Die 1950’s was goeie jare vir wolboere – wol het rekordpryse in die ná-oorlogse jare behaal. Die wolboere van die Suid-Vrystaat het in hierdie voorspoed gedeel. Ten spyte van die voorspoed het hulle steeds ’n pennie omgedraai en eerder ’n ander plan beraam as om geld uit te gee, want, soos pa gesê het – hulle ly aan ’n Depressiekompleks. ’n Jaar of wat vantevore het wol teen “ ’n pond ’n pond” verhandel.

In 1955 het my pa besluit dat hy ’n troppie blesbokke wou hê. Landbouweekblad is geraadpleeg en die bokke is van ene meneer Retief op Harrismith bestel – tien ooie en ’n ram. Pa het nie ’n “lorrie” (niemand het van ’n vragmotor gepraat nie) besit nie, en die bokke is per trein van Harrismith na Dewetsdorp se stasie gestuur.

Waar ek in die storie kom, is dat ek toe in sub A was en by my tannie op Dewetsdorp loseer het. My pa het my kom oplaai om saam te ry stasie toe. Ek het die hele Operasie Blesbok dus eerstehands beleef.

Op die stasie was die treinwa met blesbokke ’n groot bron van belangstelling vir die stasiepersoneel – van die stasiemeester tot die kruiers en portiere. Hulle het allerhande kommentaar oor die wa met bokke gehad.

Trekker en wa

Ek het reeds gesê dat pa nie ’n “lorrie” besit het nie – vee wat verkoop is, is gewoonlik die 20 myl (32 km vir dié wat nie weet nie) dorp toe aangejaag. Jy kan blesbokke egter nie aanjaag nie.

Of eerder, jy kan blesbokke aanjaag, maar hulle gaan nie by die bestemming uitkom nie! Daar moes ’n ander plan beraam word om die bokke by die huis te kry.

Dit is hier waar ons trekkerbestuurder, Soldaat, en die John Deere A, daardie een met die nou voorwiele wat die boere “roukrop” genoem het, nader getrek is. Die sleepwa is van tralies voorsien, met sifdraad toegespan en bo-oor dit alles is daar ’n bokseil getrek.

Soldaat en die ander twee plaaswerkers, Piet en Briefie, het opgedaag met die John Deere en sleepwa, en langs die treinwa ingetrek. Hulle was half skrikkerig vir die bokke, maar met genoeg aanmoediging is hulle op die wa en is die eerste bok gevang en op die sleepwa gelaai.

Boer maak ’n plan

Die bokke was natuurlik verbouereerd van die treinrit en rumoer op die stasie. Die eerste bok het onmiddellik opgespring en met sy horings ’n gat in die bokseil gesteek. Dit is hier waar die vindingrykheid van ’n boer ter sprake kom. Pa het die bok op die treinwa laat terugsit en gesê almal moet net daar wag – hy is nou terug.

Pa was gou terug – met ’n bottel brandewyn in die hand. Hy het ’n leë koeldrankbotteltjie daar op die stasie opgetel om die bokke mee te “doseer”.

Ek onthou goed hoe pa so ’n tweevingerbrandewyn in die koeldrankbottel gegooi en vir die stasiememeester, wat steeds ’n getroue toeskouer was, gevra het of hy dink dit is genoeg.

Die stasiemeester het pa heeltemal verkeerd verstaan. “Nee dankie,” het hy gesê. “Ek wil nie nou iets drink nie. Ek is aan diens. Liewers later!”

Elke bok is ’n goeie dop brandewyn ingegee en rustig op die sleepwa gelaai. Hulle is veilig op die plaas afgelaai en die kudde het later tot 50 bokke uitgebrei.

Dit was egter die wildste blesbokke in die land. Ek het altyd gedink dat hulle so wild was omdat hulle nie weer vir die rit met die trekker en wa kans gesien het nie. 

Dr. Koos Coetzee is ’n onafhanklike landbou-ekonoom wat voorheen aan die Melkprodusente-organisasie verbonde was. Hy woon in Pretoria.