Mike het tydelik in Suid-Afrika gewerk en wou die meeste maak van die kans om in die bos te kuier en dit in te drink vir die dae as hy weer terug in sy land is en terugdink aan die tyd in Afrika. Hy het dus baie uitgesien na ’n naweek op Hope toe hy weer ’n uitnodiging kry.

Hy het Donderdag op Phalaborwa gewerk en sou die Vrydagoggend gholf speel voor hy Hope toe gaan. Sy vriend Etienne het hom egter meegedeel hy sal eers 15:30 se kant by die kamp wees, maar Mike kan homself solank tuis maak. Daar sal ’n huiswerker wees om hom rond te wys.

Mike se gholf was die oggend maar swak – al die seekoeie en waterbokke het sy konsentrasie verbreek. Maar teen 12:30 ry hy by Hope se hek in. Daar is niemand by die huis nie – seker etenstyd – en hy ry aan, want hy weet die kamp is net onderkant die dam, tussen die koppe.

Hoe hy die paadjie misgery het, weet hy nie, maar hy is die kamp verby. Die 1,6 liter-Corolla loop lekker op die goeie paaie en hy besluit om eers wild te kyk voor hy kamp toe gaan.

Hy sien die kameelperde met hul lang nekke en wonder watter soort geluid hulle maak. Daar is ook rooibokke, wildebeeste en sebras. Dis lekker om so alleen rond te ry, maar kort voor lank is dit tyd om kamp toe te gaan.

ONAARDSE GELUIDE

Mike ry en ry, maar kry nie die kamp nie. Die paadjie word al hoe dowwer en kleiner. Hy draai om, soek weer. Hy kry ’n sandsloot en weet hy het ’n vorige keer al hierdeur gery. Hy ry in, maar daar gaan staan die Corolla in die middel van die sloot.

Hy probeer vorentoe en agtertoe, maar niks gebeur nie. Sy opleiding as ingenieur sê vir hom as ’n kar soos dié in die sand staan, beteken dit hy sit vas. Hy begin die sand agter die wiele met sy hande weggrou, maar die kar se maag lê op die sand en hy roer nie.

Dit word gou donker en Mike besluit om maar in die kar te slaap. Hulle sal hom mos kom soek en gou opspoor! Hy moes aan die slaap geraak het, want hy skrik wakker toe ’n hiëna ’n geluid digby die kar maak. Dis iets vreesliks om te hoor en Mike druk sy kop teen die kar se sitplek vas sodat die dier hom nie gewaar nie.

Hy sal sekerlik die deure kan oopbreek as hy so ’n geluid kan maak! Dit raak stil en Mike waag om te kyk. Ja, die ding staan en ruik aan die kar! Hy skrik so groot dat hy per ongeluk die toeter druk. Die hiëna skarrel weg. Ná ’n rukkie is daar ’n nuwe geluid: Wa wa waaaaa, wa wa waaaaa!

Dit móét ’n kameelperd wees, want dit klink na ’n geluid wat uit ’n lang nek kom. Hy raak weer aan die slaap en droom ’n kameelperd steek sy lang nek by die venster in en vreet eers sy klere van sy lyf af, en toe sy vleis. Hy skrik wakker en raak nie weer aan die slaap nie.

Intussen het Etienne by die huis gekom en Mike – en sy goed – nêrens gevind nie. Hy kom seker saam met hul ander vriend, Chris, dog hy. Maar toe Chris opdaag, is Mike ook nie saam met hom nie. Tog vreemd dat hy niks laat weet het nie, maar hy is ’n groot man wat weet waar die kamp is. Hy kom seker die volgende dag, besluit hulle.

Gestrand op die middelman

Toe dit goed lig is, klim Mike uit om die sand agter die wiele en onder die kar se maag weg te grou. Dan moet hy takke onder die wiele pak en ’n pad op takke uit die sloot bou, besluit hy. ’n Ingenieur kan dit doen. Teen 11:00 staan die kar weer op vaste grond – werklik ’n prestasie, en dít sonder enige hulp.

Hy kry die grensdraad en weet as hy daarlangs ry, sal hy weer by die plaashek uitkom waar hy ingekom het. Die paadjie word steil en die Corolla gaan staan, die wiele tollend. Hy ry terug en bestorm die bult met ’n spoed. Met ’n nare skuurgeluid teen die pens gaan staan die kar, al wys die spoedmeter dat hy nog teen 50 km/h loop.

Die kar is netjies opgehang op die hoë middelman! Hy vat sy gholfstok met die grootste kop en langste steel en besluit om die kop uit te klim en te probeer bel. Hy draai onverrigter sake terug, want daar is nie ontvangs nie. Dan moet hy maar met die grensdraad langs lóóp tot by die hek.

Sy denim is warm, maar met die naelknipper se messie maak hy ’n kortbroek daarvan. Hy stap en stap en stap. Teen 12:00 is sy wit, Amerikaanse bene rooi gebrand en sy broek skaaf waar hy hom afgesny het. Al raad is om nog ’n stukkie af te sny. Ná twee ure is dié stukkie been ook rooi gebrand en die soom krap weer.

Hy sny weer ’n stukkie af. Die broek raak al hoe korter. Meteens hoor hy ’n voertuig in die bos. Hy gaan staan stil om te bepaal in watter rigting hy moet hardloop en skree: “Hier is Mike! Hier is Mike!”

Hy is vol moed en ploeg deur die mopaniebosse. Die voertuig hou stil, net om ’n oomblik later weer weg te trek. Mike skree erger as die ondier in die nag, maar helaas!

Plan met water

Hy stap tot waar die voertuig by ’n vlak watergat gaan staan het. Die water is vuil, varke rol daarin en daar lê sebramis teen die kant, maar Mike se lippe bars al van die dors en hy soek vrugteloos na ’n hol ding. Hy vat sy een skoen en trek sy hemp uit, wat hy oor die skoen vou met ’n holte daarin.

Met ’n bak hand laat syfer hy water deur die hemp in die skoen in. Daar gaan nie baie water in nie, en boonop loop dit by die vetergate uit. Bietjie-bietjie drink hy van die “gesuiwerde” water. Weer en weer maak hy die skoen vol. Hy vat die pad met een nat en een droë skoen en volg die vars motorspoor.

Die nat skoen begin skaaf en later brand die blase só dat hy maar die skoen uittrek. Twee uur later kom hy by die kamp aan – met ’n broek kort gemaak tot by sy lieste, bene rooi verbrand, voete vol blase, sy lippe skurf en baie dors.

Almal was baie bly om hom te sien en het hom ’n bier aangebied, maar uiteindelik moes hulle hom hospitaal toe neem.

Egbert Hiemstra is in 1935 op Duiwelskloof gebore as die seun van die eerste boer wat in die Laeveld naby Phalaborwa gaan boer het. Sy oom LW Hiemstra, destyds taalredakteur van Die Burger en Landbouweekblad-rubriekskrywer, het hom geïnspireer om die stories van die Laeveld en die familie se pioniersdae neer te skryf.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.