Vertel meer van jou onderneming.

Ek ontwerp en maak handgestikte leerprodukte – van reistasse en handsakke tot gordels en beursies. Elke produk word op bestelling gemaak en is dus uniek. Ek gebruik net regte leer en soek die velle self uit. Vir die voering gebruik ek varkvelle. Ek werk ook nie met ’n masjien nie, maar stik op die ou manier met twee naalde en spesiale leergaring.

Dit is natuurlik wat jou sakke só eiesoortig maak?

Ja, daar is geen masjien in enige stadium van die proses betrokke nie. Elke sak is ’n erfstuk en ek maak dit volgens elke kliënt se spesifikasies. Daar sal dus nooit presies nog só ’n sak wees nie.

Ek weet nie wie die volgende woorde gesê het nie, maar dit is baie waar: “When you buy something handmade, you are buying more than an object. You are buying hours of experimentation and failure; you are buying days, weeks and months of work. You are not buying anything, you are buying a piece of the heart and soul of the craftsman.”

’n Reistas wat Salome in die grendeltyd vir haar seun gemaak het.

Hoe het jou liefde vir leer ontstaan?

Die SA Leather Acadamy het lank leer-opleiding op Vanrhynsdorp verskaf. Ek hou daarvan om met my hande te werk en het die kursus gaan doen. Dit is ongelooflik terapeuties om met leer te werk. Dit is ook baie verrykend om die leer te omskep tot iets bruikbaar. ’n Leerproduk se karakter ontwikkel saam met sy eienaar.

Hoe help jou onderneming jul boerdery?

Dit is ’n nuttige inkomste om die meer luukse dinge (veral ’n vrou s’n!) mee aan te vul. Dit het ook gehelp om vir my seun se tersiêre opleiding te betaal. Ek sou graag mense in diens wou neem sodat ek kan help met werkskepping en opheffing, maar ongelukkig bly ’n leerhandsak ’n duur en luukse item, dus het ek nie genoeg werk om werknemers aan te stel nie.

Wie bestel by jou?

Die meeste van my bestellings kom van kennisse en vriende van tevrede klante af. “Word of mouth” werk baie goed vir my. Ek gebruik ook sosiale media om die onderneming te bemark, maar die mededinging is geweldig sterk.

Was dit moeilik om die onderneming tot stand te bring?

My man, Japie, is ’n wonderlike houtwerker. Hy maak die mooiste goed. Hy het my werktafel en gereedskapskissie gemaak, en ek het my eie geld gebruik om gereedskap en leer te koop. Aanvanklik het ek heelwat handsakke ontwerp wat nie gewerk het nie. Maar op ’n dag het ek my koers gekry. Die kursus het die basiese kennis verskaf, maar daarna moes ek deurdruk en my eie styl ontwikkel. Ek het die eindproduk in my geestesoog gesien en aangehou tot ek daarby uitgekom het. Ek vind dit geweldig stimulerend om ’n sak te ontwerp. Sodra die idee in my kop is, kom ek maklik aan die gang.

Geen twee sakke is dieselfde nie. Elkeen word volgens die koper se persoonlike voorkeure en spesifikasies gemaak.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Liefde vir wat ek doen. Van die eerste dag van my opleiding af was leerwerk vir my ongelooflik lekker en dit het nog glad nie verander nie.

Jy is ook bedrywig met ander dinge. Hoe kom jy by alles uit?

Ja, ek bedryf ook ’n gastehuis en is baie lief daarvoor om tyd in die veld deur te bring, hetsy vir stap of voëls kyk. Beplanning is dus baie belangrik en ek probeer my namiddae uitsit om leerwerk te doen.

Wens jy daar was iets wat jy geweet het voor jy die onderneming begin het?

Ek sou vroeër wou begin het!

Wat het jy geleer uit jou grootste mislukking?

Staan op en probeer weer. As jy nie foute maak nie, sal jy ook nie leer nie. Die beste raad wat ek nóg gekry het, was om nooit op te gee nie.

Navrae: E-pos: salome@botuin.co.za, 072 471 4083; www.botuin.co.za