‘Gmf!” snork ou tant Miems Rademeyer onvroulik deur haar neus, terwyl sy verder met haarself staan en praat:

“Verbeel jou! Die beste melktert in die dorp. Nee, distrik nogal, en dit volgens ou dominee De Waal. Dit sal die dag wees! Die klein jesebel gaan nie vir my wat Miems is ore aansit nie. Die klein merrie fladder natuurlik haar wimpers vir al wat man is. Ja-nee, dis presies hoe sy dit regkry om nou vir die tweede keer in ’n ry met die prys vir beste melktert te kon wegstap. Ek sal die klein Delila wys waar Dawid die wortels gegrawe het!” sê sy hardop en sit haar inkopies op die toonbank neer.

Die kassiere kyk haar vraend aan. Tant Miems vererg haar sommer weer van voor af. “Toe, toe jong! Wat staan en gaap jy my so aan? Lui op, ek is haastig, meisie, en maak tog seker dat jy die goed netjies verpak!” sê tant Miems en kyk in die winkel rond.

Gelukkig is dit stil vandag en niemand kan sien wat sy koop nie. Saartjie knik en begin die ou tannie se inkopies oplui.

“Haai Ta’ Miems, hoe lyk dit dan nou of Ta’ Miems regmaak om ’n bank te roof met al dié vreemde inkopies? ’n Balaklava, nogal!”

“Aag Saartjie, moet tog nie vir jou verspot hou nie, kind! Vir wat sal ’n ou vrou van my jare nou gaat staan en bank beroof? Die inkopies is vir ou Petrus wat daar by my werk.”

Saartjie kyk skepties na die swart klere wat saam met die balaklava op die toonbank lê. Sy is seker dat dit ses nommers te klein vir ou Petrus moet wees, maar sy lui maar op en sê eerder niks. Verpak alles netjies en oorhandig dit aan die ou tante.

“Ek wou nog sê: Baie geluk met Ta’ Miems se melktert. Ek hoor Ta’ Miems het ’n tweede plek gewen . . . En dat Rika se heerlike . . .” Saartjie sluk haar woorde toe sy merk hoe kwaai die ou tante haar aangluur. Sy besef dat die ou tante natuurlik vies is. Voor Rika hier aangeland het, was Ta’ Miems bekend as die beste bakster hier in Dulsies.

Mense het van heinde en ver gekom om die ou tante se fyngebak te proe. Saartjie klik met haar tong. Siestog, dit moet seker moeilik wees vir Ta’ Miems om te moet terugstaan vir iemand soos Rika, en dan is dié nog so jonk en mooi ook.

‘As ek ’n beoordelaar was, dan sou Ta’ Miems se melktert loshande gewen het. Ja-nee, sommer eerste, tweede én derde plek gevat het!’

“Net sodat Ta’ Miems weet, ek verkies nog steeds Ta’ Miems se gebak bo enige ander. As ek ’n beoordelaar was, dan sou Ta’ Miems se melktert loshande gewen het. Ja-nee, sommer eerste, tweede én derde plek gevat het!” smeer sy die ou tante heuning om die mond, min wetend dat sy besig is om Ta’ Miems in haar kwaad te sterk.

Die ou tante glimlag breed en daar is sommer ’n vonkel in haar oog. “Dis nes jy daar sê, my kind. Wag maar, ek sal haar nog ’n ding of twee wys. Verbeel jou, ’n nat-agter-die-ore-snuiter wat beter as ek kan bak! Gmf!” En toe vat die ou tante haar pakkie en vlieg by die deur uit.

Die proe-contest

Saartjie slaan haar hande saam en gesels só in haar enigheid met haarself dat sy nie vir ou Willempie sien wat na haar toe aangeloop kom nie.

“En as jy so met jouself sit en praat? Hulle sê daai beteken dat jy jou varkies begin verloor!” Saartjie skrik haarself byna boeglam en sy gooi vir ou Willempie met die ding naaste aan haar, ’n paar kouse wat iemand op die toonbank gelos het.

