Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R360.

Dié nuwe roman deur Etienne van Heerden gaan ’n bietjie breinkrag van jou verg, want ál sekerheid in die storie is ónsekerheid. Ontmoet ’n verskeidenheid karakters wat almal kenmerkend is van die tye waarin ons leef.

Daar is ’n prokureur wat in die warm water beland oor ’n twiet wat hy stuur, ’n oproerige student wat moet kies tussen haar pa en haar oortuigings, en ’n plastiese chirurg wat ’n man van Matjiesfontein met ’n delikate oorgangsprosedure help. Boonop is daar ’n kruisboogmoordenaar in Kaapstad los.

Die skrywer laat jou nadink met sy sosiale kommentaar oor die tye waarin ons leef, waar daar bykans nie meer iets soos privaatheid bestaan nie en identiteit nie langer ’n eenvoudige konsep is om vas te vat nie. En dan het ons ook te doen met fopnuus, wat dit moeilik maak om tussen die waarheid en die werklikheid te onderskei. Is die waarheid nog enigsins binne ons bereik?

Grensgeval deur Marita van der Vyver
Grensgeval deur Marita van der Vyver. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R280.

Marita van der Vyver is geen vreemdeling wanneer dit by Grensoorlog-letterkunde kom nie, en met haar jongste boek lewer sy nog ’n bydrae tot hierdie genre. Theresa ontdek ’n brief tussen haar oorlede eksman se besittings. Die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy babadogtertjie geskryf. Die soldaat het dit vir Theo gegee kort voor hy in die oorlog gesterf het.

Gou besef Theresa watter tragiese invloed die brief (saam met die oorlog) op Theo gehad het, soveel so dat hy jare lank in ’n inrigting moes deurbring. En sy kom agter watter ligsinnige, oppervlakkige tiener sy was in dieselfde tyd toe tienerseuns in ’n onsinnige oorlog op die grens moes veg.

Hoewel sy dit nie werklik kan bekostig nie, reis Theresa na Kuba met net een doel voor oë: Om die kind aan wie die brief gerig is, te vind. Maar dit is soos om ’n naald in ’n hooimied te vind, en mettertyd begin geniet sy ook die kleurryke, outydse motors en selfs ’n mojito of twee, terwyl sy probeer uitwerk wat dit beteken het om in die 1970’s in Suid-Afrika groot te word.

Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk
Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk. Uitgewer: Human & Rosseau. Prys: R380.

Jan Rabie, wat met sy kortverhaalbundel 21 die Sestigerbeweging ingelui het, was die vonk vir hierdie omvattende bundel. Elke deel in die boek begin met een van Rabie se sonderlinge kortverhale, gevolg deur uiteenlopende skrywers wie se werk op ’n manier daarmee in gesprek tree, dit eggo of selfs teenspraak lewer. Verhale werk immers in netwerke, soos die samestellers agtergekom het.

Al die klassieke Afrikaanse kortverhaalskrywers is daar: Abraham H. de Vries, Dana Snyman, Jeanne Goosen, Hennie Aucamp, P.G. du Plessis, Nathan Trantraal, Marlene van Niekerk, Koos Prinsloo … Daar is egter ook nuwe stemme onder die 57 skrywers wat altesaam 149 verhale bygedra het. Dit is mense soos Sisca Julius en Maruanda Wynne. Daar is ook verhale wat nog nie voorheen elders gepubliseer is nie.

Christine le Roux Keur 5 deur Christine le Roux (Eleanor Baker)
Christine le Roux Keur 5 deur Christine le Roux (Eleanor Baker). Uitgewer: Human & Rosseau. Prys: R265.

Die bekroonde skrywer wyle Eleanor Baker het in haar leeftyd ’n hele klomp liefdesverhale die lig laat sien onder die skuilnaam Christine le Roux. Haar talle aanhangers sal bly wees om te hoor nog ’n keur van haar werk – weer met drie boeke – is onlangs uitgereik. In die bundel verskyn Die ontbrekende helfte, Liefde uit die stormnag en Teësinnige erfgenaam. Altesaam 480 bladsye van heerlike romanse!

Toring van jasmyn deur Derick van der Walt
Toring van jasmyn deur Derick van der Walt. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R195.

Wanneer die Combrinks na Istanbul vertrek, is dit nie heeltemal die vakansie waarop hulle voorbereid was nie. Markus Combrink en sy suster verken die stad en raak selfs vriende met plaaslike tieners.

Maar dan tref bomaanvalle die stad, Markus se suster word ontvoer en die vakansie ontaard in ’n naelbyt-avontuur. Derick van der Walt het ’n goue Sanlam-prys vir jeuglektuur vir hierdie werk ontvang.

Net ’n bietjie dapper deur Nicola Kinnear
Net ’n bietjie dapper deur Nicola Kinnear. Uitgewer: Human & Rosseau. Prys: R165.

Die mooi voorblad trek dadelik jou aandag, maar dit is meer as net ’n oulike storie en pragtige prentjies. Hansie die huishasie is ’n regte bangbroek wat nie eens buite wil speel nie, want al die avonture klink vir hom té gevaarlik. Tot sy beste maatjie, Hannie, wegraak en Hansie haar moet gaan soek. En soos hy vermoed het, ís dit gevaarlik daarbuite.

Maar wanneer ’n nare wolf Hannie amper opvreet, dink Hansie op sy voete en maak ’n plan om haar te red. Die les? Ons is almal dapperder as wat ons dink.