Vertel meer van jou produkte.

Ek maak juwele uit natuurlike materiale, soos keramiek, hout en koper. Alles word op die plaas in my ateljee gemaak, en van daar af aan winkels verskaf. Ons verkoop ook juwele aanlyn en by markte.

Hoe het Net ’n Kameel ontstaan?

Ek het beeldende kunste studeer en was destyds die kunsonderwyseres by die Hoër Meisieskool in Pretoria. Elke jaar het ek die graad 11-leerders op ’n kunstoer geneem en dan vir hulle iets gemaak, soos borsspelde. Die leerders het my aangemoedig om nóg daarvan te maak en so het dit tot ’n heeltydse onderneming gelei.

Intussen het ek en my man, MG, plaas toe getrek, waar hy met Bovelder-beeste boer. Ek het vir my ’n ateljee ingerig en hoewel ek nie meer die borsspelde maak nie, het ek my reeks uitgebrei na oorbelle, hangertjies, ringe en so aan.

Mense vra seker gereeld hoe jy aan die naam gekom het?

Ja, my onderneming se naam trek nogal baie aandag. As seuntjie het my man ’n kameelperd én ’n kameel ’n kameelperd genoem. My skoonma het met behulp van prentjies vir hom die verskil verduidelik: “Hierdie is ’n kameelperd, en hierdie is net ’n kameel.” Toe begin noem hy die dier met die twee hobbels “Net-’n-kameel”. Ek het nog altyd gedink dis ’n oulike storie!

Hoeveel mense werk vir jou?

Ek neem heeltyds twee mense in diens, maar as ons besig raak, kom help tot ses vroue my. Almal woon by ons op die plaas, en ek het hulle gekies omdat hulle handvaardig is, maar ook ’n belangstelling in kunshandwerk getoon het. Almal op die plaas het nou ’n werk, en ek meen dis die eerste treetjie na gemeenskapsopheffing.

Namate ek nuwe produkte ontwerp, leer ek die vroue die vaardighede om dit te maak, soos om met klei te werk om keramiekoorbelle te maak. Tossels is op die oomblik hoogmode, en ons werk nou baie met gare om die tossels te maak.

Hoe maak jy mense bewus van Net ’n Kameel?

Die meeste van my bemarking word deur Facebook gedoen. Almal is mos op Facebook en as mense iets op Facebook sien waarvan hulle hou, versprei hulle dit maklik. Ek verkoop ook al agt jaar lank my produkte by Kamers vol Geskenke.

Dra jou onderneming tot jul boerdery by?

Eintlik dra dit meer tot ons huishouding by, maar ’n mens kan ook nie meer boer as jou vrou nie ook iets doen nie. Die plaas dra egter ook by tot die uniekheid van my produkte. Ek sal dikwels in die werkswinkel nuwe prototipes maak, in die veld of op die werf gaan rondkrap vir materiale wat ek kan gebruik. Ons ligging is regtig vir my ’n groot inspirasie.

Hoe het jy ’n opkomende onderneming gefinansier?

Ek het klein begin en die onderneming kon homself dus finansier. In 2014 het ek ’n entrepreneurskompetisie gewen, en met die prysgeld kon ek my ateljee bou. Ek het altyd geweet ek moet aanhou daarmee, want nie net het mense van my produkte gehou nie, maar dit was ook ’n wonderlike ding wat ek van die huis af kon bedryf. Ek werk tans hard om ’n staal-lasersnymasjien aan te skaf.

Elizma en MG Ingram saam met hul kinders, Reuben, Simeon en Ami.
Vrolike keramiekoorbelle met tossels, wat tans hoogmode is.

Hoe kom jy by alles uit?

Soggens kom kyk iemand anders na my drie kinders (Reuben, 4, Simeon, 3, en Ami, 6 maande). Dan weet ek ek het vier uur om produktief te wees. ’n Mens werk baie doeltreffender as jy weet jou tyd is min. Ek werk ook goed met spertye, soos ’n mark of bestelling waarvoor jy produkte moet voltooi.

Ek glo daarin om elke beskikbare tydjie te gebruik en deeglik vooruit te beplan. As ek nóú iets kan doen wat môre se taak gaan vergemaklik, doen ek dit. Maar ’n mens moet ook net doen wat jy kan en nie te hard wees op jouself nie.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Werklik net genade. Soms kan ek nie glo dat ek ’n onderneming kon vestig uit goetertjies uitdink en maak nie. Dis dan so lekker! Maar ek sou dit ook nie sonder my man en familie se ondersteuning kon doen nie. My man is ’n ingenieur wat nou boer. Hy is handig en hy en my skoonouers help my gereeld om my idees prakties uitvoerbaar te maak.

Hoe hanteer jy mislukkings?

Ek het geleer alles gebeur vir ’n rede. Ek sou dit eers as ’n mislukking sien as ek vir sekere markte afgekeur word, maar later besef daar was beslis ’n rede waarom ek nie daar moes wees nie. Een keer is ek vir ’n groot mark afgekeur, maar toe kon ek vir die entrepreneurskompetisie inskryf – wat my gehelp het om my ateljee op te rig.

Wat is die beste raad wat jy nog gekry het?

My skoonma het vir my gesê: Probeer net.

Hoe lyk jou toekomsplanne?

Ek wil graag die internasionale mark betree.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.