Ek was as kind vrek nuuskierig en het lekker ‘tande getel’, soos die ou mense gesê het. Een middag toe ek weer binne hoorafstand was van waar my pa en sy buurman, oom Piet, gesels, hoor ek hoe my pa sê: ‘Jy weet, Piet, ’n vark kneus nie maklik nie.’ Wie kan só ’n storie weerstaan?

My pa vertel hoe hy en sy ander buurman, oom Thys, ’n vark met die bakkie Bloemfontein-slagplaas toe geneem het. Diegene wat ’n vark ken, weet dat ’n vark twee aardige eienskappe het. Eerstens skree dit allerverskrikliks (soos ’n maer vark!) as jy dit hanteer, en tweedens het dit die vermoë om deur baie nou gaatjies uit te kruip.

As jou tralies nie goed is nie, gaan jy probleme op die pad hê.

Dit was toe ook só. Iewers tussen Reddersburg en Bloemfontein besluit Meneer Vark dat hy nie gereed is om die hoogste offer te bring nie, spring op volle spoed van die bakkie af sonder om hom dood te val en hardloop met die pad aan. Nou moet die vark gevang en weer opgelaai word.

Nie hardlopers nie

Om die storie verder te verstaan, moet ek net iets omtrent my Coetzee-familie vertel. Hulle kan nie hardloop nie. Iewers het die voorgeslagte deur evolusie dié vermoë verloor. Pa ry met die bakkie, dan jaag oom Thys die vark totdat albei – oom Thys én die vark – moeg is, maar oom Thys so effens moeër as die vark.

Dan ruil hulle om en pa jaag die vark, terwyl oom Thys bestuur. In dié fase van die operasie rus die vark heerlik uit, want pa se hardloop is ten beste ’n vinnige stappie. As oom Thys dan weer oorneem, is die vark uitgerus en kry oom Thys dit nie gevang nie. Die proses gaan so aan tot daar uiteindelik iemand van voor gekom en hulle gehelp het om die vark te vang en op te laai. Ten einde laaste is die vark by die slagpale gelewer.

My pa sê: “Weet jy, Piet, toe ons daai vark geslag het, het dit nie een kneusmerk van die val gehad nie!” 

Dr. Koos Coetzee is ’n onafhanklike landbou-ekonoom wat voorheen aan die Melkprodusente-organisasie verbonde was. Hy woon in Pretoria.