Jy kan die mooi glasbottels wat ’n mens deesdae kry, weer gebruik as blompot, om water uit te skink of om olyfolie in te bêre. Met vinnige spuitverfpatrone kan jy boonop jou bottels ’n mooi voorkoms gee.

Benodigdhede

’n Leë glasbottel

Maskeerband of isoleerband

Skêr

Spuitverf in ’n kleur van jou keuse

Foelie (30 cm x 30 cm)

Koerantpapier

Asetoon en ’n lappie (opsioneel)

Maak skoon

Maak skoon

Verwyder alle plakkers, etikette en pryse van die bottel.

As daar gom agterbly, kan jy dit met ’n lappie en ’n bietjie asetoon skoonmaak.

Ontwerp en plak

Ontwerp en plak

Plak die maskeerband in egalige, reguit lyne om die bottel. Besluit self van watter patroon jy hou.

Moenie die band te veel rek nie.

Bedek die nek

Bedek die nek

Vou die foelie om die bottel se nek en kop om te keer dat daar spuitverf op beland.

Heg die foelie stewig vas met maskeer- of isoleerband.

Spuit, wag … en siedaar!

Spuit, wag … en siedaar!

Pak koerant-papier op die plek waar jy gaan werk.

Spuitverf nou die bottel reg rondom met egalige spuitaksies.

Wag tot die eerste laag heeltemal droog is en spuit dan ’n tweede laag.

Wanneer albei verflae behoorlik droog is, kan jy die maskeerband en foelie versigtig verwyder.

Wys jou projek en wen!

Wys jou projek en wen!

Stuur vir ons ’n foto van jou en jou opgekikkerde glasbottel. Jy kan ’n heerlike boek, Saadjie en Spikkel deur Alex Latimer en David Litchfield, ter waarde van R175 wen – geskenk deur NB-Uitgewers.

Saadjie en Spikkel is beste vriende. Namate hul vriendskap groei, word hulle self ook groter. Saadjie kry wortels en Spikkel kry vlerke, wat sy baie graag wil uittoets. Die lewe skei hulle van mekaar, maar ware vriende vind altyd hul pad terug na mekaar toe.

Stuur jou foto, saam met jou naam, ouderdom en adres aan Lucille Botha (lbotha@landbou.com) teen 11 Junie om in aanmerking te kom om dié oulike boek te wen.