Gerber & Co se storie is teen dié tyd wyd bekend. Stefan Gerber en sy vrou, Francisce (Pikkels), het ’n paar jaar gelede op Stefan se oupa se plaas in die Namakwaland begin boer. Oupa Eli se filosofie was: “Waar daar wol is, is daar ’n weg.”

Dít het die Gerbers, wat albei van aard entrepreneurs is, aangespoor om ’n klerereeks te begin met die Merinowol wat in hul omgewing geproduseer word. Kort voor lank het die padstal by Bitterfontein gevolg (daar is deesdae ook een op Simondium naby Franschhoek in die Wes-Kaap).

Langs die padstal is ’n lokaal waar hul Small Seeds-gemeenskapsprojek bedryf word. Hier word vroue opgelei om met die hand te weef sodat hulle met die wol van Gerber & Co klere kan maak. Die Gerbers koop dit dan by die vroue en verkoop dit weer. Mettertyd wil hulle die weefproses aan padstal-besoekers ten toon stel.

Snuffel tussen die rakke vir interessante produkte wat eie aan die omgewing is, of self deur die ondernemende Gerber-egpaar vervaardig word. Foto’s: LUCILLE BOTHA

Die padstal met sy moderne steenkoolkleurige mure, kunsfoto’s en bokkoppe is pure Namakwa-sjiek. Hier vind jy ’n skatkis met outydse lekkers, draadkarre, skuinskoek, leerprodukte, boerseep en uiteraard egte woltruie en ander kledingstukke. Die Gerbers maak ook lip- en tepelroom van hul eie organiese lanolien (daardie wasagtige stof wat skape se oliekliere natuurlik afskei).

Op die swartbord teen die muur pryk die spyskaart met roosterkoek, pasteie en heerlike koek. Eenvoudige dog goeie kos – en boonop billik, want die duurste keuse is die roosterkoek met boerewors en smoor teen net R45.

’n Mens kan sien hier word moeite gedoen om oulike produkte, ook dié wat eie aan die kontrei is, op die rakke te hê. Francisce is ook die dryfkrag agter Soefijas, ’n reeks deliprodukte wat Loeriesfontein-braaisout, -granola en -piekeluie insluit.

Stefan is betrokke by die wynhandelsmerk Boer & Brit en Francisce het op die wynplaas Leeuwenkuil grootgeword, dus kan jy ’n paar lekker wyne (sommiges selfs in ’n blikkie) of boetiek-jenewer vir jou vakansie in Namibië koop (as daar nie ’n verbod geld nie, natuurlik).