Waar kom Suid-Afrikaners se voorliefde vandaan om met viertrekvoertuie en daktente die boendoes in te vaar? Daardie onblusbare behoefte om die luukses van die gewone lewe prys te gee om eerder effens ongemaklik onder ’n sterredak langs ’n kampvuur te gaan slaap?

Erik Holm kom redelik naby daaraan om hierdie tergende vraag te beantwoord in sy besonderse nuwe boek, Die Ossewa en Sy Spore. As ’n bobaas-storieverteller is Holm geseënd met ’n fyn oog vir die ongewone. Voeg daarby die buitengewone vermoë om tot die kern van ’n onderwerp deur te dring, asook die skryftalent om al die inligting onderhoudend aan te bied, en die eindproduk kan net bevredigend wees.

Lesers het waarskynlik al kennis gemaak met dié oudhoof van die departement entomologie aan die Universiteit van Pretoria en deesdae ekologiese raadgewer by die landboumaatskappy ZZ2, hetsy deur sy gereelde koerant- of tydskrifrubrieke, radiopraatjies en TV-verskynings.

Met sy vorige boek, Inseklopedia, het Holm weer bewys hoe knap hy die sluier kan lig oor ’n onderwerp waaraan gewone mense dalk nie veel aandag gee nie, naamlik insekte. Die eindproduk is ’n aangrypende blik op ’n wonderwêreld van diertjies wat deurslaggewend is tot die mens se oorlewing, boonop aangebied met hope humor en groot insig.

’n Bokwa as ’n voltent- of ’n nagmaalwa. Dié Oos-Kaapse wa is deur Symons se fabriek vervaardig. Die skildery is deur die bekende Jeff Huntley.

Leser word meegesleur

In Die Ossewa en Sy Spore is Holm weer op sy stukke. Waens, soos insekte, is iets waarvan hy baie weet. As ’n meesterwabouer het hy die afgelope 30 jaar aan ’n verstommende 100 waens gewerk. Daar is ook sy persoonlike versameling waens op sy plasie naby Hartbeespoort wat ingespan word as oornagverblyf vir besoekers. Hy het alles self gedoen – van vellings vasbrand tot die waens beskilder.

Die boek begin by die begin. Wat is die herkoms van hierdie eg Suid-Afrikaanse verskynsel, naamlik statige ou ossewaens sonder vere wat deur lang spanne osse getrek is? Watter tegnologie het hierdie taai vervoermiddel só revolusionêr gemaak?

’n Onkundige skrywer sou lesers maklik kon verloor in ’n stortvloed tegniese besonderhede, maar in Holm se kundige hande is die teks só verweef met fyn waarnemings, interessanthede en humor dat die leser nie anders kan as om meegesleur te word in wat geleidelik in ’n groter verhaal ontvou nie.

Dit is ’n verhaal waarin die ossewa ál wyer draaie deur ons verlede ry, soos dit as ’n suksesvolle leitmotief dien vir ’n geskiedenis van Suid-Afrika wat min mense ken.

Geen byskrif

Ook die storie van mense

Die leser word voorgestel aan die wamakers van ouds, ’n ambag wat eens deel was van die grootste vervaardigingsbedryf in Suid-Afrika en aan die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling gestaan het.

Eers was daar die kakebeenwa wat vrag van 1 ton kon dra en vryburgers op jagekspedisies en sendelinge binneland toe vervoer het, en later Voortrekkers oor die Limpoporivier geneem het. Dit is egter ook die storie van die mense wat die waens gebruik en bewoon het – hul gewoontes, teenspoed en drome.

Die bokwa kon 5-10 ton vrag vervoer. Dié werkesels sonder weerga was deurslaggewend in die ontwikkeling van Suider-Afrika. Transportryers het die waens ingespan om byna alles te karwei wat vervoer kon word.

Hierdie waens is ook deur die katastrofiese Anglo-Boereoorlog, die verwoesting van die runderpes en die Eerste Wêreldoorlog voor ’n swanesang as nagmaal- en feeswaens op plase.

Daarna het die ossewa voortgeleef in ons liedere, simbole, speelgoed, plekname en taal. Holm wys tereg daarop daar is ’n groot verskil tussen voor op die wa wees en om die wa deur die drif te trek!

Die besonderse diere wat die waens getrek het, kry ook aandag. Afrikaners, Nguni’s en swart Uysbeeste, wat later die Drakensberger sou word, het touleiers se mondelinge bevele op ’n eiesoortige manier verstaan.

