Niemand weet waar die probleme begin het nie. Die alewige gebraaiery. Sommiges sê dit was my oupagrootjie se skuld, ’n Ierse verkoopsman vir Cuthberts wat in Indwe in die Noordoos-Kaap kom winkel oopmaak het.

Wêrelde verwyderd van Cork in Suid-Ierland van waar hy moes padgegee gedurende die groot Aartappelhongersnood. Eintlik oppad Amerika toe, het hy heel toevallig in Suid-Afrika beland en sommer vinnig die plaaslike tradisies, soos braai, aangeleer. Met sy statige weglêsnor en wit onderbaarbaadjie leun hy op ’n ou foto teen ’n swart Ford-T tussen die doringbome langs steilpunt se modderige rivier.

Dis waar my oupa braaivleisvure leer ken het, toe my pa, toe ek, en nou my kinders ook. Want, soos dit oor geslagte bewys is, vuurmaak is baie meer as net ’n manier om kos gaar te kry. Dis ’n ook ’n wonderlike verskoning om ’n familie om een sentrale aktiwiteit bymekaar te kry en om die tipe samesyn te verfyn waarmee ons al sedert ons grotdae doenig is.

My pa se voortdurende en amper fanatiese soektog na die perfekte braaiplek het ook ’n familielegende geword. As hy nie gedurende sy werksweek op die plaas ’n braaiplek kon kry nie, het ons Sondae na kerk die veld ingevaar met rugsakke, koelbokse en roosters.

Nooit tevrede nie, wou hy altyd net nog ’n bietjie verder stap, terwyl ons, gebuk onder ons swaar bagasie, probeer het om hom te oortuig dat dié wel die beste plek was vir ’n braai. Ons het altyd verder gestap.

“Die perfekte braaiplek soek,” bly tot vandag toe ’n familie-uitdrukking van algemene onvergenoegdheid onder mense. Maar dit was altyd die moeite werd. Êrens onder ’n wilgerboom langs ’n stroompie met skole silwer ghieliemientjies, soos op Olivierskloof met sy wonderlike lusernlande.

Of bo-op Hilltop se berge, met die ou Transkei se spatseltjie wit hutte wat in die verte doer onder op die vlakte verdwyn. Die einste vlakte waaroor oom Frank Milns destyds gesit en uittuur het toe hy ’n blaaskans van veesoek gevat het. Bo-op ’n klip, sy arms wat op sy knieë rus, het die soekgeselskap hom die volgende oggend gekry. Sy pyp nog tussen sy tande vasgeklem. Morsdood.

Maar eers is daar vir hout gesoek en ’n plek skoongemaak om vuur te maak. Water is reggesit indien iets aan die brand sou slaan. My pa koester ’n onheilspellende vrees vir veldbrande, iets wat ’n mens maar ontwikkel wanneer jy in die grasveld boer. Die vure was altyd enorm en het altyd gepaardgegaan met my pa wat ’n bier knak.

Deur die jare meestal Black Label, maar daar was ook flirtasies met Castle en Lion Lager, die kortstondige Colt Lager en natuurlik Luyt Lager. Vandag nog as die familie bymekaar kom, word daar vuur gemaak, en met vakansies slaan ons steeds die veld in. Maar dinge het verander.

Vandag is die skaaptjops en steak waarmee ons grootgeword het, byna onbekostigbaar duur, en daar word ál meer met ander vleis en gaarmaakmetodes geëksperimenteer. Waar dit vir my gedraai het, was die raad oor rooivleismarinades wat ek een Vrydagmiddag van die Portugese eienaar van die legendariese impala slagtery in Johannesburg gekry het.

Fyngekapte, vars knoffel, roosmaryn, ’n paar vars rissies, olyfolie en balsamiese asyn en sout en peper na smaak, alles gemeng. Dan in die tjops ingevryf en oornag laat lê. Dit bly tot vandag toe ’n gunsteling. Maar dit was Chris Schlesinger en John Willoughby se boek Barbecue wat braai op sy kop gekeer het vir my.

Daarin, vir die eerste keer, was daar maklike, maar fantastiese braairesepte wat enigiemand kon maak. ek het die een na die ander voorberei en was verstom hoe die kombinasie van speserye die geur van vleis kon uitlig. Weg was die eenvoudige sout en peper van my kinderdae. en daar was ook ander tegniese deurbrake.

Soos die ontdekking van die waarde van trekkervellings as ’n braaibak. Dit hou die hitte in, terwyl die gate onder in goeie ventilasie verleen. Dis ’n mooi ding en ’n waardige evolusie van ’n familietradisie waarop my oupagrootjie hopelik trots sou wees.