Ek en my vrou, Lizette, het vir twee weke in Duitsland by twee Duitse gesinne gebly wat dieselfde hartstog as ek deel: boerdery en jag. Die eerste gesin is Jurgen en Juta Böhm wat in Messdorf, sowat 200 kilometer wes van Berlyn, boer.

Hulle boer op grond wat Juta geërf het. Hulle het dit ná die Tweede Wêreldoorlog verloor, maar ná die val van die Berlynse Muur in 1989 teruggekry. Hul boerdery behels ’n melkery met biogas as neweproduk waarmee krag opgewek word.

Hulle verdien meer met die koeie se mis as met die melk! Jurgen rig ook karperde en hul bestuurders af. In Duitsland moet jy ’n lisensie hê om ’n perdekar te dryf.

Timmy, ’n jong Poolse vriend van die Böhms, het ons op ’n perdekar, getrek deur twee pragtige swart perde, op ’n toer deur Messdorf geneem. Jurgen het al wêreldwyd gejag.

Die jag wat vir hom uitstaan, was die een in Kanada op soek na ’n bergbok. Hy en sy beroepsjagtergids het met ’n amfibiese vliegtuig op ’n meer geland. Vanuit ’n jaghut direk langs die meer het hulle die sneeubedekte pieke gefynkam vir ’n trofeebok.

Ná ’n paar dae se jag en ’n lang bekruip het hy uiteindelik sy bok gekry. Nou het die moeilikste deel van die jagtog aangebreek: die herwinning van die trofee.

Sy gids het die toerusting gedra en Jurgen het die kop en nek van die bergbok vir ’n skouermontering gedra. Jurgen is ’n groot en sterk man wat in sy jong dae vir Duitsland gestoei het.

Met die terugtog moes hulle ’n baie skuins, gruisbedekte berghang kruis. Die gids met sy ligter pakkaas kon maklik oorkom, maar Jurgen met sy swaar las het begin gly en was byna oor die rand van ’n afgrond!

Hy wou sy trofee weens uitputting en vrees net daar los, maar die gids het hom moed ingepraat en hulle het uiteindelik die jaghut bereik.

Nag van beproewing

Die gids is ná die jagtog terug en Jurgen het vir ’n paar dae alleen agtergebly om vis te vang en die mooi natuurskoon te geniet. Een aand terwyl hy by die tafel in die hut sit en lees, was daar eers ’n kraakgeluid en toe ’n geweldige slag.

’n Boom het op die houthut geval. Dit het hom rakelings gemis. Die tafel was middeldeur en so ook sy geweer. Die hut was totaal en al verwoes en kon dus geen skuiling vir hom bied nie.

Nou was hy in tamatiestraat. Geen skuiling en geen geweer om hom te beskerm teen die bruinbeer wat elke aand die kamp kom besoek het nie. Ten einde raad het hy die boot waarmee hulle op die meer visgevang het, omgekeer en ’n koue nag onder die boot deurgebring.

Die volgende dag het hy per satellietfoon hulp gekry. Die vlieënier van die amfibiese vliegtuig kon sy oë nie glo toe hy die totale verwoesting van die jaghut sien nie, en het tot Jurgen se ontsteltenis eers ’n paar keer oor die gebied gesirkel voor hy geland het.

Die beer het in die nag ’n paar keer om die boot geloop. Sy vars spore het daarvan getuig. In Duitsland word die gebied rondom dorpe en stede op ’n tenderbasis deur die departement van natuurbewaring aan ’n groep jagters verhuur.

Die jagters is dan verantwoordelik om jaarliks die getal wild, soos deur die departement voorgeskryf is, te skiet. Die getal word baie wetenskaplik bepaal en op verskillende plekke in die woude word ’n paar vierkante meter wildwerend omhein.

Die skade aan die omliggende plantegroei deur verskillende wildspesies kan dan bepaal word deur dit met die toegespande deel te vergelyk. Daar word dan aan die jagters voorgeskryf watter geslag en spesie hulle moet skiet. Indien te veel of te min geskiet word, kan die jagters beboet word.

