Juanita Horn het verlede jaar toe die Covid-19-pandemie toegeslaan het, die onderwys verlaat om haar onderneming, Wolstyl, heeltyds te bedryf. Sy vertel meer oor dié dapper stap en haar liefde vir gehekelde produkte.

Wolstyl maak en versprei hand- gemaakte produkte. Vertel meer.

Ja, ons bied gehekelde wolprodukte, hoofsaaklik babaklere (soos mussies, klere en kopbande), maar maak ook dekorprodukte vir die huis en produkte vir ma’s. Ek het ook al heelwat beertjies gemaak. Rondom die groot datums van die jaar, soos Kersfees, Paasfees, Moedersdag en Allerheiligeaand, stel ek ook temabokse saam.

Hekel is my passie. Ek onthou nog goed hoe my skoonma (destyds was sy nog my toekomstige skoonma) my geleer hekel het. Die eerste artikel wat ek gehekel het, was ’n rooi-en-blou skootkombersie, en sedertdien het die hartstog net gegroei.

Ek is ’n grondslagonderwyseres en verlede jaar, tydens my kraamverlof en die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie, het ek begin nadink oor maniere om van my stokperdjie ’n besigheid te maak waarmee ek ’n glimlag op iemand se gesig kan sit.

Ons woon in Durbanville, maar my hart lê op die platteland waar ons ouers vandaan kom. In my hart is ek beslis ’n plaasmeisie.

Wat maak jou produkte anders as soortgelyke artikels?

Alles word met die hand gemaak en is daarom uniek. Geen twee produkte sal dieselfde lyk nie, wat dit baie spesiaal maak. Ek skryf my sukses toe aan die feit dat ek die naam van die Here deur my werk kan oordra en terselfdertyd geluk aan klante kan bring. Sukses gaan nie net oor geld nie, maar ook oor wat ek vir ander mense kan beteken.

Wolstyl is bekend om skattige en unieke baba-uitrustings soos hierdie.

Dit is seker harde werk om alles self te hekel?

Niemand werk op die oomblik vir my nie, en ek maak elke produk self met liefde en harde werk. Danksy die besigheid se goeie groei die afgelope ruk sal ek waarskynlik binnekort werk vir ander mense kan skep. Intussen probeer ek ander plaaslike besighede ondersteun deur hul produkte deel van ons aanbod te maak.

Hoe hou jy al die balle in die lug, veral met ’n jong kind?

Daaglikse beplanning – en om daarby te hou – is belangrik. As ek tyd opsy sit vir werk, is dit al wat ek doen, sodat ek my volle aandag aan my gesin kan gee wanneer dit gesinstyd is. Dit werk natuurlik nie altyd só nie. Die werklikheid is dat die lewe soms net te besig raak om alles te kan balanseer. Dan moet jy maar aanpassings maak en seker maak jy ruim tyd in om weer die balans te herstel.

Jy het ’n vaste salaris opgegee om Wolstyl te begin. Was dit moeilik?

Ek moes Wolstyl met my spaargeld finansier. Later het my man (my engel!) en die wins wat ek gemaak het, gehelp om die besigheid te bou.

Wolstyl is nog maar in sy kinderskoene, maar ek is baie dankbaar dat dit die afgelope jaar soveel kon groei. Dit hou my gemotiveerd en laat my deurdruk wanneer die nagte laat raak. Ek het só baie idees vir nuwe produkte en om dít ’n werklikheid te maak, spoor my ook aan. My optimistiese ingesteldheid en die feit dat die Vader deel van die hele proses is, help om my produktief te hou.

Een van die temabokse wat Juanita van tyd tot tyd saamstel.

Hoe maak jy mense bewus van jou onderneming?

Ek doen tans die meeste van my bemarking deur Facebook en Instagram. Ek het ook al by markte en in ’n winkel uitgestal, maar ma’s doen gewoonlik deur sosiale media navraag oor produkte. Sosiale media is beslis die maklikste manier van bemarking.

Was daar al mislukkings? Wat het dit jou geleer?

Moet nooit moed opgee nie. Probeer weer, maak nie saak hóé moedeloos jy raak as jy van voor af aan ’n produk moet begin werk nie. Ek sien dit as ’n geleentheid om my vaardighede te verbeter.

Is Wolstyl se toekoms blink?

Beslis! Daar is opwindende nuwe produkte op pad, veral vir ma’s wat self lief is vir hekel. Ek stel ook binnekort bederfbokse vir ma’s en klein lyfies saam. ’n Mens weet nooit wat voorlê of watter deure oopgaan nie, maar my drome vir Wolstyl is groot. Een daarvan is om al ons produkte uit ons eie, topgehalte Suid-Afrikaanse wol te hekel en om dié wol dan beskikbaar te stel vir ander mense wat ook lief is vir hekel en brei.