Buite waai die wind suid. Teen tienuur is die wind reeds wes. Die wind beweeg kloksgewys en nie, soos gewoonlik, antikloksgewys nie. Vanaf November verlede jaar waai die wind snags. Baie wind. Buitengewoon. Dan kom die eerste torpedo-wind teen negeuur. Wat beteken dit? Droogte? Moet die spiraal linksom of regsom draai vir reën? Almal bespiegel.

Terwyl ek in die voerkraal besig is, kom Sonja en Elvis aangestap. Ek staar na die noorde. Soek ’n wolkie. Niks in sig nie. Die hemel kan nie blouer nie. Sy praat, ek antwoord nie. “Waaraan dink jy?” probeer sy weer. “Sommer aan dinge waaraan ons nie veel kan doen nie,” is my antwoord. Baie boere is in die nood. Die droogte kom al sedert 2013 sporadies voor. Wanneer gaan die siklus draai? Almal raai.

Reëntekens

Kom jy op die dorp, wil almal weet wanneer dit gaan reën. Elkeen het sy eie storie oor reëntekens. Die bekendste is koggelmanders wat op hoekpale sit. ’n Bloukopkoggelmander. Hy moet noord kyk, vertel hulle jou. Ek sien koggelmanders. Min sit op pale. Kyk in al wat rigting is, buiten noord. Die wyfies moet glo dragtig wees. Die skaapsonar nader trek? Nee, dit sukkel maar.

Skilpaaie is ook op die agenda. Hulle moet bult-op loop, weg van die vloedwater af. Ek sien baie skilpaaie, maar hulle neuk almal bult-af.

Christo van Brakpoort se korhane wil nie op die walle sit nie. Slange is ook ’n teken. Eers die vinnige slange en dan stadiges wat hul verskyning maak. Ek sien nie baie slange nie. Net die tuin- en die brandslang.

Krismistorre is my teken. Die groot bruines wat hier rondom Kersfees hul verskyning maak. Ek het die afgelope paar jaar slegs enkeles opgemerk. As kinders het ons mekaar Kerstyd daarmee gegooi.

Pa het altyd die mierneste oopgemaak en gekyk hoe ver die vlerkies gevorm is. Hy kon presies sê wanneer dit gaan reën. Ek het amper die hele plaas omgedolwe op soek na miere met vlerke.

My hoop is op Gys die reënsprinkaan. Wanneer Gys snags skree, kan jy maar weet iets gaan gebeur. Ongelukkig het Gys se stem ook stil geword.

Baie tekens, maar niks wys in die regte rigting nie. Dan dink ek weer aan Pa se woorde wanneer dit so droog was. “Die droogte sal verbygaan. Dit sal weer reën.”

Dit gee my moed. Hy is deur verskeie droogtes en dit het nog altyd weer gereën. Moedhou en kophou.

Droogtelesse

Sowat twee jaar gelede vra Leana: “Piet, wat is die grootste les wat jy uit die droogtes geleer het?”

My antwoord: “Moenie te veel diere aanhou nie. Vergeet van besproeiing op ’n Karooplaas.”

Ons ondergrondse water is oor miljoene jare opgebou en nou pomp ons dit uit vir 1 of 2 hek- taar lusern. Pekanneut en uiesaad is die nuutste mode. Ek ys oor die gevolge. Dit is net korttermyngewin. Jou plaas is niks werd sonder water nie.

Sandra bel en sê ou Jan sê die garingbome blom. Oom Kerneels, haar oorlede pa, het in die bome geglo. Dit moet reën. Wanneer sy Merinoramme huis toe geloop het, weg van die ooie af, was hy bekommerd. Ou Jan sal vanmiddag gaan kyk of die ramme wat hulle vanoggend tussen die ooie afgelaai het, op pad is huis toe.

Tannie Lettie, haar ma, laat weet uit die kamer: “Een van die dae is die panne weer vol water.” Sy sal weet. Seker die eerste en oudste boervrou in ons distrik, met 87 somers agter die rug.

Ek laat weet skoonseun Hendry op Kroonstad van die garingbome. Hy wil iets oorkom. Die garingbome is by hulle ook aan die blom en die ou mense glo dit is ’n seker teken van droogte. Dit is vrek droog by hulle en dit sukkel om klaar geplant te kry. Nou weet ek nie meer nie.

Ek hou boek van ons reënval op die plaas. Beskik oor meer as 100 jaar se syfers. Ek wil graag iets daaroor skryf. Sandra laat weet sy het ook meer as 100 jaar se syfers wat ek kan kry. Sy moet hulle net omwerk van duime en punte na millimeter. ’n Groot werk. Ek gaan lank wag. Dalk kry ek dit voor die volgende droogte.

Reën en droogte is deesdae algemene woorde. Mense stel meer belang. Die weer is lankal nie meer net die onderwerp wanneer die geselskap opdroog nie.

Wolke beteken nie altyd reën nie. Iemand wat die weer ken, sien gou die Land Bank en bankrotvliese raak. Hierdie soort wolke se onderrok hang voor middagete uit. Weg. Skoonveld.

Oggendweer, het pa gesê, is soos ’n ou vrou se dans. Dit is gou oor. Ma het dan heftig uit die kombuis laat hoor dat hy van homself praat.

Oggend-, middag- of aandweer. As dit wil reën, sal dit reën. Elke dag is ’n dag nader aan die reën.

Piet Roux boer met skape op die plaas Biega by Prieska.