In ’n gesprek as deel van die skrywersprogram op die US Woordfees het hy aan Lucille Botha, assistentredakteur van Landbouweekblad, gesê al het hy nog nooit ’n kontrak gehad nie, het hy “maar net aangehou skryf” nadat hy aanvanklik tydelik waargeneem het. Hy “praat grondlangs” en sy kort rubrieke is kragtig en altyd aktueel.

Hy kom uit ’n diepgewortelde boerefamilie – ses geslagte of meer – en het buiten sy teologie-opleiding ’n koringgraderingskursus as student gevolg waarmee hy “uitgaangeld” kon verdien. En op 70 het hy ’n uitdaging van sy kleinkinders aanvaar en ’n Dorperbeoordelingskursus gevolg – met die tweede hoogste akademiese prestasie in sy klas.

In sy byna 30 jaar lange verbintenis met die Groote Kerk in Kaapstad het dit hom opgeval hoeveel stedelike lesers hy het. “Ons is eintlik maar nog almal boere, en iewers het almal tog ’n skakel met ’n boereagtergrond.”

Sy twee “onuitputbare bronne” vir die 2 500 rubrieke is die skriftuur en die natuur. “Dit maak my hartseer as ek sien hoe die mens met die natuur tekere gaan. Die mens met sy intellek het ’n bestuursverantwoordelikheid, maar gemeet aan die water- en ontbossingsprobleem weet ek nie eens of ons 2 uit 10 sal kry vir hoe dit opgepas word nie.”

Lyding, nog ’n deurlopende tema, is iets waarop hy nie altyd ’n antwoord het nie. “Hoewel mens nie altyd ’n oplossing kan gee nie, help dit tog om daaroor te praat.”

Met sy oë en ore heeltyd oop put hy groot inspirasie uit eiesoortige frases waarmee mense in doodgewone gesprekke opkom. “ ’n Beskrywing soos ’n rondom mooi mens, uitdrukkings soos ‘die klaarkry van ’n saak lê by sy aanvat’ en ‘die dag is nie aan ’n riem vasgemaak nie’, stuur my gewoonlik in ’n rigting.”

Genade, ’n deurlopende boodskap in sy rubrieke, het eintlik neerslag gevind toe hy as tweejarige kind byna weens ’n longsiekte gesterf het. ’n Dokter het aan sy ouers gesê hulle moet afskeid neem, maar Van der Westhuyzen se pa wou ’n tweede mening inwin – toevallig dié van ’n jong aflosdokter, dr. Fransie van Zijl, wat dieselfde mening gehuldig het. Op aandrang van sy pa het Van Zijl, later dekaan van die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit, ’n noodoperasie op die afgeleë plaas gedoen en vier ribbes afgesaag het om sy longe te behandel. “Ek word beskou as ’n genadekind.”

Die langste aaneenlopende rubriekskrywer in Media24 – vanjaar is die vyftigste jaar dat sy netjies geskrewe, foutlose papiervelle wat per pos na die kantoor gestuur word, in die tydskrif en later selfs boekvorm verskyn. Van der Westhuyzen se derde boek, Hart tot hart: 366 grootdrukdagstukkies, het verlede jaar verskyn saam met die eeuviering van Landbouweekblad

Hoewel hy ongelooflik lojaal aan die kerk is, is die gebrek aan invloed iets wat hom bekommer. “Die simboliek van die kerk en klere het verlore gegaan. Daarin opgesluit lê respek, want jy praat immers namens ’n groot Man. Die kerk is besig om sy invloed te verloor . . . Niemand is sonder foute nie, en as jy ’n fout maak, maak jy dit tog reg. Jy vra jouself dikwels af wat die kerk se standpunt is. As die pous praat, weet jy waar jy staan – of jy daarmee saamstem of nie.”