Koos en Org was lank oujongkêrels en het eers laat in hul lewe met twee Namakwalandse vroue getrou. Toe hulle jonger was, was hulle katvoet vir die skoner geslag, maar toe besluit ’n stoute vabond om vir Koos ’n poets te bak.

Hy skryf toe, sonder Koos se medewete, aan By die Opsitkers in Landbouweekblad, en verskaf sy ouderdom en adres asook sy sobere gewoontes. Koos het skoon die ritteltit gehad toe hy by die poskantoor op Garies kom en Vet Ria die bondel briewe vir hom gee.

Eers wou hy niks met die besigheid te doene hê nie, maar Org en Grieta het hom aangemoedig en só het hy later die briewe gesif en op Martie Stander, ’n onderwyseres van Brits, besluit. Met haar eerste brief het sy ’n foto van haarself aangestuur en sy het na ’n aanvallige jong vrou gelyk.

Op haar aandrang het hy vir haar ook ’n foto van homself gestuur waar hy op sy ryperd sit. Hy het by die slim mense probeer uitvinne waar Brits in die wêreld is en het mooi gehoor dit lê anderkant Moerlandsvlei. Deur die briewe het hulle mekaar beter leer ken en uiteindelik besluit dis tyd om te ontmoet.

Lang pad Transvaal toe

Hy het die vorige jaar al sy spaargeldjies bymekaargeskraap en vir hom ’n nuwe Austin-bakkie by Malherbe’s Garage op Garies gekoop. Hy en broer Org het mekaar op die Groenrivierpad leer bestuur. Op ’n môre het hy Garies toe gery om te gaan uit-pass.

Oom Petrie Malherbe het gelukkig ná ’n paar vermanings vir hom sy lisensie gegee.

Nou wou die nooi hê hy moet kom kuier en dit was vrek ver. Vry is ook nie ’n werk waarvoor jy ’n ander man kan stuur nie. Hy het eers probeer weglê vir die lang en onbekende reis, maar broer Org het hom aangemoedig.

Koos het later moed bymekaargeskraap en beplan om vir omtrent agt dae weg te breek, want die nooi se briewe het al warmer geword en hy het besef hy moet maar deurdruk om nie ’n skande te maak nie. Hy het sy kisklere ingepak, die Austin gereed gekry en die lang pad Transvaal toe aangepak.

Dit was drie dagreise ver en hulle het afgespreek om mekaar by Paul Kruger se standbeeld in Pretoria te ontmoet. Daarvandaan sou hulle agter mekaar Brits toe ry. Op pad het daar baie vrae deur sy kop gemaal.

Sal hy ooit daar uitkom? Sal hy haar in ’n groot plek soos Pretoria kry? Hy het gehoor Pretoria kan maklik vir Garies, Bitterfontein en dalkies vir Nuwerus ook insluk.

Sal hy nie in die ander motors vasneuk nie? Suster Grieta het hom hoeka van die tog afgeraai, want sy was bang hy kom bedroë daarvan af. Soos die Austin die swart pad opgevreet het, het hy by byna elke dorp verneem of hy nog op die regte pad was. Koos het eensaam en verlore gevoel toe die mouters vir hom begin toet en by hom verbyjaag.

Toe hy uiteindelik Pretoria inry, was hy sopnat gesweet en heeltemal verbouereerd. Hy was so bevange vir die verkeer dat hy net gesorg het dat hy al agter die ander motors aanry en stop wanneer hulle stop. Hy het heelpad uitgesien om die nooi te ontmoet, maar nog nooit in sy lewe het hy so ’n vrees gehad dat die busse hom sou doodry nie.

Daar tussen die gedreun van die motors, met sy swetende hande styf om die stuurwiel geklem, het hy gesmeek: “Heretjie, help tog dat ek eendag weer heel op Tweerivier kom!” Dit was asof sy gebed verhoor word, want eindelik sien hy vir oom Paul ’n entjie voor hom staan.

