Die stofwolk verskyn op die horison. Die wildvangspan is in aantog.

’n Vragmotor vervoer die vangnette en toerusting. Die motorfietse is agterop ’n sleepwa. ’n Skeeloog Ford F100 en ’n ou 2.2 Isuzu-diesel is deel van die groep.

Skaars gestaan, of die enjinkappe is oop. Hier en daar borrel rook uit.

Die eens wit Ford is groen deur die driedorings gekrap. Sy voorwiele lê wydsbeen na buite. Skeeloog, neus in die grond bekyk hy die wêreld. Die enjinkap is met toue vas. Dik toue.

Die Isuzu lyk moeg vir die wêreld. Sy bestuurder is Pick-en-choose. Picka, noem sy mense hom. Ou Picka het net een oog. Die bakkie net een lig. “Sien, meneer. Ons twee loop saam,” verduidelik hy. Hy wys met twee vingers bymekaar. “Ons is die one lighty van Wielpan,” lag hy uit sy maag.

Om goed te sien, is vir hom nie ’n probleem nie. “Hoe skiet ’n mens met ’n geweer?” wil hy weet. Voor ek kan antwoord, sê hy: “Jy korrel met hom. Dit is hoekom ek beter as julle kan sien, ek bly aan die korrel.”

Pick-en-choose is haastig. Die goete moet gou ge-service word. Kyk hoe smaak Koos Vos weer vanoggend, waarsku hy. Hoor hoe druk hy op. As die ou kêrel sê nou, dan is dit nou ... Hier lê nou vir jou werk, maak hy dit duidelik. Nie moeilik om te sien nie! Hy gee ’n benoude fluit deur sy haasbek. “Wag, laat ek net gou my zol brand maak.” Kyk hoe staan die rygoed, wys hy. Almal flenters! Dit maak hom moedeloos. Hondas, Kawasaki’s en Suzuki’s, noem maar op.

“Elke dag ’n nuwe drywer. Net vanoggend moes ons weer twee mannetjies leer motorbike ry. Nee, die goed kannie hou nie, die drywers is te rof. Ry en val die hele dag lank.

“Het meneer al gesien hoe gooi ’n bike? Dissie soos ’n perd nie, hy gooi om dood te gooi. Van yster gemaak, nie van vleis nie, meneer!”

Hy raak haastig, want gewoonlik start net die helfte van die fietse. Dit gee ’n helse gestoot af voor so ’n vangery. Die fietse sonder brieke ry voor. “As ’n bike ge-start het, moet jy hom aan die gang hou, anders loop hy nooit weer daardie dag nie,” waarsku ou Picka. “Bring daai oliekanne, die goete is dors,” roep hy.

Tingies, sy seun, help hom. Hy het juis gister bitter lelik geval met een van die fietse. Het lank dood gelê voordat hy bygekom het. Hulle moes sy kop ’n paar keer skud om te kyk of hy nog lewe. Intussen is die manne besig om die nette op te stel. Die bokke moet windop ingejaag word. Almal is bekommerd dat die wind dalk gaan draai, want dan moet die nette weer verander word.

Ek en my plaasmanne lê voor by die nette om te help toemaak as die bokke kom.

Gereed, aksie . . .

Die manne laat weet per radio. Die aksie begin. ’n Toneel uit die Wilde Weste speel voor ons af.

Dit is net stof en rook. Die Ford draf voor. Maak pad deur die driedorings. Dit reën driedoringtakke op die voorruit. Die Isuzu kan nie byhou nie. Gou-gou is hy heel agter.

Die motorfietse kerm en kla, oop en toe. Die Ford kom mooi. Een van die toue op die enjinkap het losgekom. Die een kant van die enjinkap staan in die lug. Lyk soos ’n bladsy wat halfpad omgeblaai is.

Die bokke begin uitmekaar hardloop en is nie meer in lyn met die nette nie. Die voertuie pyl nou op die nette af. Ons lê in vrees en bewing. Die manne moet nou hul ry ken, anders gaan iemand seerkry. Die voorste fietse skiet verby met ’n uitasem Ford kort op hul hakke. Ver agter in die vlak kom die Isuzu’tjie al proesende aangedraf. Van die motorfietse word reeds gestoot.

Darem vyf bokke in die nette. Koos gooi ’n wilde paar wilde esse met die Ford voordat hy hinkepink in ons rigting ry.

Voorraad word opgeneem. Die Isuzu is reeds besig om die gesneuweldes op te laai. Niemand ernstig beseer nie. Hulle weet hoe om te val.

Dit is ’n groot organisasie om die spul weer aanjaag-gereed te kry. Stoot-stoot begin hulle voor. Nog ’n paar bokke word die dag gevang. Sonder enige noodlottige gevolge.

’n Paar van die motorfietse sal wel nooit weer loop nie. 

Piet Roux boer met skape op die plaas Biega by Prieska.