My Sweet Life deur Faaiza Omar. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R450.

Hierdie boek is enige soettand se droom. Faaiza Omar het haarself die fynere kunsies van koeke, kaaskoeke, nageregte, roomys en alles wat dekadent is, geleer.

Aangesien sy nie ’n opgeleide sjef is nie, gee sy baie nuttige en praktiese wenke vir enige tuiskok wat sy of haar hand aan ’n paar moeiliker soet resepte wil waag. Dink aan makrolletjies, heuningkoek of brioche – dis nie eenvoudig om aanmekaar te slaan nie, maar jy kan verseker wees van jou gaste se goedkeuring.

Faaiza is gek oor reis en waar sy ook al kom, doen sy moeite om die stad se geure en smake te ontdek. Benewens die Franse lekkernye is daar ook Indiese geure, nageregte wat deur die Midde-Ooste geïnspireer is en selfs ’n Sweedse prinseskoek en Japanse spookasem-sponskoek.

Die boek vier beslis die soeter dinger in die lewe en maak jou lus vir teepartytjies met mooi gedekte tafels en fyn breekware.

Dorah Sitole – 40 Years of Iconic Food. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R380.

Dorah Sitole – 40 Years of Iconic Food. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R380.

Dorah Sitole was een van die bekendste kosskrywers in Suid-Afrika. Sy is vroeër vandeesmaand op 67 vanweë Covid-19-komplikasies oorlede – wat hierdie boek ’n baie kosbare nalatenskap maak.

Dorah het destyds by die Canned Food Advisory Service gewerk, waar haar passie vir kos in ’n loopbaan ontaard het. Daarna het sy in 1987 by True Love ingeval, waar sy veral bekendheid verwerf het as kosredakteur en later redakteur. Sy het reeds drie resepteboeke geskryf en was by verskeie ander betrokke. Dié boek span die kroon op haar glorieryke loopbaan in die kosbedryf.

Met klassieke, tradisionele en moderne resepte is dit ’n nuttige boek vir enigeen wat sy of haar weg in die kombuis moet vind. En Dorah se wens dat dit as verwysingsbron met omkrulbladsye op jou kombuistoonbank moet woon, is nie vergesog nie. Met dié boek kan jy van eenvoudige gesinskos tot uithaler-onthaalkos voorsit.

Die boek is opgedeel in hoofstukke wat sekere fases in Dorah se lewe verteenwoordig en haar aangrypende verhaal deur kos vertel – van honger township-kind tot kosikoon.

Wat uitstaan, is hoe universeel kos is. In die hoofstuk oor die klanke, smake en geure van Soweto vind jy frikkadelle in tamatiesous, dik boontjiesop en aartappelslaai. Blaai jy verder deur die hoofstukke oor Afrika, Mauritius, Israel, Italië en Frankryk sien jy net soveel raakpunte, wat net weer wys mense oral hou van die lekker dinge in die lewe. 

The Lockdown Recipe Storytelling Book saamgestel deur Ingrid Jones. Uitgewer: Annake Müller Publishing. Prys: R450.

The Lockdown Recipe Storytelling Book saamgestel deur Ingrid Jones. Uitgewer: Annake Müller Publishing. Prys: R450.

Kort ná die staat van inperking aangekondig is, het die joernalis en TV-persoonlikheid Ingrid Jones ’n Facebook-groep gestig met die naam The Lockdown Recipe Storytelling Book. Daar het meer as 2 000 lede saamgesels oor die kos wat hulle voorberei en baksels wat uit hul oond kom – alles in ’n poging om hul geliefdes gesond te hou, maar ook gekoester te laat voel.

Omdat almal meer tyd gehad het, het hulle weer soos hul ma’s en oumas begin kos maak. Só is familieskatte weer afgestof en soms ’n nuwe baadjie aangetrek, maar die kos is altyd met vreugde en ’n goeie skeut herinneringe en nostalgie geniet.

Uiteindelik het Ingrid ’n keur van die uiteenlopende stories en resepte wat op die groep geplaas is, in boekvorm saamgevat. Van die mooiste verhale handel oor mense se grootwordjare op die Kaapse Vlakte, oor Vrydae wat visdag was, hoe om ’n gereg vér te rek om vele monde te voed, en mense wat pronk met hul ingemaakte produkte.

Die boek se titel verwys dalk na ’n spesifieke tyd in Suid-Afrika se geskiedenis, maar die inhoud strek oor geslagte se familietafels en erfeniskos heen.