kampeerterrein wat my pa-hulle saam met ander gesinne gebruik het wanneer hulle by die Zambezi gaan visvang het (die Kariba-dam was nog in aanbou).

Reg langs ons kampeerterrein het ’n bosbrand ’n dag vantevore groot skade aangerig. Die ergste was lankal verby, maar hier en daar het stompe nog gesmeul.

In ons kamp was ’n paar tannies en een van hulle was besig om ’n redelike lang besoek aan die emmer agter die grasskerm te bring. Ek moes dringend piepie, maar die tannie kon nie klaarkry nie en ek haas my toe die bos in. Dit was nogal dom, want oral was die grond met grys as bedek, en ’n mens kon nie sien of die as nog warm was nie. Gelukkig het een van die ooms (met groot stewels aan sy voete) vroeër ’n smeulende stomp daar in die bos gaan uitsleep – vir ons kampvuur – en onwetend vir my ’n skoon slootjie deur die as geploeg.

Ek kon die een kaal voet voor die ander een neersit en só in hierdie skoon slootjie loop. Toe ek ver genoeg was sodat die tannies my nie meer kon sien nie, kon ek uiteindelik my nood verlig, met die een kaal voet reg voor die ander een, steeds op die smal voortjie veilige grond. Die as langs die mensgemaakte voortjie het gesis van die nat goed, en ek het dadelik besef dat die as nog vuurwarm is.

Hoe draai jy jouself om as jy met die een voet voor die ander op ’n baie smal paadjie staan? Die antwoord is: Jy verloor jou balans, en jy val hande-eerste in die warm as in. Dan, wanneer jou hande te erg begin brand, spring jy op en staan met jou voete in die warm as, terwyl jy met groot oë na die skade aan jou pynlike hande kyk. En wanneer jou voete te erg brand, spring jy weer terug in die paadjie, en wanneer jy die skade aan jou pynlike voete sien en die pyn te erg raak, skree jy vir jou pa, en meteens is jou hande en voete in verbande toegedraai en is ons klaar visgevang en terug by die huis.

’n Hele maand nadat Ouboet terug is Heidelberg toe nadat die skole weer begin het, was “meneer Doekvoet” steeds by die huis en salig gelukkig. Jy sien, ek het in daardie ekstra maand verjaar. Dit was die eerste keer sedert ek vyf geword het dat ek tuis was vir my verjaardag, want gewoonlik was ek in die koshuis wanneer ek verjaar het. Die alleen-verjaar sonder skoolmaats was toe nie eintlik lekker nie.

Ongelukkig kon ek my pa ook nie vir altyd oortuig dat my voete en hande nog steeds te seer is nie. Só is ek uiteindelik op die trein gesit Unie toe, my voete nog in verbande toegedraai, maar darem al in my pantoffels, en met heel bruikbare hande.

Nagapie te koop

Die treinrit Johannesburg toe het glad verloop. Op Johannesburg se stasie moes ek eers die regte perron vir die volgende trein vind, en my nagapie verkoop.

Nagapie? Laat ek verduidelik.

Palapye is ’n treinhalte in Betsjoeanaland waar die stoomtrein vir ’n redelike lang tyd staan en water vol tap. By Palapye bestorm ’n groot klomp mense die trein met allerhande houtsneewerk, krale en lappies te koop. Dit klink behoorlik of hulle almal histeries is soos hulle probeer om ’n geldjie uit die treinryers te kry.

Wanneer jy en jou maats op pad Rhodesië toe is vir ’n skoolvakansie, steek jy by Palapye jou kop by die treinvenster uit, en jy vra of iemand ’n nagapie het. Jy koop vir jou ’n aap vir tien sjielings, neem hom huis toe en maak hom mak soos jou tant Poppie jou geleer het. Ná die vakansie verkoop jy hom vir drie pond op die Johannesburgse stasie, op jou pad terug Heidelberg toe.

Hoe verkoop jy ’n nagapie op Johannesburg se stasie? Jy vang vooraf vir hom ’n lekker vet mot om aan te peusel, haal hom by jou hemp uit, en loop met jou etende aap op die mou (vandaar die gesegde: jy voer ’n aap in die mou), totdat nuuskierige mense begin nader staan. “Ag, kyk hoe oulik!” sê hulle en woerts-warts, iemand het hom by jou gekoop. Maar nou terug na Doekvoet se alleenreis.

