Trevor Bohling het vele herinneringe aan sy grootwordjare langs die Transkei se viswater. So was daar die kabeljouvangste wat met ’n osslee huis toe vervoer is. Kerrievis is ingelê en ’n jaar later het hulle nog daarvan geëet. As kinders het hulle kolsterte en strepies met spiese in laagwaterpoele gesteek – daar was so baie dat hulle die visse met die voet kon rondstoot om die grootstes uit te soek.

Hy is in 1934 op sy pa se handelstasie by die Basheeriviermond van die Mbasherivier in die distrik Willowvale gebore as die tweede oudste van Ernest en Anne Bohling se vier kinders.

Trevor onthou sy pa se onderhandelinge met die plaaslike gemeenskap, soos hoe hy sakke mielies gekoop en met die spoorwegbusse na groter dorpe aangestuur het. Ook hoe hy slagvarke strandlangs aangejaag en met laagwater oor die rivier geneem het na die hotel op The Haven. Sy pa het die handelstasie se voorraad met ossewaens op Idutwa (deesdae Dutywa) gaan haal. Dit is later deur spoorwegbusse afgelewer.

Vormingsjare

Trevor het in 1940 met sub A (vandag graad 1) aan die Hoërskool Butterworth begin. Die seuntjie het egter net Xhosa leer praat – geen Engelse of Afrikaanse woordeskat nie. Hy is telkens teruggehou en het vir drie jaar nie gevorder nie.

In sy vierde skooljaar is hy na ’n kloosterskool in Umtata (deesdae Mthatha) gestuur, waar sy suster ook skoolgegaan het. Die “kraaie”, soos hy die nonne genoem het, het darem iets met hom uitgerig gekry. Daarna is Trevor na die Duitse skool in Hermannsburg in die destydse Natal, waar hy Duits moes leer praat.

Hy is ná vier jaar geskors toe hy een Saterdagaand uit die koshuis geglip het om op ’n plaaspartytjie te gaan dans. Van die ander koshuisseuns het intussen gaan vrugte steel en is op heter daad betrap. Die koshuisvader maak toe almal wakker – en Trevor skitter in sy afwesigheid. Dit het hom gedwing om hom in 1950 by sy pa op die handelstasie aan te sluit.

Ostrek

In 1954 het Trevor se pa ’n plaas in die distrik Kokstad gekoop en osse in die distrik Willowvale begin aankoop. Hulle moes elke Oktober en Maart padlangs met die osse plaas toe trek, ’n tog wat tien dae geduur het.

Oskopery was nie altyd maklik nie. Boere het gereeld sentimentele waarde aan ’n os geheg, en gemeen die prys moes dit weerspieël. Rooiwater was toe nog onbekend en Trevor het net van bosluisoorgedraagde galsiekte geweet.

In 1969, met ’n trektog tussen die handelstasie en die plaas, verloor hy twee van die 200 osse. In Mönnig en Veldman se staatmaker-veeartsenyboek het hy geleer dat die osse aan rooiwater gevrek het.

’n Ware kolos

Nadat sy pa die handelstasie in 1970 verkoop het, het Trevor sy eerste tree in die veemedisynebedryf gegee. Hy het teen R80 per maand by A.H. Williams (’n koöperasie wat vir die ouer garde bekend sal wees) gaan werk.

FCU Wolhandelaars het hom toe met ’n salaris van R250 per maand gelok. Later jare sou Trevor by die bekende NCD werk en só het hy ’n bekende en onmisbare deel van die koöperasiewese op Kokstad geword. Hy het deur die jare met verskeie veemiddels gewerk: Fenpoeier, Ranide, Thiben- zole, Ocean Gold, BIS 356 en arseendippe soos Cooperdip.

Dié man met die betroubare veemedisyneraad se pad loop van osse tot trekkers en bakkies wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.