Hy hoor sy ma vir aandete roep en spring van die klipmuur af. Sy pa kyk op toe hy inkom. Hy draf vinnig sodat niemand sy vuil voete kan sien nie. “Laat ons bid,” sê sy pa toe hy op sy plek gaan sit.

Naaste aan die stoof, waar ’n warmtetjie in die holte van sy rug kan bak. Lekker vars brood ook vanaand, met ’n heuningbruin kors en dik plaasbotter. Hy dink weer aan die vliegtuig terwyl hy smeer. Wie sal hom kan help met die aanmekaarsit? Seker sy ma. Sy sal die dun houtjies en fyn papier net reg kan vat.

“Boetie? Eet jy dan nie, my kind? Wat dink jy so diep?”

“Ag sommer maar, Ma. Ek wonder net of Ma my sal help bou as ek eendag vir my ’n modelvliegtuigie kan koop.”

“Natuurlik, my kind. Ons sal dit uitgepluis kry. Eet nou, toe.”

Ná boekevat gaan hy dadelik kamer toe en klim vinnig in die bed. Hy snuit die kers en lê dan doodstil totdat hy warm en vaak voel. Maandag verkoop hy sy ou kaskar aan Groot Piet, dink hy. Piet kerm al lankal daaroor, en dan is daar darem nog ’n paar pennies by.

KAT MAAK AMOK

Saterdag se wakkerword is vol son en speel, maar hy lê nog ’n bietjie. Vandag moet hy sy kaskar regmaak. Dis jammer van die kar, maar die vliegtuigie is so duur! Amper twee sjielings! Hy hoor sy ma aankom met oggendkoffie en anysbeskuit.

Hy trek die laken tot by sy ken sodat sy nie sien hy het nie gisteraand gebad nie. Toe sy sy koppie neersit, sien hy haar oë is troebel. “Daardie ellendige muskeljaatkat was alweer laasnag by my lêhenne,” sê sy. “Ek wens ek het geweet hoe om die ding permanent te verwilder. Doodmaak wil ek die stomme dier ook nie.”

Sy haal twee vet beskuite vir hom uit die bakkie en draai deur toe om die ander se koffie te gaan gee. Skielik is hy helder wakker. Calla van die kontantwinkel betaal een-en-ses vir ’n muskeljaatkatvel! Dan sal hy oorgenoeg hê vir sy vliegtuig! ’n Bose plan begin broei, maar hy stuit dit dadelik. Soos sy ma sê, die stomme dier . . .

HAMER IN DIE HAND

Die middag sit hy onder die peperboom langs die hoenderhok en werskaf. Alles is stil. Net die wind roer kort-kort in die kalmte. Hy gaan ’n nuwe tou vir die kaskar se stuur aansit en dalk die speke ’n bietjie regbuig en die wiele opvryf. Die hamer lê nutteloos in sy hand. Hy wil graag die tou met omgeklinkte spykers vaskap, maar sy ma en pa rus, en hy mag dus nie raas nie.

’n Geritsel in die lang gras langs die sementdam trek sy aandag. Hy verstar. Is dit dalk ’n bobbejaan? Sy hart klop benoud. Hy sit stiller as ’n muis. Dan sien hy twee kolletjiesore stadig bo die platter bossies vlak by hom uitkom. Wat? Dis die muskeljaatkat!

Die kat gaan staan kiertsregop op sy agterpote, die skerp gesiggie en groot oë soekend totdat dit by die hoenders in die hok vassteek. Die ding moet siek of beseer wees, dink hy. Muskeljaatkatte is nagdiere en baie sku.

Sy vuis klem stywer om die hamer se steel, lig dit stadig en stadiger. Hy gooi. Die kat spring en hy vlieg op en storm nader. Niks. So gedink. Hulle is baie rats. Hy trap-trap saggies verder die diep gras in. Bloed! Verder niks, net nog bloed.

Toe sien hy dit. Die kat lê teen ’n ysterklip langs die besmeerde hamer en die een oog is weg. Die naar stoot tot in sy mond. Om een voorpoot is die oorblyfsel van ’n draadstrik. Die voetjie en kussinkies is pikswart. Dis ’n ma-kat. Haar tieties is dik soos Bella s’n as sy kleintjies het.

Hy vlieg om en hardloop waenhuis toe. Graaf. Hardloop terug. Skep, gooi toe. Skep, gooi toe, gooi nog toe. Gooi álles toe. Hy hurk langs die vaal sandhopie voor hy stadig opstaan en dam toe loop. Sy skouers hang, en hy gaan sit op die wal en laat sy voete in die helder water afsak.

As hy tog net die prentjie van die dooie kat uit sy gedagtes ook kon uitwas. Later sluip hy kamer toe, haal die advertensieblaadjie onder sy kussing uit en skeur dit fyn en flenters. Hy gaan sit op sy bed. Niks wat met bloed gekoop is, kan tog vlieg nie. Nie rêrig nie.

NET MYNE

“Boetie!” Sy ma se stem pluk hom regop en hy hardloop agterdeur toe. “Kyk wat kry ek in ’n gat agter die melkkamer!” Sy het ’n ou handdoek in haar arms. “Daar was twee, maar een is dood. Die ma moes iets oorgekom het.”

Agter by die doek steek ’n gestreepte wolstertjie uit. “Bokmelk sal werk. As ons hom kan grootkry, is ons vir ewig van muise ontslae. Jy sal my net moet help dat ons die hoenderhok digmaak.”

Hy vat die bondeltjie aan, tranerig en bewerig. “Kan hy myne wees, Ma? Asseblief?”

“Natuurlik!”

Die aandwind waai vry deur die veraf bloekoms. Hy lag. “Net myne?”

“Net joune,” sê sy. 

Louise Venter is ’n oudonderwyseres en boer saam met haar man op ’n kleinhoewe buite Polokwane.