“Nee man, Willempie! Wil jy nou vir my hier laat dood neerslaan? Vir wat bekruip jy ’n mens so, man?”

Willempie lag en wil dan weet hoekom sy so helder oordag met haarself staan en praat. Saartjie slaan haar hande saam. “Jong ou Willempie, ek sê vir jou, hier kom ’n ding! Ou Ta’ Miems is op die oorlogspad. Dié is vies omdat Rika nie net een keer nie, maar nou vir ’n tweede keer haar shine kom vang het. Dié se melktert is mos weer aangewys as die beste op die dorp . . . Oeee, ek sê vir jou, groot moeilikheid!”

“Nee wat, ou Saartjie, wat sal Ta’ Miems tog nou kan maak? Sy kan tog nie die skone Rika verbied om te bak nie. En as Rika se melktert beter is, dan is daai mos maar so. Daar is niks wat ou Miems daaraan kan doen nie. Maar gee bietjie van daai niekerbols aan, die kinders is al weer lastig oor die vervlakste goed! Sê vir my, het jy al Rika se melktert geproe?”

Saartjie skep ’n hand vol niekerbols in ’n sakkie en sit so ’n paar ekstra in vir ou Willempie se kroos. Sy gooi die kleingeld in die kasregister en loer onderlangs na Willempie. Watse gedagtes sal dié nou weer staan en uitbroei? Willempie glimlag breed.

“Mens, soos heuning op die tong, sê ek vir jou! Maar wag, laat jy self proe. Hier is mos van Ta’ Miems én die mooie Rika se melktert in die winkel. Nou, die twee van ons kan mos ’n proe-contest hou. So kan ons mos seker maak watter een nou die ware wenner moet wees!” “En wie gaat nogals betaal vir die proe-contest, Willempie?” wil Saartjie weet.

Willempie kyk haar gemaak verbaas aan. “Nie ek of jy nie, eintlik moet hulle vir óns betaal. Jy sien, is mos soos ’n service wat ons bied, ons gaat mos bepaal wie nou eintlik die ware wenner in die melktert-stryd is.”

Willempie glimlag van oor tot oor, tevrede met sy verduideliking. Sy glimlag verbreed toe hy sien hoe Saartjie na die yskas stap en nie net een nie, maar twee melkterte uithaal. Saartjie maak vir hulle koffie, en toe sy die bordjies voor hulle neersit lag sy en sê: “Let the contest begin! Val weg, ou Willempie, laat ons ’n einde aan die raaisel maak!”

Waterdigte plan

Ta’ Miems loop ongeduldig af en op in die huis terwyl sy wag dat dit donker word. Sy klap haar tong vererg – dis asof die son ook vandag langer draai om te sak. Sy gaan maak weer seker dat al haar dinge in orde is vir haar plan. Vanaand is die aand dat sy daai klein jesebel ’n ding of twee gaan wys!

Sy gaan alles versigtig deur. Ja-nee, haar plan is waterdig. Saterdag, by die kerkbasaar, sal haar wat Miems is, se naam in ere herstel word. Boonop sal sy die kroon as bobaasbakster van Dulsies kan terugeis. Ta’ Miems uiter ’n opgewonde laggie en slaan haar hande saam: “Jesebel, vanaand kom jy jou Moses tee!”

Dit is pikdonker toe die klein figuurtjie gebukkend om die huis beweeg. Daar hang ’n doodse stilte, amper ’n swanger afwagting in die lug. Die swart figuurtjie is nou by die agterdeur. Versigtig sukkel sy die slot met ’n haarnaald oop – iets wat sy geleer het deur al die speurstories wat sy so graag op televisie kyk.

