Geskiedenis, politiek en finansiële sake verdien dié week ’n plek op jou leeslys. ’n Paar indrukwekkende boeke het onlangs uit die pen van gesoute skrywers verskyn.

Skelms deur die tye

Rogues’ Gallery – An Irreverent History of Corruption in South Africa, from the VOC to the ANC deur Matthew Blackman en Nick Dall. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R290.

Dink maar weer as jy onder die indruk is korrupsie in Suid-Afrika het eers onder die apartheidsregering of onder oudpres. Jacob Zuma en sy trawante kop uitgesteek. Matthew Blackman en Nick Dall skryf in hul jongste boek onder-die-tafel-transaksies, uitgeslape skelms en baantjies vir boeties is so oud soos Suid-Afrika self.

Dalk was Zuma oor een ding reg: Die probleem hét begin toe Jan van Riebeeck hier aangekom het! Hy het immers aan die Kaap beland omdat hy glo sy magsposisie misbruik het om homself te bevorder (hy’s tegnies nooit skuldig bevind nie – iets wat vandag ook gebeur).

Mense soos Willem Adriaan van der Stel, Cecil John Rhodes en Paul Kruger verdien almal ’n plek in die galery vir skurke, saam met die hedendaagse skobbejakke.

Grond, goud en mag is maar net ’n paar van die redes wat dié mense tot hul vergrype gedryf het. As dit nie so tragies was nie, kon dit snaaks wees dat bykans alles waaraan Zuma hom na bewering skuldig gemaak het, reeds in die verlede gebeur het.

Van der Stel het byvoorbeeld die grond waarop hy die plaas Vergelegen gebou het, verniet gekry. Hy het boonop die VOC se arbeid, saad en vee tot sy eie voordeel aangewend. Hoor ek iemand “Nkandla” sê?

Net so het die Broederbonders ook al te graag Eskom-transaksies aan hul stalgenote gegee – Zuma en die Guptas was nie die eerste om dít te doen nie.

Oneerbiedig en vermaaklik, waarborg die flapteks, en die leser kan maar weet dis wat op hom of haar wag as hulle dié boek oopmaak. Korrupsie was duidelik nog altyd met ons, en politici se streke het deur die eeue nie veel verander nie.

Grondkwessies

Land Matters – South Africa’s Failed Land Reforms and the Road Ahead deur Tembeka Ngcukaitobi. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R280.

Advokaat, akademikus en skrywer Tembeka Ngcukaitobi wend ’n baie ambisieuse poging aan om die vraag te probeer beantwoord waaroor almal wonder: Waarom is grondhervorming só ’n mislukking in Suid-Afrika?

Met dié boek probeer hy lig werp op een van die ingewikkeldste en dringendste kwessies in die land.

Ngcukaitobi takel die onderwerp in verskeie dele. In die eerste deel probeer hy ’n dieper begrip skep vir die aard van onteiening onder die koloniale en apartheidsera en hoe die destydse grondbesitstelsels en wetgewing mense se idee oor grondbesit en -gebruik gevorm het.

In die tweede deel ondersoek hy die ANC se grondbeleid – van die struggle-jare af tot nou – en probeer uitpluis hoe dit die grondprogram raak. Die derde deel bespreek suksesstories en mislukkings om die strukturele probleme met grondhervorming uit te wys.

Laastens werp hy ’n blik op die toekoms en stel ’n meer genuanseerde oplossing as blote onteiening sonder vergoeding voor om die grondprogram weer op koers te kry. Die kruks hiervan is volgens hom om opnuut te dink oor die betekenis van grond.

Geldslim

Finansiële Gemoedsrus deur Andrè Eloff. Prys: R300.

Ons almal behoort te weet hoe die inhoud van ’n testament moet lyk, hoe ’n boedel beredder word of wat die gevolge is van saamwoon of trou. Maar weet ons werklik?

Té dikwels word nie genoeg aandag aan dié sake geskenk nie, want dis eenvoudig te moeilik om aan kwessies rondom die dood te dink. En dan later, as dit te laat is, kom daar dikwels baie spyt dat ’n mens nie beter voorbereidings getref het of ingelig was nie.

Andrè Eloff is al 30 jaar lank betrokke by boedelbeplanning en fidusiêre aangeleenthede, soos testamente, trusts en boedelbereddering. Hy skryf ook gereeld rubrieke oor geldbeplanning in Landbouweekblad. Uit sy pen het pas ’n boek – Finansiële Gemoedsrus – verskyn om mense te help met die prosesse en stappe rondom die dood.

Hierin behandel hy praktiese sake, van die begrafnisreëlings en hoe om die boedelbereddering te begin tot hoe om skuld te delg en belastingverpligtinge na te kom. Die boek is besaai met grys kassies waarin nuttige wenke gegee word wat ’n mens gerus maar kan onthou wanneer dit by geldsake kom, want dit kan heelwat verwarring en frustrasie help uitskakel.

Dis ’n goeie plan om dié boek as ’n egpaar saam deur te werk en seker te maak jul beplanning vir die onvermydelike is voldoende. Dit sal sommer ook die gesin kans gee om tameletjies te bespreek, soos wat om te doen as jou seun ’n vuurwapen erf, maar hy is te jonk vir ’n lisensie.

Die boek (ook in Engels beskikbaar as Financial Peace of Mind) kan by die skrywer bestel word. Kontak hom by andre.eloff@hotmail.com of bel 082 446 8078.