Die eertydse vryburgers het die kuns om trekosse te gebruik, aanvanklik by die Khoi geleer, voordat die oor-en-weer gestelery van beeste begin het, wat steeds voortduur.

Die samestellers verdien erkenning vir die groot hoeveelheid visuele materiaal in die boek. Dit lyk asof elke denkbare verwysing na ossewaens vanuit elke klein plattelandse museum en private versameling opgediep is – van Thomas Baines en W.H. Coetzer se bekende skilderye van trek- en ossewaens, foto’s met ongewone historiese waarde uit familiealbums, diagramme van kleiosse, tot fotomateriaal oor hoe om ystervellings op wawiele te sit. Alles is daar.

Die boek sluit af met ’n volledige katalogus van oorblywende ossewaens, heel gepas vir ’n boek wat soveel meer as net ’n geskiedenis van waens is. Dit is eerder die storie van hoe die siel van ons land en sy mense deur hierdie ikoniese vervoermiddel geslyp is – soveel so dat waens selfs in die ANC en Cosatu se kentekens ’n tuiste gevind het.

Navrae: Om bestellings te plaas, stuur e-pos aan die uitgewer by kontak@imprimatur.co.za.Die boek kos R690.

Boekekuier met Erik Holm

Lesers van jou rubrieke in Landbouweekblad het ’n groot bydrae tot die sukses van die boek gelewer, nie waar nie?

Ja, dit was die reaksie op daardie reeks artikels in Landbouweekblad so drie jaar gelede wat hierdie boek hoegenaamd moontlik gemaak het.

Ek wil al die boere bedank vir die inligting wat hulle vir my gestuur het, en die geduld en gasvryheid as ek self na waens kom kyk het. In die proses kon ek byna 500 ossewaens sien, en baie ook behoorlik restoureer. Die meeste van die inligting oor die bouwyses van waens oor die eeue heen het ek ook só ingewin.

Wat is die “spore” van die ossewa waarna die titel verwys?

Dit is die grootste deel van die boek, en het ontwikkel uit die “spore” wat ons ossewaens tot vandag toe nagelaat het. Ons taal is deurspek met ossewa-terme (dink maar aan trek pleks van verhuis, wawyd, inspan, dwarstrek, laat slaplê . . . en dosyne meer), asook die kostelikste spreekwoorde waarvan meer as honderd aangeteken is.

Dan ook al die honderde gedigte, liedjies, stories, raaisels en kinderversies in Afrikaans wat na die ossewabedryf verwys.

Erik Holm het die afgelope 30 jaar al aan bykans 100 ossewaens gewerk.

Vanwaar die belangstelling in ons waens?

Dit strek nou al oor 30 jaar. Ek word gedurig verras met alles wat ek te wete kom. Ossewaens is eiesoortig aan Suid-Afrika, en daar is niks oor hulle in die internasionale literatuur te vinde nie. Soos alles waaraan die boere hul hand waag, was ossewaens ook gou die bes ontwerpte, duursaamste en sterkste diere-vragvoertuie ter wêreld.

Ek het met baie foto’s en sketse die evolusie van ossewaens en die wamakersbedryf gedokumenteer – en ook die inheemse houtsoorte wat tot hul gehalte bygedra het. Niemand kan navorsing begin doen oor die detail van kunstige smeewerk, houtwerk en beskildering en nie ontroer word deur die gehalte van die eerbare handewerk van die honderde wamakers waarvan ek nog kon rekords kry nie.

Praat van ossewaens, en ’n mens dink aan die Groot Trek. Maar daar is baie meer as net dít?

Ja, die ossewa word meestal met die Groot Trek verbind, maar ewe belangrik is dat al die vroeë Europese en Engelse ontdekkingsreisigers Afrika met ons ossewaens verken het, selfs Livingstone en Stanley!

Die rol wat die togryers gespeel het om Suid-Afrika (en die hele binneland van Afrika) te ontsluit en die mynbou moontlik te maak, is uniek. Só ook die rol van waens in die oorloë vanaf die grensoorloë in die Oos-Kaap en die Voortrekker-veldslae tot die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog.

Dan is die ossewa as politieke simbool van die Afrikanernasionalisme ’n hele eie storie; die heraldiek op munte, seëls en wapens. Die monumente en volksfeeste; die uitbeelding in die kuns en in kinderspeelgoed. Ek het waarskynlik self die meeste plesier uit hierdie boekprojek geput. Om na die bedryf te kyk, laat jou met ’n gevoel van trots om mens en boer te wees. Ek hoop deur die boek kan ek iets daarvan aan julle almal oordra.