The West Coast – From Melkbos to the Orange River deur Leon Nell. Uitgewer: Struik Nature. Prys: R300.

Leon Nell, wat sy lewe lank in natuurbewaring en die gasvryheids- en toerismebedryf in Namibië en Suid-Afrika gewerk het, is ook ’n reisiger in murg en been. Hy is veral lief daarvoor om plekke te besoek wat nie wemel van toeriste nie.

In dié boek het hy die Weskus – van Melkbosstrand in die suide tot waar die Oranjerivier in die Atlantiese Oseaan uitmond in die noorde – deurkruis om met plaaslike inwoners, vissermanne en boere te gesels oor dié stukkie aarde aan die kus.

Die boek verdeel die Weskus in vier streke – die suide, die sentrale deel, die noorde en die Diamantkus. Hy bestudeer die vroeë geskiedenis, leer ken die plaaslike kultuur en tradisies, besoek dorpies en beskryf die omgewing en natuurlewe.

Soos Helen Smeiman van St. Helenabaai sê: “Daar is ’n Weskus op die padkaart en ’n Weskus in jou hart.”

Met dié boek het Nell werklik probeer – en geslaag – om die Weskus as hartsplek vas te vang