Toe die deur oopswaai, wil-wil ’n gilletjie van verligting haar keel ontsnap, maar sy onderdruk dit. Stilletjies sluip sy die groot kombuis binne. Nou moet sy net daardie boek in die hande kry . . . Die klein flitsie gaan aan en nou word daar stilletjies deur die laaie gekrap op soek na die geheime wapen: die geheime bestanddele. Uiteindelik kry sy dit!

Die swart figuurtjie is so verdiep in die geheim dat sy nie eens dadelik merk dat die lig aangaan nie. “Hiert, jou maaifoedie! Wat soek jy in my kombuis?” Rika kom ál nader na die swart figuurtjie, koekroller dreigend omhoog.

“Praat! Wie is jy en wat soek jy?” Die swart figuurtjie staan doodstil, yskoud geskrik. Wat nou – hardloop of oorgee? Sy kan tog nie dat die klein merrie weer die oorhand kry nie! Vinnig druk sy die geheime wapen voor by die swart baadjie in, maar as sy wil weghardloop, is die klein jesebel met die koekroller bo-op haar. Sy probeer verniet loskom; haar vermomming word mooitjies afgepluk.

“Ta’ Miems! Wat op aarde . . . Maar wat wil Ta’ Miems dan by my kom roof?” En toe, soos ’n Judas van ouds, glip die boek onder die baadjie uit en lê en glimlag soos ’n verraaier op die vloer.

“My resepteboek? Natuurlik! Ek moes geweet het! Ta’ Miems weet seker wat dit beteken? Noudat my geheim uit is, sal ek tante nou ongelukkig moet elimineer. Maar ek is seker Ta’ Miems sal verstaan – daar kan tog nie twee van ons wees met dieselfde geheim nie!”

Die ou tante se oë rek groot. Wat nou! Wat meen die meisiekind tog? “Elimineer?” vra die ou tante met ’n krakerige stemmetjie. Sy kry skielik spyt en skaam oor haar impulsiewe daad.

“Ja Ta’ Miems! Jy weet, uit die weg ruim, uit die pad kry . . . daai soort van ding. Geen kwade gevoelens nie. Dis net . . . Ta’ Miems moet tog verstaan, ek kan nie my geheim met iemand anders deel nie! So, ek belowe dat ek dit so vinnig en pynloos moontlik sal maak!”

“Maar kind, ek is nog lank nie reg om my Skepper te ontmoet nie.”

“Dan, ta’ Miems, gaan ek die polisie moet ontbied. Hierdie is ’n oortreding wat nie ongestraf mag bly nie.” Ook daarvoor sien Ta’ Miems nie kans nie. Die skande! Nee, dan kies sy maar eerder om die tydelike met die hiernamaals te verwissel.

“Gee my dan maar eerder die doodskoot, meisie. Maak dit asseblief net so vinnig en pynloos moontlik!”

Groot nuus

Rika bars uit van die lag. Dit was ’n goeie ding dat Saartjie haar kom vertel het van die ou tante se vreemde inkopies. Ook dat sy van plan was om vir Rika ’n les te leer – en dit alles oor ’n vervlakste melktert. Sy stap nader en gee die ou tante ’n stywe drukkie.

Later sit sy en die ou tante elkeen met ’n sny melktert en koppie koffie voor hulle en gesels dat die biesies bewe, terwyl hulle resepte en wenke uitruil. Saterdag stap daar nie net een nie, maar twee wenners weg met die kroon en titel as bobaasbakster van Dulsies en die grootste aankondiging tot nog toe word gemaak. Binne minder as ’n week sal daar ’n nuwe winkel sy deure oopmaak in Dulsies.

Ta’ Miems en Rika se fynproewergebak gaan verkoop word uit die Spens.

Santi Kruger (39) woon op Stilfontein. Sy is ’n tuisteskepper en ma vir haar elfjarige seun. Santi het vroeër vanjaar self ’n boek gepubliseer, met die titel Vlinders. Verskeie van haar kortverhale en kinderstories is al in bundels opgeneem.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.