Indien bosvarke skade aan die omliggende boere se gewasse aanrig, moet die jagters daarvoor betaal. Daar is geen drade wat die natuurgebiede van die landerye skei nie.

Varkjag naby Stuttgart

Ons ander vriende, Hubert en Claudia Kühlmann, woon in Mönchberg naby Herrenberg, wat suidwes van Stuttgart geleë is. Hubert het ’n doktorsgraad in plantteling en doen grondinspeksies vir groot saadmaatskappye.

Claudia is ’n kunstenaar en fotograaf. Hierdie gebied is meer woudagtig as by Messdorf en is ook nader aan die bekende Swartwoud. Dit is ook nie ver van Straatsburg af nie, waarvandaan die Strauss-stamvader, Georg, in 1723 met die skip Die Adelaar na Suid-Afrika geëmigreer het.

Straatsburg was op daardie tydstip deel van Duitsland, maar val nou onder Frankryk.

Ons het ook die voorreg gehad om die Protestantse gemeente van St. Pierre le Vieux, waar Georg Friedrich Strauss, die derde kind van Johann Christoph Strauss en Maria Dorethea Strauss (néé Becht), gedoop is, te besoek.

Saam met Hubert het ons hul jaggebied verken, bietjie in die Hochsitze geklim, voerplekke vir varke besoek en in die woude gestap om die atmosfeer van die mooi natuur te ervaar.

Voerplekke, met mielies as aas, word naby die Hochsitze gemaak. ’n Houtkas met ’n horlosie daarin word bo-op die mielies geplaas, en as die vark die houtkas omkeer om by die mielies te kom, registreer die horlosie die tyd.

Die jagter weet dan hoe laat die varke wei. Die meeste wild word in die nag vanuit die Hochsitze met slegs natuurlike lig geskiet. Dit is hier waar teleskope met 56 mm-lensopeninge tot hul reg kom.

Die beste tyd is rondom volmaan, en dit is nóg beter as daar ’n lagie sneeu is wat die lig weerkaats. Dit is hier teen die wet om in die nag met enige ligte te skiet.

Die Duitsers is passievol oor jag en die hele gemeenskap is deel van die tradisies. Een maal per jaar word ’n groot gemeenskapsjag gehou. Die jag word met die blaas van ’n beuel deur die hoofjagter, ons vriend Hubert, geopen.

Die hele dorpie neem daaraan deel. Die gewone dorpenaars dien as aanjaers en die jagters sit die varke in Hochsitze voor. Daar word ook van verskuifbare Hochsitze met dryfjagte gebruik gemaak sodat die jagters ’n linie kan vorm waardeur die wild moet beweeg.

Baie van die wild moet in die hardloop geskiet word, en veral die bosvarke gaan staan nie maklik nie. Wanneer ’n bosvarksog uit die woud hardloop, moet daar eers seker gemaak word sy het nie kleintjies nie voor daar geskiet mag word.

Indien sy kleintjies het, mag die jongetjies geskiet word, maar glad nie die ma nie.

Die redenasie is: Sou die ma geskiet word, sal die kleinjies van honger vrek. Tuis word heerlike tradisionele disse voorberei en ná die jag word groot fees gevier met eg Duitse bier en wildskos.

Nou was hy in tamatiestraat. Geen skuiling en geen geweer om hom te beskerm teen die bruinbeer wat elke aand die kamp kom besoek het nie.

Vreemde geweer, goeie skoot

Soos verwag kan word, is Duitsers ook hartstogtelik oor hul gewere en besit my twee vriende gewere waaroor die meeste van ons net kan droom. Die meeste daarvan is van voorgeslagte geërf.

In Duitsland is drieling-gewere baie gewild. Dit is een geweer met drie verskillende kaliber lope. Om met hierdie gewere te skiet, verg nogal kophou om te weet watter sneller om vir watter loop te gebruik.

Die drieling is gemaak om op dieselfde jag voëls in vlug, kleinwild soos hase, en groter wild, soos verskillende hertspesies, te skiet. Met Jurgen se Blasernekbreker, ’n .243-kaliber, het ek ’n paar keer saam met hom en klein Timmy gaan reebokke jag.

Reebokke is, hoewel dit ’n bok genoem word, eintlik ’n hert, wat so ’n bietjie groter as ons steenbokke is. Die Duitsers gebruik die naam “das Reh” of “Rehwild” om albei geslagte aan te dui en “Rehbock” om die ram aan te dui.

Bedags is die reebokke hoofsaaklik in die mielielande en kom dan teen laatmiddag uit om in die ooptes te wei. Ons het een middag laat teen die Biesserivier, wat later die Alandrivier word en dan in die Elberivier invloei, gejag.

In die rivier kom ’n beweragtige dier, die sogenoemde nutria, voor. Dit is glad nie aan bewers verwant nie en kom oorspronklik uit Suid-Amerika.

Die Russe het met hierdie beweragtige diertjies vir hul pelse begin boer. Toe die pelsmark in duie stort as gevolg van die druk van diereliefhebbers, is die hokke net oopgemaak en die oulike diertjies kom nou in baie van die riviere in Duitsland voor.

Ons het die middag wel ’n pragtige reebokram gesien, maar nie skietkans gekry nie.

Op ’n ander dag in dieselfde gebied het ons ’n paar bokke gesien en hulle deur ’n boskasie probeer bekruip, maar hulle het ons gesien en laat spaander voor ons kon skiet.

Hiervandaan het ons versigtig langs ’n spoorlyn gestap met bome en struike as skuiling. Ons was op pad na ’n klein stukkie ongestroopte mielies tussen die rivier en die spoor waar Jurgen vroeër ’n paar reebokke gesien het.

Ons het op die kant van die mielies tussen ’n paar bome gaan staan en wag. Ná omtrent 90 minute, so teen agtuur die aand, het ’n ooi te voorskyn gekom.

Die ram wou egter nie uitkom nie en teen halfnege, met die lig wat nou baie vinnig verswak, het Jurgen gewys dat ek moet skiet. Omdat Messdorf ver noord geleë is, bly dit baie lank skemer.

Die bok het geen reaksie met my skoot getoon nie en het tussen die mielies ingehardloop. Ons het na bloed gesoek, maar kon niks kry nie.

Jurgen het toe sy hond, Hera, ’n kleiner Münsterländer, in die motor gaan haal. Terwyl hy weg was, het ek getwyfel oor my skoot. ’n Vreemde geweer, ’n vreemde omgewing, swak lig.

Het ek dalk die skoot verbrou? Hera, wat geleer is om ’n bloedspoor te volg, kon aanvanklik geen spoor kry nie, maar Jurgen het haar opgetel en op ’n ander spoor gesit wat sy soos blits gevolg en oomblikke later begin blaf het.

Timmy het soontoe gehardloop en op Duits geroep dat die bok dood is. Dit was ’n goeie skoot.

Dit is met sulke tye dat ek nie anders kan nie as om vir die Groot Vader dankie te sê vir wonderlike voorregte wat my al as jagter te beurt geval het.

Daardie aand het ons tot laat gekuier en ons jagstories gedeel. Hierdie hele Duitsland-ervaring was wonderlik. Ek is seker daarvan my Strauss-van en Duitse herkoms is waarskynlik die rede vir my liefde vir jag!

Die uittreksel kom uit ’n Leeftyd se bekruip deur die boer en skrywer Dawie Strauss.

Die bundel bevat dertig jagstories wat oor vastelande heen strek en maak die leser déél van die voorlê, bekruip en jagseges (of -teleurstellings). Dit kos R220 en word deur Naledi uitgegee.

Die uittreksel kom uit ’n Leeftyd se bekruip deur die boer en skrywer Dawie Strauss. Die bundel bevat dertig jagstories wat oor vastelande heen strek en maak die leser déél van die voorlê, bekruip en jagseges (of -teleurstellings). Dit kos R220 en word deur Naledi uitgegee