Vir baie mense roep dit herinneringe uit hul kindertyd op. Hoe dan anders? Van ons het as kinders laas die bros korsie van ’n warm, tuisgebakte brood geproe – waarskynlik in ouma se kombuis.

Vir mense wat lief is vir die tydsame proses van brood bak met gis, meel en water is die proses terapeuties en elke stap ’n lekkerte. Om jou hande in ’n louwarm, klewerige, meel-gis-en-watermengsel te druk en te begin knie tot dit ná ’n paar minute in ’n fluweelgladde, elastiese deeg verander, is waarlik terapeuties. Om te kyk hoe die deeg rys en bo die pan uitklim, is gewoon wonderlik. En dan daardie eerste, warm sny – die beste beloning. 

Ongelukkig is die lewe deesdae vir die meeste van ons te besig en gejaag om gereeld op hierdie tydsame manier te bak. Maar dit beteken nie dat jy nie die aroma en smaak van tuisgebakte brood kan geniet nie. Vandeesweek besing ons die lof van die roerbrood – ’n vinnige en maklike oplossing as jou tyd min is, maar jy steeds iets tuisgebak op die tafel wil sit. 

Terwyl ons oor brood bak praat, moet ek ook vinnig oor meel gesels. Die terme gluten- en koringintoleransie word deesdae oral gehoor en maklik gebruik. En brood word gereeld as die sondaar gebrandmerk. 

Baie van hierdie beskuldigings en vrese spruit ongelukkig uit onakkurate inligting wat aan verbruikers gevoer word. Jy kan nie alle soorte meel of alle brood oor dieselfde kam skeer nie. 

In die Overberg-uitgawe van Landbou Boerekos, wat nog vir die volgende drie weke op die winkelrakke is, gesels Lucille Botha juis met Nico Steyn, meulenaar en hoofbestuurder van Eureka Meulens by Heidelberg in die Overberg hieroor. Hulle gesels ook oor die verskil tussen gebak wat van gesonde, steengemaalde meel gemaak word, teenoor kommersiële produkte wat in groot maat vervaardig word. 

“Die mens eet al duisende jaar lank brood, maar mense het eers die afgelope tien, vyftien jaar gluten- en koringonverdraagsaam begin raak. Ons moet onsself dus afvra wat verander het,” sê Nico. 

Gaan lees gerus die insiggewende artikel op bladsy 66 en 67 oor die verskil wat jy sal sien, proe en voel as jy bak met gesonde meel wat op die regte manier van goeie koring gemaal is, teenoor die produk waarvan die meeste van ons kommersiële brood gebak word.  

En gaan stof dan daardie broodpanne af!