Hy het stilgehou en verward rondgekyk, terwyl mense haastig verby hom gestap het sonder om hom te groet. Hy glimlag verlig toe hy die rooirok-vrou sien staan soos hulle afgespreek het. Hy het opgewonde vir haar met sy hoed gewaai en tegemoetgestap. Hulle het besluit om eers ’n koffietjie te drink en iets te eet voordat hulle verder sou ry.

Moeg en afgemat het hy op die stoel gaan sit en dit het gevoel soos ná ’n week se vermoeiende trek te voet met hulle markveetjies Bitterfontein toe.

Sy het hom uitgevra na die reis, maar hy het net kort-kort die sweet met sy kakiesakdoek van sy voorkop afgevee en kon glad nie die smaak van die koffie kry nie. Toe hulle daar wegry, het dit omtrent gelyk of sy hom tou, want hy het vas teen haar motor se bumper gebly tot in Brits.

Toe hy sy Austin-bakkie by haar huis intrek, het daar ’n salige gevoel oor hom neergedaal en hy het die Liewen Vader innig gedank dat hy uitgespaar gebly het. Terwyl sy vir hulle koffie gemaak het, het hy stilletjies haar ghrênd huis deurgekyk.

Alles blink en toe hy gaan sit, wieg die stoel so vinnig agteroor dat sy mond sommer vanself oopval. Toe hy later die aand in die kooi tussen die spierwit lakens lê, het hy aan hul ou huisie op Tweerivier gedink.

doen dinge binne

Hier, het hy gesien, doen hulle dinge binne die huis waar hulle dit op die plaas buite doen. Sy druk net ’n knoppie en dan skyn daar ’n lig, en die stoof werk ook so. Op Tweerivier moet hulle met kerse en lanterns werk, en hy het met ’n vuurherd grootgeword.

Onwillekeurig het hy gedink aan die boerbrode wat Grieta elke week vir hulle in die buite-oond bak . . . skielik het sy mond begin water. Die volgende paar dae het die kuiery heel skaflik verloop. Dit was nie lank nie of hy kom agter dat sy ernstig raak en haastig is om te gaan kyk waar hy woon.

Hoewel sy hom geval het, het hy eers die kuierstorie doodgepraat, want hy het geweet hoe eenvoudig hul ou plekkie was. Sy was duidelik aan ’n beter lewenstyl met al die stadsgeriewe gewoond. Die Saterdag het hulle tot laataand gesels en sy het hom aanmekaar uitgevra oor die plaas.

Hy moes haar vertel van die karakoelskape waarmee hulle boer en hoe droog dit sommige jare kan wees. Sy was opgewonde om vir hom te kom help tuinmaak om Tweerivier se huis en wou weet van watter blomme hy hou. Toe moes hy verduidelik dat daar net brakwater in die Sandveld is; die enigste vars water is die reënwater wat opgevang word en dié is net vir huisgebruik.

Die Sondagoggend toe hy opstaan, verlang hy na Tweerivier en sy mense. Aan die brekfistafel sê hy vir haar: “Martie, die kuiertjie was nou gaaf, maar ek reken dat ek maar Maandagoggend vroeg weer in die pad moet val.” Sy was erg verontwaardig, want sy het dan so uitgesien daarna dat hy nog ’n paar dae moet vertoef.

Sy het toe maar besluit om ’n groot middagete te maak, aangesien dit hul laaste middag saam sou wees. Toe hulle gaan aansit, sien hy daar lê eetgereedskap vir ’n paar mense, maar net twee borde is gedek. Langs die borde lê ook wit gestyfde servette so groot soos babaluiers.

In hul briefwisseling het hy agtergekom dat sy ’n musieklike mens is, en hy het die musiek (klavier) in die hoek van die sitkamer sien staan. Toe hulle al so ’n entjie geëet het, vra sy vir hom: “Koos, kan ek nie vir ons ’n plaat met strelende klassieke musiek opsit nie?”

