Met die hulp van ander vroue wat unieke waslappies hekel en wat sy verkoop, kan sy sanitêre produkte aan skole verskaf. 

Hoe het jy die idee vir die projek gekry?

Ons bly op ’n plaas sowat 50 km van Beaufort-Wes af. Elke keer as ek dorp toe gaan, sien ek ongelooflike armoede in die woongebiede. ’n Onderwyseres-vriendin van Kaapstad het my eendag vertel hoe baie meisies uit hoërskool wegbly wanneer hulle menstrueer omdat hulle nie toegang tot sanitêre produkte het nie. Om te menstrueer, is tog deel van vrouwees en kan nie voorkom word nie. Ek wou graag help om minstens dié probleem vir die meisies uit die weg te ruim, maar ek wou nie net geld gee nie.

Watter plan het jy toe gemaak?

Ek het vyf enkelvroue op Beaufort-Wes deur die plaaslike wolwinkel (Plain & Purl) genader. Hulle werk die afgelope paar maande saam met my. Ek verskaf die gare (100% katoen) en ondersteun só die winkel op die dorp. Die vroue kry die gare daar en hekel sagte waslappies wat hulle weekliks by die winkel aflewer. Die waslappies is ideaal as gesig- en lyflappies, asook vir babas. Ek betaal ’n klein bedrag vir elke lappie om my waardering te toon, maar eintlik gee die vroue hul tyd vir die projek. Ek neem die mooiste lappies huis toe, werk ’n etiket aan, was en verpak dit en versprei dit weer. Die lappies is tans beskikbaar by die 4 Sheep Restaurant & Deli op Beaufort-Wes, Knus Karoo Kombuis in die Paarl en deur die aanlyn winkel Modern Easy. Mense kan my ook kontak om van die lappies te bestel. Dit kos sowat R90 elk.

Vele hande maak ligte werk. Vyf vroue op Beaufort-Wes gee hul tyd deur, teen ’n klein vergoeding, lappies te hekel. Die geld word gebruik om sanitêre produkte aan skole beskikbaar te stel.

Hoe word die geld gebruik?

Ek het twee verpleegsters van die distrik Sentraal-Karoo gekontak wat voorligting oor vrouegesondheid by skole doen. Ons het die behoeftigste skole in die omgewing van Beaufort-Wes, Merweville, Murraysburg, Leeu-Gamka en Nelspoort geïdentifiseer en wil menstruasiekoppies aan dié skole verskaf. Die koppies is van die beste en innoverendste sanitêre produkte wat tans beskikbaar is. ’n Koppie kan minstens vyf jaar lank gebruik word sonder maandelikse koste.

Moes jy mense oplei?

Dit voel eerder of ék opgelei word. Ek het basiese naaldwerk leer doen. Van hekelwerk het ek niks geweet nie, maar ek kon gelukkig staatmaak op die vroue wat patrone uitgeruil het en mekaar steeds help. Ons probeer die lappies so eenders moontlik hou, maar elkeen se hand verskil en daarom is elke lappie uniek. Daar is met ’n paar basiese patrone begin, maar ons waag nou met meer ingewikkeldes. Die idees kom van die groep. Elke lappie kry ’n naam, wat gewoonlik te doen het met iets wat die patroon geïnspireer het. Almal hekel in hul eie tyd en dit klink of die meeste van hulle dit al toe oë doen. Hulle beskou dit selfs as terapie.

‘My groot droom was om ’n nuttige produk te vervaardig, vroue te bemagtig en uiteindelik ’n groter doel na te streef.’

Dit klink of julle saam-saam berge kan versit.

My groot droom was om ’n nuttige produk te vervaardig, vroue te bemagtig en uiteindelik ’n groter doel na te streef. Dit het vir my na ’n volhoubare plan geklink. Ek wou die meisies help, maar ek kon dit nie alleen regkry nie. Dit was dus nodig om nog mense te betrek (soos die vroue wat hekel), wat nou ’n onmisbare deel van die sukses van die projek is.

Antonia van den Berg, haar man, Hilmar, en hul dogtertjie, Twinkle.

Vir nog inligting of om lappies te bestel, kontak Antonia by gift2karoo@gmail.com of volg gift_karoo op Instagram.