Dit was die wêreldbekende avonturier Mike Horn se boodskap aan boere in Suid-Afrika wat deur die droogte gery word. Hy het in 2017 die eerste mens ter wêreld geword wat stoksielalleen en sonder bystand oor Antarktika gestap en geski het – binne 57 dae. Dit was ’n reis van sowat 5 100 km in die guurste weer denkbaar. Temperature het soms by -42  ?C gedraai en hy moes vriesbrand, ysige winde en gevaarlike skeure in die ys trotseer om dit reg te kry. Boonop het die dodelike winter aan sy hakke gehap.

“Baie boere is soos ek. Ons het nie ander opsies nie. Ons is gemaak om die slegte weer te hanteer,” het Mike gister (19 Februarie) aan Landbouweekblad vertel. Hy was in Kaapstad om sy boek Dream of a Lifetime – Crossing Antarctica te bemark. “Vir boere is dit ontsettend moeilik, want hulle het diere waarna hulle omsien. Hulle sien daardie swaarkry wat die diere moet deurgaan. Dis moeilik, maar opgee is nie ’n opsie nie. Sodra jy jouself opsies gee in die lewe, as jy opsie 1, opsie 2 en opsie 3 het, dan kan jy nie vasbyt nie,” het die Suid-Afrikaans gebore avonturier gesê.

Hy het vertel hoe hy as seuntjie soggens om 05:30 met sy tekkies aan vir sy pa gewag het om saam met hom te gaan draf. Sy pa was Michael Horn, ’n rugbyspeler wat onder meer vir die ou Transvaal en die Barbarians uitgedraf het.

“Ek het elke dag op die pad ’n streep getrek waar ek nie meer by hom kon byhou nie. En élke dag het ek probeer om bietjie verder te gaan. ’n Boer moet ook elke dag ’n bietjie verder gaan. Elke dag is jy daai bietjie nader aan die oplossing. Wees voorbereid op die ergste, en, onthou, wanneer dit erg is, kan dit nóg erger gaan, maar daar is altyd ’n oomblik dat dit gaan terugspring.”

Horn het langs die veld op Ellispark gestaan toe sy pa sy laaste wedstryd speel.

‘Daai boer, hy is wie hy is’

“Dit was nog in die jare dat almal op die veld kon hardloop en die manne op hul skouers kon dra. Toe gaan ons in die kleedkamers in en die span het na hom toe gekom en gesê: ‘Well done. Amazing career.’ Toe almal weg is, sê ek vir my pa: ‘I want to be like you.’ En my pa kyk my so en sê: ‘But, Mike, you can’t be me.’ Dit het my teleurgestel, want regtig, hy was my held. Daar was stilte vir so paar sekondes terwyl ek nadink oor hoekom ek nie soos hy kan wees nie. Toe sê hy vir my iets wat my lewe verander het: ‘You know, you are who you are. You can never be somebody else.’ En daai boer, hy is wie hy is. Hy is nie iemand anders nie. Hy’s die fighter. Hy’s die ou wat dit kan maak. Dis hoekom hy daar is.”

Sy pa het voortgegaan en aan hom gesê: “Ek kan sien dat jou lewe reeds groter as myne is.”

“Jis, ek is ’n jong seuntjie, en ek sien my lewe groot, al was dit nie groot op daardie stadium nie. Ek het dit groot gedink. Dis ook belangrik as mens ’n boer is en jy gaan deur die harde tye. Moenie net na daardie harde tye kyk nie. Kyk na die groot prentjie. Dit kan nie net altyd k@k gaan nie; dit gaan eendag verander en jy gaan deel wees van daardie verandering.”

Die tog oor Antarktika het deel gevorm van Mike se lewenslange droom, wat later bekend gestaan het as die Pole2Pole-ekspedisie. Hy het dit reggekry om rondom die aardbol te stap deur die Noord- én die Suidpool. Die Noordpool-ekspedisie het in 2019 plaasgevind.