My telefoon lui met ’n onbekende nommer op die skerm. ‘Lanie, ek bel net om te sê Oupa Hans is vanoggend oorlede.’

Ons het die nuus een of ander tyd verwag, maar steeds ruk dit my besige dag tot stilstand en ek dink terug aan die klein, fyngeboude, jong Boesman wat by ons begin werk het toe ek nog ’n seuntjie was. Tipies Boesman het die plooie vinnig opgehoop soos die jare aangestap het. Dekades later het hy algemeen bekend gestaan as Ou Hans van Samehaling.

Hans het nooit skool gegaan nie, kon nie lees of skryf nie en het nie ’n geboortesertifikaat, verjaardag of ouderdom gehad nie. Tog het hy nie ’n fout met ’n skaaptellery gemaak of enigiets vergeet nie. In vierde rat op spoed op ’n plaaspad, het Hans se twee vinnige kloppe op die dak jou ingewande laat ruk, want hy het nie ’n jakkalsspoor gemis nie. Op ’n jakkalsspoor het hy gedraf, die perderuiters agter hom moes kort-kort op ’n kort galop trek.

Een someroggend het hy met die ou kortgat Land Rover gaan lek gooi en drie-uur die middag met ’n dooie rooikat agterop kom stilhou. Hy het die vars spoor gekry, die Land Rover gelos en die spoor gevat. Al is rooikat se kind hoe wakker, het hy hom tussen die plat driedorings bekruip totdat hy hom met ’n dropper kon bydam.

Al kon hy nooit ’n rybewys kry nie, was hy gesout met trekker en lem, Land Rover, motorfiets en selfs lorrie en sleepwa. Nadat ek my swaarvoertuigrybewys gekry het, het my pa genoeg van sy bemarking, wat hoofsaaklik in Maitland, Kaapstad of City Deep, Johannesburg was, vir vakansies gebêre. Ou Hans en ek het dae en nagte in ’n 1213 botterneus Mercedes-lorrie en wa, wat hopeloos te swaar vir die lorrie was, om gesit. Met die terugkom het ons gewoonlik mielies by Vryburg of sement by Piketberg gelaai.

Die ou 1213 het nie aircon, slaapbank of spoed gehad nie. Ek onthou hoe lekker ek een Desembernag deur Namakwaland agter op die sement lê en slaap het terwyl Ou Hans volle beheer met sy klein, fyn armpies en sewe vingers (hy het drie in die hammermeul verloor) oor die totaal oorlaaide 1213 behou het. Dank die Here ’n band het nooit gebars nie.

Besoek aan Kaapstad

Met een van die Kaapstad-trips het ek ’n ekstra dag gevat en hom die Goue Akker en die see gaan wys. Ons het langs die N2, reg oorkant Kaapstad Internasionale Lughawe se aanloopbaan stilgehou en na ’n paar vliegtuie gekyk wat geland en opgestyg het.

By die Goue Akker het ons op die dakparkering stilgehou en met die hysbak in die sentrum ingegaan. Terug by die huis het hy vir die ander vertel van die wonderlike deur. “Hulle skuif toe en as hulle oopskuif, is jy op ’n ander plek.”

Dood soos hy geleef het

Ou Hans was lief vir wyn. Dit het hom in baie moeilikheid gebring, maar hy het altyd berou gehad en hy en my pa het altyd weer vrede gemaak. Hy het geglo hy moet betaal vir sy sonde om dit te kan vergeet. Hy was die baas van die tuin en baie oggende, toe ons nog in die somer buite geslaap het, het ek iewers tussen drie en vier wakker geword van die besproeiingskraan wat oopgaan en die water wat begin loop.

Ek het net twee keer trane in sy oë gesien. Met my pa se begrafnis en toe ek die nuus aan hom oordra dat hy nie oupa geword het nie, maar dat sy dogter en enigste kind tydens die bevalling oorlede is.

Ou Hans het ’n klein aftreepakket opgebou. Hy kon huis koop en het ’n pensioen gehad. Sy vrou was baie jonger as hy en ook lief vir wyn. Sy het hom later gelos. Gisteroggend het hy die lewe, op ’n onbekende ouderdom, verlaat soos hy dit gelewe het, met min bagasie. Ou Hans se wêreld was klein, soos sy bou, en min mense het hom geken, maar hy het diep spore in dié wat hom wel geken het, se harte gelos. Rus in vrede, ou Hans. 

Pieter van Schalkwyk is ’n veeboer van Aroab in Namibië.