Rita Andreas van Wellington se indrukwekkende loopbaan het nederig begin – as ’n werker in die landerye van die Bosmans se plaas buite Wellington in die Boland. Dit was nie lank voordat sy haarself opgewerk het tot pakhuiswerker nie en elf jaar later, nadat sy eers weg is om te trou en kinders te hê, was Rita terug op die plaas as administratiewe beampte en later as personeelbestuurder.

Dié boorling van Lelienfontein het uiteindelik voorsitter van die Bosman Adama Werkerstrust geword. Deesdae is sy as mentor steeds aktief daarby betrokke. “Daar is nog te veel mense wat op plaaswerkers neersien. Ek staan vir hulle op deur onder meer my plaaswerkersforum.”

Rita het die forum in 2013 gestig ná die wydverspreide stakings in die Boland. “Die probleem is dat ander mense en organisasies, soos vakbonde, namens die werkers wil praat. Die werkers voel dan asof hulle nie werklik gehóór word nie; dat hul eie stemme nie tel nie. Dít lei tot konflik.”

Sy sê produsente en plaaswerkers kom gereeld na haar toe met hul probleme. “Wanneer ek hiervan hoor, hardloop ek nie na die media toe nie. Nee, ek gaan praat met die produsent en die betrokke werker, want misverstande en ’n gebrek aan kommunikasie veroorsaak die meeste probleme op plase.”

BETER OMSTANDIGHEDE

Rita sê plaaswerkers se omstandighede het ná 1994 sonder twyfel ten goede verander. Meer plaaswerkers is byvoorbeeld in bestuursposisies. “Dit is ook lekker om te sien dat hierdie plaaswerkers se kinders wynmakers en bestuurders word. Hulle hoef mos nie heeldag met ’n graaf en pik te staan en werk nie!”

Die tydperk ná 1994 het egter ook sy eie probleme gebring. “Wetgewing het die verhouding tussen plaaswerkers en produsente vertroebel. Hulle is verdeeld. Ons probeer daagliks om verhoudings te herstel deur rondetafelgesprekke. Ons probeer hande vat en mense sover kry om saam te werk. Dit is so belangrik dat albei kante van die saak gehoor word.”

Op ’n vraag hoekom Rita so passievol oor die landbou en sy mense is, antwoord sy dat die plaasbloed sterk in haar are pols.

Gemeenskapsmens

“My oupagrootjie was Adam Apolis wat destyds op die Bosmans se plaas gewerk het, vandaar ook die naam Bosman Adama Werkerstrust. Die feit dat ek op ’n plaas grootgeword en deur die ranks gekom het, het my ’n diep liefde en waardering vir die landbou laat ontwikkel.”

Rita sê die landbou is die belangrikste bedryf in die wêreld. “Dit maak nie saak waarmee jy boer nie. Jy sit kos op iemand se tafel. Jy voed iemand. Die landbou is ook die enigste bedryf wat geleenthede oor ’n baie breë spektrum skep.”

Dié ma van twee (haar dogter is ’n landbou-ekonoom) se lewe wentel om die gemeenskap. Wanneer sy nie brûe bou en as raadgewer en bemiddelaar optree nie, rig sy tot saans laat koor af. “Ek het verlede jaar ’n buurplaas se koor help afrig vir die Suidoosterfees en toe wen hulle,” sê sy laggend. “My koor het darem die vorige jaar met die louere weggestap.”

As sy oor haar toekomsdrome gepols word, kom die antwoord as geen verrassing nie: “Ek is van plan om nog die minister van landbou te word.”

Nuwe storiereeks!

Lizma van Zyl, joernalis en radio-aanbieder, gaan elke maand ’n artikel skryf oor vroue in die landbou wat bewondering afdwing. Hiermee wil sy die belangrike rol uitlig wat vroue in die bedryf speel, maar vroue ook aanmoedig en bemagtig om hul “man te staan”. Dit is ook ’n poging om hulde te bring aan vroue wat groot waarde tot die landbou toevoeg