Southern African LBJs made simple deur Doug Newman en Gordon King. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R260.

Voëlkykers sal weet, wanneer dit by die klein vaal voëltjies (oftewel little brown jobs – LBJ’s in Engels) kom, het ’n mens baie vrae. Om dinge moeiliker te maak, val bykans ’n kwart van Suider-Afrika se voëls in dié kategorie. Is dit ’n tinktinkie of ’n langstertjie? ’n Spekvreter of ’n skaapwagter?

Wat dié boek eiesoortig maak, is dat dit hom slegs met die vaal voëltjies bemoei en stapsgewys probeer om hul identifikasie makliker te maak. Dit is nie sommer net vir rondblaai in die boek en soek vir ’n foto wat min of meer soos die voëltjie in jou verkyker se lens lyk nie. Nee, die boek help jou om die korrekte afleidings te maak deur na die families, visuele groepe en spesies te kyk.

’n Nuttige hulpmiddel is die strepieskodes wat jy met jou slimfoon kan skandeer om na die voëlgeluide te luister. Daar is dus nie ’n kortpad om dié geveerdes van mekaar te onderskei nie, maar die beloning is groot as jy hulle eers van naderby leer ken.

Pangolins — Scales of injustice deur Richard Peirce. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R160.

Pangolins — Scales of injustice deur Richard Peirce. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R160.

Dit is die oog van die ietermagog op die voorblad wat dadelik jou aandag vasvang. Jy kan amper nie jou blik wegskeur van dié skugter, skubberige miervreter wat baie selde in die dag gesien word nie. Tog is hulle toenemend die slagoffer van sluikhandel in eksotiese diere – dikwels bestem vir die kosmarkte van Asië.

Die ietermagog was onlangs in die nuus toe die moontlikheid geopper is dat hulle as vektor vir die nuwe koronavirus tussen vlermuise en die mens kon dien. Die skrywer het juis gaan ondersoek instel na onder meer Viëtnam se kosmarkte, en binne minute is hy in ’n restaurant van dié seldsame diere aangebied.

Hy vertel die verstommende verhaal van hoe die ietermagog die twyfelagtige aansien gekry het as die mees gesmokkelde dier ter wêreld, en ook hoe moeilik dit is om die spesie te red. Deur slegs na die foto’s in die boek te kyk, sal enigeen besef watter spesiale dier die ietermagog is en hoe tragies die huidige omstandighede weens smokkelary is.

Oor hul toekoms is daar baie vraagtekens. Sommige mense meen die feit dat hulle moontlik die virus kon oordra, sal help dat owerhede gedwing word om die Chinese en Asiese kosmarkte, waar wilde diere dikwels verkoop word, te sluit. Ander meen hulle kan juis oor hul rol in virusoordrag as gevaarlik beskou word, en daarom uit wraak uitgeroei word. Die beste scenario is dat Covid-19 die vraag na die ietermagog sal verminder en dat die mens sy les sal leer, naamlik dat ons in ’n wêreld leef wat deel is van die natuur.

Walking safaris of South Africa deur Hlengiwe Magagula en Denis Costello. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R270.

Walking safaris of South Africa deur Hlengiwe Magagula en Denis Costello. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R270.

Jare gelede het ons ’n staptog saam met ’n ervare gids in die Krugerwildtuin onderneem, nogal op die spoor van buffels. Om só naby aan wilde diere te kom – en dít te voet – is ’n ervaring waarby min dinge kan kers vashou. Dié boek bespreek ’n aantal opsies om in 18 van Suid-Afrika se wildreservate op verskillende soorte staptogte te gaan. Danksy die gidse is dit veilig en uiters leersaam.

En dit is nie net die groot vyf wat opwinding veroorsaak op só ’n stapsafari nie. Kundige gidse wys ook klein diertjies, plante, voëls en selfs diereskelette uit waarvan jy dalk nooit eens bewus sou wees nie. Daarby hou dit ongelooflike fotografie-geleenthede in!

Avian architects, Flying mammals en Skullduggery deur Chris en Mathilde Stuart. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R90 elk.

Avian architects, Flying mammals en Skullduggery deur Chris en Mathilde Stuart. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R90 elk.

Chris en Mathilde Stuart het al ’n hele reeks boeke, veldgidse en mobiele toepassings oor die natuurlewe die lig laat sien. Dié drie sakboekies is ideaal om voor in jou bakkie te hou vir die kere wanneer jy iets onverwags in die veld raakloop en nuuskierig is om meer daaroor uit te vind.