Oupa se plaas het ook ’n watervoor gehad. Van die dam af het dit deur ’n vlei geloop, verby die populierbos, daarna voor die plaasopstal verby en dan na die landerye waar dit deur die kanale wat na die lande geloop het, gelei is. Die kanale is oop- of toegemaak met grawe en skoffels of staalplate wat op- of afgelig is na gelang of water toegelaat is of nie.

Vir die plaasmense was die watervoor ’n lewensaar, maar vir ons dorpsjapies was dit ’n bron van ontspanning. Vir ons kinders was die watervoor ’n heerlike speel- en swemplek. Soms, net soms, het dit tot konfliksituasies gelei as ons die voor besoedel het met ons projekte of die walle beskadig het met uitgrawings vir “bomskuilings” en grotte vir “Cowboys and Indians”.

Seilbootjies is gemaak van mieliestronke, boomtakkies, riete, hoender-, gans- of kalkoenvere en dan is die “bote” aan die boloop ter water gelaat. Dié wat nie omgeslaan of gesink het nie, het dan stroom-af geseil tot by die vooraf gemerkte “wenstreep”.

Dit het ons ure se genot verskaf. Totdat die eerste kluite op mekaar se bote gereën het om te verhinder dat die ander ou se boot wen. Wanneer dit genoeg gereën het, kon ons selfs babers in die voor vang.

Siepsop braaiboud

Ek onthou een insident waar die watervoor tot ’n drag slae gelei het. Ek wou altyd predikant word toe ek ’n kind was. Soos kinders maar is, besluit ek en nefie dat Ouma se lêhenne name moes kry.

Die natuurlike ding sou wees om hulle te “doop”. In die watervoor. Toe vang Oupa ons, haal sy leerbelt af, en raai wat, dit was die laaste van gedoopte hoenders.

Terwyl ek oor die watervoor skryf, vertel my ma ons ’n staaltjie oor die einste watervoor. Ons gesin het op die plaas gaan kuier en ek was nog in doeke. Soos wat dit maar gaan met ’n baba in doeke, het ek ’n glips gehad net voor ons afklim.

Oupa wag my met gestrekte arms in, maar Ma waarsku hom oor die ongeluk in my doek. Dadelik tree Oupa terug en sê: “Vat hom verby watervoor toe, vat hom verby watervoor toe!” Kleinboet, ook nie links nie, sê: “Dankie, Oupa!”

Só gesê, só gedaan.

“Vat hom verby watervoor toe,” nogal. “Dankie, Oupa,” nogal. 

Willie Havenga het op Cullinan (Bronkhorstspruit) grootgeword en is met Anne-Marie getroud. Hy hou motiveringspraatjies. Willie kom uit ’n boerdery-familie en “boer” al dertig jaar in Landbouweekblad.