Terwyl hy sukkel om kop te hou met die mes-en-vurkbedryf, vra sy vir hom waarvan hy die meeste hou: Beethoven, Mozart of Johann Strauss. Daar sit hy sprakeloos en die kos wil nie af nie. Hy pruim die vrinne name in sy mond en skud sy kop.

“Nee kyk, ek ken darem baie vername mense, maar van hierdie drie kêrels weet ek niks. O, ja, nou val dit my by – ek het ’n Strauss-kêrel geken. Hy was ’n moutersmous van Vredendal. Die mense was maar katvoet vir hom. Hy het juis hier van die bo-wêreld af gekom, dit kan dalkies familie van hom wees.”

Sy het toe maar self ’n plaat gekies en die grammofoon opgewen en daar het die musiek-affêre begin. Koos het sy kop effe dwars gedraai en geluister, maar die musiek wou nie koers vat nie.

Toe reken hy hy wil darem ook wys hy het musiekkennis. “Ken jy vir Skeelbasie Nieuwoudt?” vra hy.

Toe sy haar kop skud, sê hy: “Daar is nou vir jou ’n gebore moeskant! As jy nog nie vir Skeelbasie gehoor het nie, het jy nog nie gehoor hoe ’n mens musiek kan maak nie. Dan moet jy ook nie sy ou mank broer, Rooi Mias van Dikdoorn, weggooi nie. As hulle agter ’n musiek inskuif, sit jy op jou eie agterstoep en verlang huis toe.”

So eet hulle voort, terwyl Martie soms haar oë vir tydjies toemaak en lyk of sy elke noot indrink. Ná ete het sy vir hom klavier gespeel en ook ’n paar liedjies gesing, want soos hy verstaan het, was sy die voorsinger in die kerk. Toe sy die laaste liedjie sing, gooi sy met toe oë haar kop agteroor soos ’n hoenderhaan wat die dagbreek aankondig.

Haastig huis toe

Die Maandagmôre vroeg het hy sy goedjies gelaai en die lang pad Tweerivier toe gevat. Soos hy gery het, het hy alles geherkou en gewonder wat van hierdie vry-besigheid kon word. ’n Man moet maar lig loop vir ’n laat-kom-vrou, het hy gedink, want as die strop eers om jou nek is, is daar nie uitkomkans nie.

Dis hoekom die Soebatsfonteiners altyd sê: “Vat jou niggie, dan weet jy wie jy het.” Kort-kort was sy gedagtes by Martie. Sal sy op Tweerivier aard?

Sal sy nie maak soos Rietbok, sy vooresel, wat nie brakwater wou drink nie? Een oggend toe hy wou inspan, was Rietbok weg . . . hy het teruggeloop na die vars water van die Kamiesberge waar hy hom gaan koop het.

Hy was haastig om by die huis te kom en die Austin was nou soos sy ryperd – hoe nader aan die stal, hoe vinniger het hy gehol. Toe hy die derde dag se agtermiddag stokflou op Tweerivier aankom, het hulle na mekaar se welstand verneem, maar Koos was te moeg om van al sy wedervarings te vertel.

Eers die volgende aand aan tafel roer hulle weer die kuier aan. Koos vertel van sy benoude oomblikke in Pretoria en hoe na hy aan sy dood was, en van die musieklike nooi wat die Sondagmiddag ná ete vir hom gesing het. Op dié vra Org: “Broer, en hoe sing sy toe vir jou?”

“Broer, toe ek daar sit en luister, toe sê ek vir myself: dié geluid het ek mos al vantevore gehoor, maar waar? Toe val dit my skielik by. Onthou jy nog die geskree van daai ou skelm grootvoetjakkals wat ons die môre in die slagyster gevang het? Dit was een en dieselfde geluid!”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.