Natuurlik het die oom wie se bakkie so ’n rukkie gelede die been van ’n windpomptoring afgehardloop het nadat hy vergeet het om die handrem op te trek, die bynaam Boetie Windpomp gekry. Hy het sy Ford Ranger geparkeer op wat hy gedink het is gelyk grond, terwyl hy gou gaan kyk het of die pomp – slegs 15 m verder af in die paadjie – water gooi.

Hy was skaars daar toe die bakkie, sonder bestuurder, reguit op hom en die windpomp afpyl. Met behulp van die bure en hul laaigraaf kon hulle darem weer die windpomp, wat nou skuins oor die bakkie se enjinkap gehang het, staan maak deur die stukkende been met ’n ysterpaal en draad te stut.

Maar die R20 000 skade aan die bakkie se neus en modderskerm moes deur ’n geakkrediteerde paneelklopper herstel word voor die assuransie sou uitbetaal. En daar is nie meer sulke ambagsmanne op klein dorpies nie – al is daar baie agterplaas-werkswinkels wat redelik goed kan duco.

Met die gesels oor dié sake vertel ’n ander oom van sy dorp se laaste bloubloed-paneelklopper – ’n man wat destyds se harde karre (wat nog staalbuffers voor en agter gehad het) met ’n hamer kon regslaan. Daar was nie die luukse om sommer die nodige panele te bestel en hulle dan net aanmekaar te plak nie.

Selfs die verf het deesdae ’n probleem geword, want daar is glo 50 skakerings van wit, wat nog te sê van al die ander kleure.

Destyds het jy maar die basiese kleure self gemeng en niemand het gekla nie. In elk geval, die paneelklopper en sy vrou was ou inwoners van die dorp; gawe mense wat maar ’n eenvoudige bestaan gevoer het.

Die verste wat die tannie ooit van haar huis af was, was om oorkant die straat brood te koop. Die ou se oorpak het al styf gestaan van al die duco en sy bors was ook nie meer so lekker van al die lood inasem nie. Hulle het egter ’n op-en-wakker dogter gehad wat alleen deur Europa geryloop het voordat sy, terug in Suid-Afrika, met ’n siviele ingenieur getroud is.

Só het die dogter in hoë sosiale kringe begin beweeg – soveel so dat sy vir haar ma ’n uitnodiging kon kry na die jaarlikse teepartytjie van die burgemeestersvrou van ’n naburige stad. Destyds was dit werklik ’n deftige affêre – net die room van die samelewing was welkom.

Wat om aan te trek?

Terwyl die dorp se vroue haar beny het, of selfs erg jaloers was op haar gelukkie, moes sy vinnig haar uitrusting vir die spoggeleentheid beplan en agtermekaar kry. Haar skoonsuster het saamgestem dat haar lang, vlootblou nagmaalrok goed genoeg was, maar dat sy beslis bypassende skoene en ’n hoed sou moes aanskaf.

Daarvoor was daar nie geld nie. Toe kom haar paneelklopperman met die plan om haar ou velskoene en pap, breërandhoed blou te duco. Hy het pas ’n Fargo-bakkie oorgedoen, en daar het net mooi genoeg verf oorgebly vir twee dun lae om die bykomstighede te skep.

Toe alles droog is, was die tannie heel tevrede voor die spieël – blou van kop tot tone en reg vir die hoge tee. Die dogter het die vorige aand al kom oorslaap sodat hulle vroeg kon ry en betyds wees vir die groot dag.

Onweer slaan toe

Onder die palmbome in die burgemeester se groot tuin het dinge aanvanklik goed verloop, met tafeltjies vol lekkernye en kekkelende vroumense. Dit was ’n aangename oggend, sonder ’n windjie of wolkie in die lug. En toe, uit die bloute uit, rol mis uit die see uit en dit begin reën, met die gepaardgaande haelkorrels so groot soos albasters.

Binne sekondes het die grênd gaste se papnat hoedens oor hul gesigte gehang, met maskara en ander aanplaksels wat oor hul wange stroom. Net nie tant Pietie van die Karoo nie. Daai harde duco-gepantserde breërandhoed het minstens haar bolyf teen die water beskerm.

Mense wat naby haar verbygehardloop het op soek na skuiling sê dit het geklink soos ’n storm op ’n sinkdak. Wanneer ’n haelkorrel die tannie se hoed tref, het dit net “ge-pieng” en weggeskiet. Dis nie seker of tannie Pietie ooit weer die hoed gedra het daar in haar droë wêreld nie, of wat van die blou vellies geword het.

En ook nie of dit ’n ware storie is nie.

Roelof Bezuidenhout is ’n boer en vryskutskrywer van Steytlerville.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.