Dronk medereisiger

Op Johannesburgstasie het ek en my nagapie verskrik gestaan en met bang aap-oë die wêreld om ons bekyk. Wanneer jy saam met die ander Rhodesiese kinders reis, is dit maklik: Jy loop net agter die ouer kinders aan. Wanneer jy egter op twaalfjarige ouderdom alleen van die trein afklim, weet jy glad nie na watter platform jy moet loop vir jou volgende trein nie.

Toe stuur die Here vir my ’n engel in die gedaante van ’n spoorwegpolisieman. Hy kon duidelik sien iets skort met my en my toegebinde voete in pantoffels, dat ek bang was en hulp nodig het.

Nadat hy my na die Durban-trein geneem het, is hy daar weg met my aap op sy mou, en minus drie pond.

Eintlik was dit ’n goederetrein met een passasierswa heel agter. Ek sit in die wa en wag vir die trein om te vertrek. Ek voel effens bang, want daar het nog nie ander mense opgeklim nie. Uiteindelik hoor ek die stoomlokomotief se skril fluit. Die trein ruk en begin beweeg. Dan, terwyl die trein stadig wegtrek, hoor ek hoe die wa se deur oopgaan. Iemand anders klim in.

Skielik staan ’n man in die deur van my kompartement, so dronk soos ’n lord. “Hierdie trrreienn gaan ... Nigel toe, ... hê?”

Die spoorwegpolisieman het uitdruklik gesê die eerste stilhouplek is Heidelberg, en daar moet ek afklim, en ek het geweet dat Heidelberg nege myl verder as Nigel lê. Wat gaan hierdie oom doen as hy uitvind dat die trein nie op Nigel stilhou nie?

Die volgende paar uur was moontlik die ergste van my lewe. Nog nooit weer het ek soveel vrees beleef nie. Ek het my byna stukkend gehuil en myself papnat gepiepie, maar die oom wou nie loop nie, en dit het meer en meer begin lyk of hy iets aan my wou doen.

Uiteindelik het die kondukteur sy opwagting gemaak. Hy het die oom weggevat en êrens toegesluit. Toe kom hy terug om my te probeer stilkry, want ek skree nog asof my ma so pas haar nikswerdseuntjie weggegooi het. Ek het eers opgehou huil nadat die kondukteur my voor die Here belowe het dat hy nie die dronk oom op Heidelberg sal aflaai nie.

Ouboet se troos

Op Heidelberg se pikdonker stasie het ek bang-bang met my bagasie uitgeklim en byna omgekom van vrees, want ek was onseker of die dronk oom steeds toegesluit was. Sê nou hy klim hier af? Dit is twee-uur in die oggend, die stasie is pikdonker en daar is geen siel wat my sal kan kom red as die oom my hier beetkry nie.

Meteens hoor ek hoe ’n wadeur klap. Was dit die kondukteur wat in- of uitgeklim het? Of was dit dalk die dronk oom?

Ek het waarskynlik nie eenmaal omgekyk nie. Ek het my tasse gegryp en gevlug. My doekvoetjies het nie eens geweet dat hulle nog seer was nie. My asempie het gejaag, en kort-kort het ek sulke ligte gilletjies gegee, soos ’n bababrakkie wat seergekry het, heelpad tot by die hoërskoolkoshuis.

Toe ek daardie nag op my bloeiende pantoffelvoete by Excelsior-koshuis aangewaggel kom, was ek steeds só bang dat ek nie die bene gehad het om nog tot by my en vyf ander kammies se kamer op die boverdieping te vorder nie. Ouboet-hulle se kamer was op die grondvloer, en op daardie oomblik het ek sy vertroosting bitter nodig gehad. Ek het hygend my bagasie buite Ouboet se kamervenster laat val, by sy venster ingetuimel en by hom in sy bed geval. Ek het só erg gehuil dat ek Ouboet skoon in die skande gesteek het.

Daardie mistykie langs die Zambezi was ook nie my laaste nie. Ek fouteer steeds.

* Willie Pienaar het in die destydse Rhodesië (vandag Zimbabwe) en later in Suid-Afrika grootgeword. Deesdae is hy afgetree en woon op Mookgophong, waar hy skryf om sy skeppingsdrang te bevredig.