Die huidige trae ekonomie en die winsgewendheid binne die landbou het talle mense moedeloos en op ’n morele laagtepunt. Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het dit baie mooi opgesom in sy onlangse basislynvooruitsig: “Ná verskeie jare van langdurige groei het die tyd ná 2015 ’n werklikheidstoets geword vir die Suid-Afrikaanse landbou.”

As daar na die basislyn en vooruitsigte gekyk word, lyk dit nie of daar vinnig drastiese veranderinge in sig is nie. Nietemin het die buro dit duidelik gemaak dat die kurwe wel kan opdraai as die regte belegging gemaak word en goeie beleidsbesluite dit ondersteun.

Maak plan op allerlaagtepunt

Dit het my laat dink aan hoe produsente al deur die verskillende superproduksiesiklusse gekom het. Waar gryp en hou ’n mens vas aan die laaste grashalm van hoop? Daar is ’n onbesonge held in Suid-Afrika van wie min mense weet, naamlik Joey Evans. Hy is ná ’n motorfietsongeluk verlam. In die hospitaal het hy om hom gekyk en gesien hoe van sy medepasiënte moed opgee en nie verder wil veg nie.

Net daar het hy besluit hy gaan nie tou opgooi nie. Hy het vir homself ’n buitensporige doelwit gestel. Dit was om sy droom te bewaarheid om die Dakarwedren te voltooi. Ná tien jaar is hy deur verskeie operasies en intense rehabilitasie, met heelwat hoogte- en laagtepunte, soortgelyk aan kommoditeitspryse en droogtes. Nie net het hy weer geloop nie, maar ook aan die Dakarwedren deelgeneem. Wel sonder gevoel in sy bene, maar fiks genoeg om die wedren te voltooi.

Elke dag het Joey 22 uur op die fiets gery en op die tweedelaaste dag, die laaste amptelike tydrendag, het ’n motor oor sy fiets gery. Dit was ’n oomblik van rockbottom. Tien jaar se huil en harde werk tot niet. Talle produsente voel asof hulle presies op daardie plek is.

Wéér het Joey nie opgehou nie. Hy het teen ’n stadige pas voortgebeur en ná ’n paar kilometer op die fiets van ’n ryer afgekom wat beseer is. Hy kon dit herbou en daarmee die wedren voltooi. Joey het twee leuses wat hy toepas: “Jy het nie so ver gekom om net só ver te kom nie”, en “Death before DNF (did not finish)”.

Veelsydige leerskool

Joey het my laat dink aan ons land se boere wat verskeie kere in die geskiedenis deur droogtes, siektes en plae is. Boere wat nog altyd vasgehou het aan hoop wat geanker is in geloof. Produsente wat gebore is om boere te wees. Een van my kollegas het dit baie mooi opgesom: “Daar is nie ’n boer wat sal sê dat hy als weet nie. ’n Mens word elke dag met iets anders verras en leer ook deurentyd nuwe dinge.”

’n Boerdery is ’n veelsydige leerskool, een waar jy oor grondkunde, plantproduksie, biologie, geografie en topografie leer. Daarbenewens maak die mense wat saam met en vir jou werk dat jy meer oor sielkunde, menslike hulpbronne, medisyne en maatskaplike werk leer.

Jy leer van voedsel en die natuur se waardeketting, van lewe en dood en van plant en oes. Jy leer om te voorsien, planne te beraam, te bestuur, te regeer en te dien, asook om te deel en te ontvang. Dit is ’n skool met ’n oop sillabus – die kurrikulum ontwikkel soos die toestande verander. Jy “skryf” nie net een eksamen per jaar nie, maar jy word elke dag getoets. (Ruan Schutte, “Graan jou wel”, 2019.)

Dit is een van die vele redes waarom die landbou nog altyd bly staan het. Dit is die rede waarom die sêding van ’n boer maak ’n plan ontstaan het. Die feit dat produsente soveel verskillende beroepe/hoede op een dag moet dra, maak dat hulle elke keer van rockbottom kon opstaan en vorentoe kon beweeg.

Boerdery is deel van ’n spel wat lewens verander, dit is ’n voorreg en ’n groot verantwoordelikheid. Dit is om nuwe planne te beraam, deernis te toon, groot te dink, maar altyd nederig en dankbaar te wees. Die ankertou is ons geloof en die rots is ons hoop. Geloof is ’n strategie, wat jou in posisie plaas om nuwe planne uit te dink.

Moenie hoop verloor nie – die landbou het nog altyd lewens verander en verryk. Bly staan, ongeag wat, en moenie die handdoek ingooi nie. Hou aan lewe en onthou die volgende: Moenie oordeel nie, wees altyd vriendelik, maak seker dat jou dienskneghandboek groot en goed gebruik is.

As jy iets doen, doen dit op die regte manier. Dit is nooit verkeerd om die regte ding te doen nie. Soek op daardie onwaarskynlikste plek vir wysheid – en soek elke dag na daardie wysheid. Die belangrikste is om te onthou: “Jy het nie so ver gekom om net só ver te kom nie.” 

Dr. Dirk Strydom is bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA.