Waar het jy grootgeword en hoe het kosmaak só ’n groot deel van jou lewe geword?

Ek is amper in ’n hut gebore – diep in die berge in Mpumalanga. My pa was ’n boer en ek het so tussen die koedoes, skape, aartappels en sojabone grootgeword. Landbouweekblad was elke week een van my hoogtepunte – my pa sou Woensdae dorp toe gaan en terugkom met die nuwe uitgawe en dit op die koffietafel neersit vir ons almal om te geniet. Ek het die resepte elke week verslind.

My liefde vir kosmaak is aan my oumas en ouers te danke. Ons was van kleins af saam met hulle in die kombuis. Ouma Ansie het elke maand blikke anysbeskuit en koekies en skuimpies gebak en ons klein handjies was saam met hare in die groot emaljeskottel.

Oupa Danie het weer gemmerbier en fudge van sy Pretoria-huis af saamgebring plaas toe. Hy het dit self met baie liefde gemaak. Die lekkerste fudge ooit – donkerbruin en suikersag.

Ouma Ansie was kwaai oor dinge soos bruinbrood en bruinrys en olyfolie. My kleinkind-mondjie was nie baie bly daaroor nie, maar vandag is ek! Ek is van kleins af aan gesonde (en effens ongesonde) smake blootgestel. Die Jerseykoeie se room het botter of roomys geword.

Daar was elke paar maande ’n groot vleiswerksessie en almal was betrokke. Ek kan tot vandag toe die reuk van die slaghuis onthou. Só het ek geleer waar alles vandaan kom. Dit was heerlike grootwordjare.

Ek wou as 15-jarige graag oorsee gaan en my pa het aangebied dat ek in die aartappelseisoen die pakkery bestuur. Ek het skool tussendeur gedoen (ek het tuisonderrig by my ma gekry), maar elke dag van 07:00 tot 17:00 was ek by die aartappelmasjien. Ek sal nooit sy geruk-ruk vergeet nie.

Die aartappels kom vol bruin grond in groot meelsakke by ons aan en dan is dit in die wasser en dan in die sorteerder. Niks stink soos ’n vrot aartappel nie! Die masjien sou elke nou en dan vashaak en dan het my hart bietjie in my skoene gesak, maar ons kon hom altyd met ’n spanner of twee weer aan die werk kry.

Jy het ’n suksesvolle loopbaan in die kosbedryf uitgekerf. Hoekom het jy juis dié bedryf gekies?

Want kos is ’n wonderlike ding! Dit voer, troos, genees en bring samesyn. Ek is dankbaar aan elke liewe boer daar buite wat dit vir ons sjefs moontlik maak om heerlike geregte aanmekaar te slaan en só die vreugde van kos met almal te kan deel. My ma het my ruimte gegun om my liefde vir kosmaak te kweek en as kind en tiener was die kombuis my speelgrond. (Dankie, Ma!)

Met die jare van kook, reis en ’n diploma by ’n sjefskool het ek aanhou leer en ek leer nog elke dag. Vandag werk ek as sjef en kosstilis.

Vertel ons meer van jou TV-program Koskaskenades op SABC2.

Dit is ’n leefstyl-en-kookprogram. Ek reis die land vol en kuier by mense in hul huise. Ek kook dan vir spesiale geleenthede net met wat in hul koskaste, yskaste en my trommel is. Ek doen ook ’n mooi selfdoenprojek wat by die tema aansluit en dek ’n pragtige tafel – alles met wat my gashere in hul huis of op hul werf het.

My ma het ons van kleins af geleer dat jy altyd iets uit min kan maak, en dat daar altyd rede is om fees te vier! Op die plaas, met die naaste winkel wat 50 km ver was, moes jy op jou voete leer dink en dit gebruik wat jy het. 

Kyk op Dinsdae om 19:00 saam op SABC2, en volg Caro by @caroalberts op Instagram of Caro Kook op Facebook.