Nuwejaar was stil, doodstil. Ontsettend warm. Voor die waaiers deurgebring. My gedagtes het ver teruggeloop. Hoe anders was dinge destyds!

Vir my sal daardie dae altyd beter wees. Voor my geestesoog sien ek my kortgat, bonkige oupa met sy kepsie en kruisbande. Seuntjie, die foksterriër, sy skaduwee wat hom volg. Ek sien hoe hy werskaf met sy koffiebone op die draadrak. Hy het self gedroog en gemaal vir regte-egte moerkoffie.

Ek hoor hoe hy Ouma roep: “Julie!” Ek sien haar voor die koolstoof met haar potte kos en groot, warm brode uit die oond. Ek sien hoe sy vir Norah uit die rolstoel tel, haar versorg en in die bed sit. Ek hoor haar sing.

Nuwejaarspaartie

“Die ark is oop, my kind. Die motors staan vol in die erf en in die straat. Die Volvo-brigade.”

Ek hoor Roy, Brian, Plummie so uit hul mae lag. Dis vrolik. Die goiingsak met yskoue water hang in die wind. Die waatlemoene lê tussen ys in die baddens. Die vure word aangesteek.

Ons dans ’n hond uit ’n bos uit. Roy wil net dat ek twist en my kop skud terwyl ek dans. Hy skud soos hy lag oor ek so dronk raak. Oom Louis snuif, en Kiepie nies dan aaneen. Almal stoute, ondeunde boggers. Gryp Roy die klaar afgeëte skille en kry daai uitdrukking in sy oë, hol jy tevergeefs. Jy is taai van kop tot tone. Groot en klein saam.

Oupa was nie kwaai nie. Hy was stil. Hy het nie geraas en baklei nie. Geen harde stem nie. Tog het hy gesag afgedwing en het almal respek vir hom gehad. Met agt hubare dogters het die manne ook maar gebewe en nie kanse gewaag nie.

Ouma was ’n lekker ouma. Wys en sterk. Sy kon net so lekker lag, en ons het altyd heerlik gedans. Sy het twaalf kinders gebaar. Ek kan geen klaagliedere van Jeremia onthou nie. Dit was ’n warm huis waar almal welkom was.

Stoepkuiers

Ons stoepkuiers, ag genade, hoe mis ek dit! Spiekeries oor die radio wat rugby uitsaai. Of die radioverhale wat ons geluister het. Springbokradio met Jan en Esmé. “Só maak mens”, en ek en Ouma wat resepte afskryf. Speletjies gespeel in die straat onder die gloeilampe.

Ek mis daardie dae. Ek mis dit erg.

By sommige huise en mense was jy mos te bang om selfs asem te haal. Jy sit soos ’n stokmannetjie. Bang as jy beweeg, breek iets. Daar is altyd ’n atmosfeer in sulke huise. Iemand bulder net hard, en jy foeter van die stoel af van die skrik. In my geval krap dit my spysverteringstelsel summier om, dan hardloop ek sommer asof ek iets verkeerds geëet het.

Ek het glad nie van sulke kuiers gehou nie. Of die grênd mense. Ma was ook op haar senuwees dat ons kinders gaan mors of iets breek.

Ouma en Oupa, oor ’n paar dae is ek 57. Het 40 jaar gelede matriek geskryf. Kan julle glo? Dit is 2019, en ek het nog geen aliens teëgekom nie. Hoewel baie mense vir my soos hierdie vreemde wesens begin optree.

Hierdie lewe is vreemd. Julle sou nooit daarin aard nie. Ek oorleef maar net en bly soekend na daardie mooi dinge van destyds. Die eenvoud was gerusstellend.

Alles is ingewikkeld en vol draadwerk in vandag se lewe. As julle gedink het die Natte en Sappe se vrot tamaties en eiergooiery was erg saam met die spul joiners en hanskakies, dan is dit goed julle weet nie van nou se spektakels nie.

Ouma, jy het gesê ons gaan met ons hande vol geld staan, maar niks met dit kan doen nie. Dis ’n fel werklikheid. Ek wens ek kon julle almal weer klokhelder hoor lag.

* Berna van de Venter kom van Modimolle.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.