Van Loggerenberg was aan die stuur van ondersoekspanne van die SAID wat op die punt was om ’n groot deurbraak teen onwettige tabakhandel te maak toe twee dinge gebeur het: Belinda Walter, die prokureur met wie Van Loggerenberg ’n kortstondige verhouding gehad het, het hom van onwettige optrede beskuldig, en Tom Moyane is as kommissaris van die SAID aangestel.

Walter het skynbaar bande gehad met omtrent almal wat by die tabakbedryf betrokke was, en sy het haar mantel voortdurend na die wind gedraai. Haar aantygings het Moyane die verskoning gegee om van Van Loggerenberg ontslae te raak.

Dit het die ondersoeke na onwettige tabakhandel laat ontspoor en die tabakbedryf en sy helpers toegelaat om ongehinderd te konkel. En daar word ordentlik gekonkel: die tabakbedryf, korrupte wetstoepassers, politici, prokureurs . . . Hulle skroom nie om loopbane en mense se reputasie te vernietig ter wille van ’n geringe voordeel nie.

Daar is ’n magdom maniere waarop tabakmaatskappye Jan Taks ’n rat voor die oë draai. Die rede vir die vindingryke vuil truuks is eenvoudig: Elke rand wat hy nie aan Jan Taks verklaar of betaal nie, is vir hom skoon wins.

Moet ook nie dink dis net die kleiner tabakmaatskappye wat skuldig is nie. Hulle is nie altyd onskuldig nie, maar Van Loggerenberg sê die genoteerde British American Tobacco, die grootste tabakmaatskappy in Suid-Afrika, is een van die voorbokke met die onwettige optrede.

Mense wat meer te wete wil kom van staatskaping en spesifiek die skade wat by die SAID aangerig is, behoort Tobacco Wars insiggewend te vind. Van Loggerenberg het in die binnekring beweeg en is klaarblyklik goed ingelig. Uiteraard is Van Loggerenberg nie objektief nie, maar ’n mens kry die indruk dat hy ’n eerlike weergawe van die gebeure probeer gee. Hy erken foute wat hy begaan het, en hy vertel van gevalle waar hy ’n rat voor die oë gedraai is.

Wat sy vertelling diepte gee, is dat hy verder as homself kyk. Hy is een van die mense wie se loopbaan vernietig is, maar hy vertel ook van ander, eerbare mense wat ’n prys moes betaal.

Tobacco Wars deur Johann van Loggerenberg. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R310.