Mense wat gereeld in hierdie geweste besoek aflê, sal weet dat die Outspan-padstal eers as die Burgerville-padstal bekend was. Sharyn van Reenen en haar oorlede man, Dewet, het dit in 2002 geopen om hul Van Reenen-beesvleisburgers en tradisionele beesbiltong, gemaak volgens die familieresep, van die hand te sit. Dié biltongresep dateer reeds vanaf die Groot Trek in 1848 en is die afgelope 150 jaar van geslag tot geslag aangegee.

Sonneblomlande met die Okha- hlamba- Drakensberg op die agtergrond.

Fransicus Josephus van Reenen, die Voortrekker na wie die Van Reenenspas genoem is en Dewet se voorouer, het oorspronklik die biltong – met ’n geheime bestanddeel – gemaak. In die 1800’s was yskaste nog nie beskikbaar nie en boere het hul vleis behoue laat bly deur hoofsaaklik sout en asyn by te voeg. Elkeen het egter in sy eie geheime bestanddeel geglo om sy biltong ’n unieke smaak te gee.

Van Reenen en sy vrou, Margaritha Johanna van Reenen, se volmaakte resep kan vandag nog by die padstal beproef word. Slegs beesvleis uit die omgewing word gebruik. Dit word natuurlik gelugdroog, volgens tradisionele metodes, sonder om moderne droogkabinette te gebruik. Jy kan selfs jou eie biltong tuis gaan maak met ’n pakkie tradisionele Van Reenen-biltongspeserye en ’n gids met aanwysings wat by die padstal verkoop word.

Nuwe baadjie

Die padstal is op die kommersiële Cameeldraai-familieplaas geleë, waar hulle met sonneblomme, koring, mielies, sojabone, hawermout, ertjies en pers radyse boer. Die padstal het egter amper gesneuwel nadat die R74-pad in 2012 onbegaanbaar vir motors geraak het. Die padstal moes in 2013 sy deure sluit toe herstelwerk aan die pad naby die Sterkfonteindam gedoen is. Die slegte grondpaaie en opgekapte teerpaaie het toeriste afgeskrik.

Die Van Reenens se biltongresep is nog onveranderd sedert die dae van die Groot Trek.

Nadat die pad uiteindelik in 2016 herstel is, is die plaas se ou sementreservoir in ’n koffiewinkel omskep en as die Outspan-padstal heropen. Die biltongwinkel is steeds die grootste trekpleister, met die Coffee Patch-koffiewinkel langsaan. Dit word deur Sharyn se skoondogter, Alex, bedryf. Kirsty Buchanan is die bobaasbakster wat vir wortel- en sjokoladekoek, tuisgebakte brood, muffins en skons (met varsgekerfde biltong daarop!) sorg. En die bekende Van Reenen Burger is steeds op die spyskaart.

Sedert 2019 is die Van Reenens lid van die Amerikaanse Little Free Library Organisa- tion, waar die gemeenskap en toeriste boeke kan neem, omruil of skenk. Besoekers kan ook ’n draai maak op die plaasgedeelte langs die padstal om in seisoentyd sonneblomme te pluk of voëlspesies, bye, skoenlappers en ander insekte te bewonder. Inligtingsborde vergemaklik die leerervaring.

Dit word gou ’n lang kuier terwyl jy met ’n koppie boeretroos oor die sonneblomlande en die groen Drakensberg tuur.

Navrae: Sharyn van Reenen, 083 290 2266, of Alex van Reenen, 071 605 4744. Stuur e-pos aan die padstal by info@outspan.co.za