Vir die Afrikaanse sanger Elvis Blue is die klank van vliegtuie van kleins af musiek in sy ore. Daarby is hy báie lief vir koffie. Hy het lank die spesifieke plek langs die George-lughawe in gedagte gehad om ’n padstal te begin, en toe hy vanjaar die kans kry, het hy dit aangegryp.

Hy het aan die werk gespring en ’n unieke, interessante gebou van vraghouers laat maak waar jy jou koffie saam met ’n kolwyntjie of ander eetding by die selfhelprestaurant koop en gaan sit waar jy wil. Die gewildste sitplek is die boonste verdieping waarvandaan jy die aanloopbaan van die lughawe kan dophou.

Luister na die vlieëniers

Wat dit nog meer spesiaal maak, is dat jy die lughawe se beheertoring en vlieëniers se gesprekke oor luidsprekers kan hoor. Dit is die ideale “wagkamer” wanneer jy passasiers op die lughawe kom haal.

Elvis sê hy het sowat drie jaar gelede sy eie koffie begin bemark. Sodra hy ’n dranklisensie het, kom sy volgende unieke produkte, Elvis Brew Weiss en Lager en Elvis Brew-jenewer – met ’n koffie-ondertoon – aan die beurt.

As jy klaar vliegtuie gekyk het, kan jy die res van die padstal deurstap vir die vars groente en vrugte, en ingelegde produkte wat jy by ’n padstal sal verwag – alles van plaaslike verskaffers. Elvis se kreatiewe vrou, Cherize, is daarvoor verantwoordelik. Hy sê sy hou van alles wat mooi en lekker is en sy ry geen padstal mis nie. Die unieke uitleg en versiering van die padstal is haar handewerk.

Binne-in is ’n regte padstal en koffiewinkel met ’n vliegtuig-uitkykpunt aan die regterkant.

Padstal-vertonings

Elvis het ’n goeie bakker in George wat al die koeke en ander lekkernye bak, en nog iemand wat beskuit bak. Sy pasteie, wat nie die gewone garage-pie is nie, word ook plaaslik gebak. Op die boonste verdieping is ’n vleisdeli met biltong, droëwors en ander vars vleisprodukte van goeie gehalte. Selfs die melk en jogurt kom uit die omgewing.

Elvis Brew-padstal bied nie net ’n gesellige kuier nie. Elvis gaan ook sy sang inspan om vertonings te hou. Die rakke in die padstal kan eenkant toe geskuif word om ’n informele teater met ’n verhoog, tafels, stoele en selfs ’n galery te skep.

Die bonus is speelplek vir kinders en ’n kwekery as buurman. Elvis sê: “Ek wil net ’n plek hê waar mense gelukkig kan wees.”

Navrae: Tel: 084 477 9128; e-pos: elvis@elvisblue.co.za