’n Suid-Afrikaanse maatskappy, Bokashi Bran, het ’n plaaslike resep ontwikkel wat organiese kombuisafval, waaronder gekookte kos, volgens die Japanse bokasji-metode in kompos omskep.

Mikrobes wat in lae tussen die kombuisafval gestrooi word, sit ’n kragtige fermentasieproses aan die gang wat die afval in ’n toe houer, soos ’n emmer met ’n deksel, binne ’n paar weke tot kompos verwerk.

Die maatskappy, waarvan die hoofkantoor in Roodepoort in Gauteng is, vervaardig en verkoop nie net sakkies Bokashi Bran nie, maar ook verskeie stelsels waarmee van tuiskombuise tot groot kommersiële kombuise se organiese afval verwerk word.

Die maatskappy het pas ’n nuut ontwerpte beginnerstelsel geskep. Dit bestaan uit twee 25 liter-emmers, elk met ’n sif binne-in, ’n kraantjie naby die bodem, ’n doelgemaakte kombuishouer waarin die voedselafval versamel word voordat dit na die emmer gaan, twee sakkies Bokashi Bran en ’n maatlepel.

Een sakkie hou tot ses weke in die meeste huishoudings.

PRYS: R550 vir die beginnerstelsel. 

NAVRAE: Web: www.bokashibran.co.za; info@bokashibran.co.za, 082 456 9225