Omgewingsbewus

Lea lief uile: Muisvalle en melkskommels deur Cecilia Steyn. Uitgewer: Lapa. Prys: R135

Die uile in Lea se dorp vrek die een ná die ander. Om diere te red, is in Lea se bloed, daarom doen sy en haar ouers hul bes om uit te vind wat aangaan. Kinders in graad drie tot vyf sal dié opvoedkundige verhaal met ’n sterk ekologiese aanslag geniet.

Tienerversies

Jy sê, ek sê, ons sê saamgestel deur Marita van der Vyver. Uitgewer: Lapa. Prys: R155

Die boek is ’n versameling versies wat hoërskoolleerders onder leiding van die bekroonde skrywer Marita van der Vyver geskryf het. Dit behandel unieke tienertemas in ’n taal waarby tieners aanklank sal vind.

5-in-1 Professor

Fungus Omnibus 2 deur Jaco Jacobs. Uitgewer: Lapa. Prys: R225

Vyf fantastiese Professor Fungus-stories in een boek! Kom deel in Bennie en Jenny se wilde avonture in professor Fungus se laboratorium in hierdie omnibus van een van die gewildste Afrikaanse kinderreekse vir 7-jariges en ouer.

Slimkop

Hoe dinge werk: Biologie-eksperimente in jou agterplaas en Fisika-eksperimente in jou agterplaas deur Alix Wood. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R130

Met dié reeks sal nuuskierige 6- tot 9-jariges in wetenskaplikes ontaard wat allerhande opwindende (en soms plofbare) eksperimente aandurf. Maak ’n bonsende eier, blaas ’n ballon met gis op of lanseer ’n vuurpyl.

Plakkerpret

My heel eerste plakkerboek: Seekat en Lama. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R70

Hier wag ure se pret met kleurvolle, herbruikbare plakkers en vrolike prentjies. Ideaal om kleinding van kleure te leer en sommer die fyn motoriese vaardighede te ontwikkel.

Stoute gediggies

Die waarheid oor visvingers deur Sarina Dönges. Uitgewer: Protea. Prys: R180

Dié rympies vir kinders is sommer lekker wild en ’n bietjie aweregs. Ouma is byvoorbeeld ’n koningin, want sy moet op die troon gaan sit en die kinders se katjies raak stukkend, want hulle moet reggemaak word. Ideaal vir kinders met ’n lekker humorsin in graad vier tot sewe.