Wêreldwyd vang huiskatte jaarliks dermiljoene voëls, knaagdiere en reptiele, maar soms, net soms . . .

Die nessie het redelik wankelrig gelyk. Dit was net ’n klompie takkies wat kruis en dwars gepak is in ’n mik in die boom in die agterplaas, maar dit is hoe die rooiborsduifie dit wou hê. Vir haar was dit huis. Sy het haar twee eiertjies gelê en die paartjie het begin broei.

In wind en weer het hulle op die nes gesit en almal wantrouig dopgehou wat dit naby die boom gewaag het. Wanneer dit veilig was, het hulle vinnig afgevlieg om ’n paar saadjies op te pik en ’n bietjie water te drink.

Die bedenkinge oor die nessie is waar bewys, want ná omtrent tien dae het een van die eiertjies uit die nes geval. Die broeipaar het die ander eiertjie soos goud opgepas.

Toe, een oggend sien ons iets beweeg onder die broeiende duifie in die nes. Ons moes wag tot dit tyd was om kos te gaan soek voordat ons kon seker maak: Die kleinding het inderdaad uitgebroei.

Dit is merkwaardig hoe vinnig ’n babaduifie in die eerste dae van sy lewe groei. Elke oggend was hy sigbaar groter en binne dae het hy feitlik die hele nes vol gesit. Sy ouers het sy krop vol gehou, maar hulle het nie meer lekker saam met hom in die nes gepas nie. Hulle moes van die heining of een van die boom se takke ’n ogie oor hul telg hou.

Die kuiken was net meer as ’n week oud toe ons opmerk dat ’n tortelduif moeilikheid soek. Hy was gedurig met fladderende vlerke by die nes waarin die kuiken was. Ons het die tortelduif probeer verwilder, maar hy het telkens teruggekom.

Die middag het ons ’n draai gery. Toe ons terugkom, was die kuiken weg. Spoorloos. Geen teken van bloed of vere nie. Net ’n leë nes. Ons het gesoek tussen die plante onder die boom. Niks. Die kuiken was weg.

Die volgende dag het die vrou van die huis agtergekom die inwonende kat stel baie belang in wat aangaan in die gat waarin ’n afvoergeut reënwater dreineer. Die gat is gedeeltelik bedek met ’n halwe teël juis om te keer dat mense en diere daarin val.

Toe sy die teël oplig, het sy (sonder haar bril!) ’n groot, vaal ding gesien. “Rot!” het sy geskree en versterkings ontbied.

Ek het ’n stomp gegryp en nader gestorm. Nie dat ek geglo het die rot sal steeds daar wees nie, maar nogtans.

’N Anderste rot

Ek was verstom toe ek die teël oplig: Dit was nie ’n rot nie, maar die rooiborskuiken. Hy het uit die nes geval – dalk het die tortelduif hom uitgestamp – en toe op die grond rondgeskarrel totdat hy in die gat geval het. Dít is waar die kat hom opgespoor en alarm gemaak het, soos ’n Pointer. As ’n mens iets soos ’n skaaphond kry, kan jy seker iets soos ’n duifkat ook kry?

Met die duifie in die hand is ek die huis in. Wat nou gemaak?

Ek het onthou van my afgetrede kollega Mary-Anne Stone. Sy het oor dekades al honderde, dalk duisende voëltjies grootgemaak en weer vrygelaat: duiwe, muisvoëls, meelogies . . . Terwyl sy nog gewerk het, het sy dikwels voëltjies saamgebring kantoor toe sodat sy ’n ogie oor hulle kon hou.

Sedertdien het sy ’n paar keer foto’s en video’s gestuur om te wys hoe die duifie grootword. Binne weke was hy sterk genoeg om saam met die ander rooiborsduiwe op haar erf te vlieg. En toe hy besluit om sy eie koers in te slaan, kon hy.

Die kans is seker skraal dat hy sy pad sal terugvind na waar hy uitgebroei is. Tog wonder ’n mens: Weet hy as dit nie vir ’n kat was nie, het hy nie meer gelewe nie? 

Jan Bosman is eindredakteur van Landbouweekblad.