Dit was vir haar ’n emosionele skok toe aangekondig word dat byeenkomste met meer as 50 mense nie toegelaat sou word nie. Waar hulle normaalweg vyf keer per week ‘n vragmotor gelaai het om blomme na onder meer troues te neem, was daar skielik geen mark nie.

“Ek het kort voor die afkondiging video’s ontvang van hoe blomme in Nederland weggegooi moes word en gedink dit is nogal erg. Ek het gehoop dat dit nie hier sou gebeur nie, maar toe word troues die een ná die ander afgelas en winkels wil eerder meer toiletpapier en minder blomme aanhou.”

Nieuwoudt sê sy is eintlik ’n kreatiewe persoon, terwyl haar blomboerdery intensiewe administrasie vereis. Sy span dus nog altyd graag kreatiwiteit as ’n uitlaatklep in. “Die afgelope jaar het ek begin om flatlays met my blomme te doen en foto’s daarvan te neem.”

Sy het dié foto’s gebruik om muurpapier vir haar huis te ontwerp. Sy het dit so baie geniet dat sy al hoe meer foto’s van haar blomme begin neem het. Dit het gelei tot ’n reeks huisware met onder meer tafeldoeke, voorskote en kussingoortreksels wat sy saam met die kunstenaar Anja Black van Blackblossom ontwerp het.

Toe einde April aangekondig is dat almal wat hul huise verlaat ’n gesigmasker moet dra, het ’n vriendin haar aangeraai om haar blommotiewe in te span vir die maak van mooi gesigmaskers. “Ek het gedink dit is ’n uitstekende idee en die volgende oggend het ons maskers begin maak.”

Sy sê hulle is was baie gelukkig dat die nodige infrastruktuur vir die vervaardiging van die maskers reeds gereed was. “Ons het materiaal en patrone gemaak en kon dadelik aan die werk spring.”

Sy sê dié nuwe produk het haar in staat gestel om haar personeel aan die werk te hou sodat hulle steeds hul families kan onderhou, terwyl die blommeseisoen tot ’n einde gekom het en byeenkomste soos troues steeds nie mag plaasvind nie.

Die dag nadat daar aangekondig is dat almal wat hu
Die dag nadat daar aangekondig is dat almal wat hul huise verlaat maskers moet dra, is die eerste maskers by Adene's Flower Farm gemaak.

Hulle begin nou dahliaknolle opgrawe om te verkoop, nog ’n groot bron van inkomste vir die boerdery. “Ons sal van middel Augustus af weer begin om ’n groot verskeidenheid blomme te lewer.”

Nieuwoudt vertel sy het reeds planne gemaak as troues nie in die volgende jaar mag plaasvind nie. “Daar is beslis steeds ’n vraag na blomme. Mense wil iets moois in hul huise hê. Ons maak dus planne rondom hoe ons blomme regstreeks aan die publiek kan lewer.”

Sy glo die meeste mense moes weens die inperking hul besighede herontwerp en kyk waar hulle die vraag na of ’n behoefte aan ’n produk kan benut – veral as jy ’n nisproduk soos blomme verkoop. “As jy ’n produk lewer wat jy nie mag verkoop nie, soos die geval met blomme was, moet jy ’n plan maak om iets anders te doen anders gaan jou besigheid dit nie maak nie.”

Sy sê haar besigheid het ook baat gevind by die aanlyn verkope van saad. “Almal is nou by die huis. Mense wil hul tuine mooi maak en het nou tyd om dit te doen. My knol- en saadverkope het omtrent ontplof sedert die inperking begin het.”

Aanlyn platforms kan volgens haar veral goed werk vir boere wat ’n nisproduk verkoop. “As jy ’n produk verkoop wat in kleiner hoeveelhede verkoop kan word, moet jy beslis aanlyn verkope oorweeg. Kyk maar net na hoeveel besighede ’n inkomste kon verdien deur byvoorbeeld bokse vars groente en vrugte aanlyn te verkoop en by jou huis af te lewer.”

Ten spyte van die kwessies wat sy moes aanpak en die onsekerheid wat vir Suid-Afrika te midde van die Covid-19-pandemie voorlê, is sy steeds optimisties oor die toekoms. “Ek plant tans van 70% tot 80% van die blomme wat ek gewoonlik plant, omdat ek weet ons sal moontlik minder verkoop, maar verder gaan ek aan met my bedrywighede soos altyd.

“Ek is baie optimisties dat aangesien ons verander het aan ons besigheid en ook aan ons uitkyk, sal ons oorleef.”

Vir nog inligting oor Adene’s Flower Farm, besoek die webwerf www.adeneflowers.co.za of volg die plaas se sosiale profiele op Facebook en Instagram. NAVRAE: info@adeneflowers.co.za