Scorpions of Southern Africa deur

Jonathan Leeming. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R230.

Dié boek is al jare lank ’n staatmaker wanneer jy hulp nodig het om een van Suid-Afrika se talle skerpioensoorte te identifiseer. Die nuwe uitgawe is bygewerk en spog met ’n moderne uitleg, nuwe foto’s en nuttige verspreidingskaarte. Boonop is daar 12 nuwe skerpioenspesies ingesluit wat nie in die vorige uitgawe verskyn het nie.

Jonathan Leeming, die skrywer en bewaringskundige, ken sy storie as dit by skerpioene kom. Hy skryf dus met gesag oor die ge-angeldes se anatomie en gedrag, maniere waarop hulle aangepas is om al miljoene jare lank in taai omstandighede te oorleef en hoe hulle hul gif inspan.

Field Guide to Wild Flowers of South Africa

deur John Manning. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R390.

Nog ’n getroue gids wat ’n mooimaaksessie ondergaan het, is die Field Guide to Wild Flowers of South Africa. Die pragtige foto’s is een van die uitstaande kenmerke van dié lywige boek, waarin meer as 1 100 plantspesies beskryf word. Elke kort beskrywing sluit ’n verspreidingskaart en aanduiding van die blomseisoen in. Die name word ook sover moontlik in Afrikaans aangegee.

Ek het veral die inleiding, waarin Suid-Afrika se blomstreke, plantfamilies en plantegroei-tipes breedvoerig beskryf word, nuttig gevind. Dit verduidelik ook hoe om plante te identifseer – soos hoe om die regte plantgroep te vind – wat veral vir amateurs behulpsaam sal wees. Sorg dat die boek in jou paneelkissie is voor jy lentetyd die pad Namakwaland toe aandurf!

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.