My verantwoordelikheid is gewoonlik om sy pride and joy te was tot hy blink, maar vandag het ek tyd vir ’n ordentlike service, en my 14-jarige hande jeuk om te kyk wat binne-in die carburettor aangaan. ’n Mooi, blink, ronde stuk yster met ’n kabel gaan bo-in die stuk masjinerie. Nou verstaan ek – die kabel trek die ding op of af vir meer of minder petrol!

Die yster moet teruggaan na waar hy vandaan gekom het, maar dit skop vas. Met ’n gesukkel forseer ek die ding in en maak dit weer aan die bokant vas. Pa kom neem stelling in langs sy fiets. Eers sit hy sy valhelm op en trek dan die handskoene aan. Hy lyk vir my na ’n man wat gaan parte aflewer, met die valhelm wat so ver agtertoe gestoot is, maar op 14 hou jy jou mond.

Twee skoppe vir ’N start

Die Yamaha 360 is ’n motorfiets wat ongeskik kan raak. Om dit aan die gang te kry, moet jy skop om te skóp. Vir elke twee skoppe, skop hy een terug. Gewoonlik vat die enjin ná die tweede skop. Pa begin warm onder die helmet raak en begin ander tale praat. Dis al amper halfdrie en sy vrind wag vir hom!

Frustrasie neem oor en die fiets kry ’n loesing wat hy nie gou sal vergeet nie. Die arme petroltenk en Pappie se hand sê les op. “Gaan soek ’n tou en bring die lorrie!” blaf hy.

Pa maak die motorfiets aan die vaal Land Rover vas. Ek kry opdrag om te bestuur, en daar gaan ons af in die plaaspad. Eerste rat, tweede rat . . . ons is mooi op spoed, maar die Yamaha sê net “prrrrr”. Ek kyk om en Pa beduie met mening: “Vinniger, vinniger!” Kort voor derde rat hoor ek skielik ’n helse gebrul hier agter.

Een oomblik is Pa nog in die truspieël te sien, maar die volgende oomblik verdwyn hy agter die Land Rover. Met al my mag spring ek op die remme dat die wiele gly. Die Yamaha lê en skree teen die lyndraad, met Pa kruipend agterna om hom van sy pyn te verlos. Die stof begin lê en Pa kyk rond asof hy in ’n vreemde land is (nie die tipe wat geploeg word nie).

Sy stukkende kniekoppe en verrinneweerde fiets laat hom diep beswaard, maar hy staan op en tel die fiets op. “Los die @#$/& lorrie en kom help my stoot!”

Ons sukkel-sukkel die eerste bult uit. Die motorfiets is swaar en Pa se geduld is min. Net voor die laaste bult pas Pa noodhulp toe op sy knieë. Die bloed loop al by sy nuwe Grasshopper-skoene in. Uiteindelik is ons terug waar ons begin het, en maak die motorfiets staan. “Gaan haal die lorrie en kyk of jy nie my bril sien nie!” en weg is hy huis toe.

Wat het skeefgeloop?

Ek gaan haal die Land Rover en stukkende bril en hou langs die silwer motorfiets stil. Wat het skeefgeloop? Hoekom het die enjin so gebrul? Skielik gaan daar ’n liggie aan (nie die motorfiets s’n nie). Daai stuk yster wat so moeilik ingegaan het, moes dalk makliker ingegaan het.

Ek maak die carburettor oop, haal die yster uit en bekyk dit. Daar is ’n klein gleufie aan die een kant wat vermoedelik ’n doel het. Sonder enige mishandeling gly die ou silindertjie in plek. In my verbeelding sien ek die tevredenheid op die Yamaha-tegnikus se gesig.

Sondagmiddag kom Pa na my toe. “Jammer ek was so ongeduldig, my kind. Kom ons probeer weer die motorfiets aan die gang kry.” Met die tweede skop start hy. Eers ’n week later, toe almal rustig is, vertel ek vir Pappie wat gebeur het.

Henk Buytendag is ’n afgetrede boer van Oos-Londen. Hy reis graag en is lief vir musiek.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.