Dit is met inspanning dat die vyfjarige Zayron Lennox van De Doorns op sy maag rol, ’n paar kleurvolle plastiekblokkies in die hande kry en dan onder geesdriftige toejuiging van sy onderwyseresse die blokkies met sy mond en een hand op mekaar stapel.

Vir die meeste ander vyfjariges behoort dié taak ’n alledaagse aksie te wees, maar vir Zayron is dit ’n groot prestasie wat uiterste moeite verg. Dié vrolike seuntjie is weens ’n geboortebesering serebraal verlam en ’n hemipleeg aan sy linkerkant. Hy sal waarskynlik lewenslank met ’n spesiale stootkarretjie oor die weg moet kom. Ondanks sy ouers en grootouers, almal plaaswerkers in die omgewing, se ongelooflike toewyding en liefde, ontbreek die kennis en tyd om vir Zayron die nodige stimulasie te gee wat hy nodig het.

Danksy die Breedevallei Vereniging vir Persone met Gestremdhede (VPG) se CommKidz-projek woon Zayron sedert begin vanjaar die Bambino-crèche by op mnr. Riaan Jordaan se plaas, La Grange, waar Zayron se grootouers werk. Binne ’n maand kon ’n mens sien hoe die stimulasie en blootstelling aan ander kinders vrugte afwerp. Zayron sê deesdae ’n paar woorde en sy spiertonus het verbeter, wat hom in staat stel om onder meer sy kop op te lig en met hulp om te rol.

Zayron Lennox (5) is weens ’n geboortebesering serebraal verlam. Hy woon sedert begin vanjaar ’n gewone crèche op ’n plaas by terwyl hy wag vir plek in ’n dagsorgsentrum vir kinders met gestremdhede. Die blootstelling aan stimulasie en ander kinders doen hom die wêreld se goed.

Begin vroeg

Zayron is een van sowat 38 minderbevoorregte kinders in die Breedevallei met ’n gestremdheid in die CommKidz-program vir wie daar tans nie plek is in ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes nie. Danksy sy onderwyseresse by die Bambino-crèche, mee. Philda de Bruin en Nadia Sogiba, en die CommKidz- assistente kry Zayron deesdae baie meer aandag en stimulasie, wat help dat hy nie die beperkte vaardighede wat hy het en wat tot sy lewensgehalte bydra, óók verloor nie.

Die VPG het vier dagsorgsentrums in die gebied (op De Doorns, Rawsonville, Touwsrivier en Worcester) wat na kinders met spesiale behoeftes van 3 tot 18 jaar oud omsien. Daarna betree hulle ’n spesiale jeugprogram. Dit kan egter tot drie jaar duur voordat ’n nuwe leerder plek in dié skole kry.

“Volgens wet mag dié skole net ’n sekere aantal kinders in die skool hê, dus is daar altyd ’n waglys. Dit word ’n probleem wanneer kinders twee tot drie jaar lank moet wag om aanvaar te word. Dan is die geleenthede om die kind aan enige stimulasie bloot te stel, daarmee heen,” sê me. Louise Fouché, ’n arbeidsterapeut wat by die VPG se CommKidz-projek betrokke is.

“ ’n Mens weet ook nooit wat ’n kind se ontwikkelingsplafon is nie, daarom is dit belangrik om hom of haar van kleins af soveel moontlik te stimuleer. Jy wil met die kinders begin werk terwyl hulle nog baie jonk is, want die brein kan nog ander ontwikkelingsbane vind.”

Die aanvanklike plan was om die ouers of oppassers op te lei oor hoe om die kinders tuis te stimuleer. Weens ongeletterdheid, onkunde en veeleisende werkure van die ouers het hulle egter besef dit is nie die antwoord waarna hulle soek nie.

Zayron Lennox kan wel nie alles doen wat sy maatjies kan doen nie, maar hulle aanvaar hom as een van hulle, vertel sy onderwyseresse, mee. Philda de Bruin (links) en Nadia Sogiba (tweede van regs). By hulle is die arbeidsterapeute mee. Sam McCrindle (tweede van links) en Louise Fouché.

Sowat twee jaar gelede het die crèche by Villion Farms, ook op De Doorns, ’n seuntjie met gestremdheid weens ’n hoofbesering tydens ’n busongeluk aanvaar.

“Die plaasskool was bereid om met hom te werk. Die seuntjie was uiteindelik ses maande daar voor hy by die Eden-skool vir kinders met spesiale behoeftes geplaas kon word. Ons het ’n bietjie opleiding aan die onderwyseresse gegee en hy het uitstekend gevaar. Dit is toe dat ons besef het daar is ’n geleentheid om meer plaasskole betrokke te kry sodat kinders dit kan bywoon terwyl hulle wag op plek in die dagsorgsentrums,” sê Fouché.

Die CommKidz-projek is uniek, en sover hul kennis strek is daar nie nog só ’n program in Suid-Afrika nie.

“Dit pas ook baie goed by VPG se doelwit om mense met gestremdhede eerder in die samelewing te probeer akkommodeer as om hulle weg te stuur na residensiële geriewe.”

Volgens Fouché is die agterstand in die peuter- en kleuterjare dikwels nog nie só groot nie, en die kinders word maklik deel van hul portuurgroep. “Jong kinders diskrimineer ook nie teen mense met gestremdhede nie,” sê sy oor hoe die res van die klas die maats met gestremdhede behandel.

Mee. Louise Fouché (links) en Sam McCrindle is arbeidsterapeute wat kinders met gestremd­hede se situasie evalueer. Saam met die CommKidz-projek probeer hulle vir die kinders die beste moontlike sorg kry.

Stap ’N pad met ouers

Die CommKidz-assistente, een in elke gebied, vorm die ruggraat van hul program. Dit is gewoonlik ma’s wat self kinders met gestremdhede het, wat dikwels die dagsorgsentrums bywoon. Die ma word dan opgelei om twee keer per week ’n oefening-en-stimulasieprogram met die kinders te doen. Sy werk ook saam met onderwyseresse by plaasskole wat kinders met gestremdhede akkommodeer. “Aangesien sy persoonlike ervaring het, kan sy ook die ouers bystaan en ondersteun.”

Dié assistente word deur ’n Nederlandse finansier betaal.

Die CommKidz-assistente en ander werknemers staan die skole by en stap ’n pad met die onderwyseresse sodat hulle insig in die aard van die gestremdheid ontwikkel, weet wat om te verwag, en ook watter soort stimulasie belangrik is. Sodra die onderwyseresse gemaklik is, onttrek die assistente stadigaan.

“Maar selfs sonder die onderwyseres se stimulasie is die kleuterskool-omgewing, waar daar interaksie met maats is en die kinders blootgestel word aan dinge soos kleure en vorms, reeds baie stimulerend.”

Die Bambino-crèche op De Doorns is ’n voorbeeld van ’n plaasskool wat ’n groot verskil kan maak aan die lewe van kinders met gestremdhede, en die lewe van hul ouers, terwyl hulle op die waglys is vir ’n sentrum wat na hul behoeftes kan omsien.

‘Geen ekstra moeite’

Fouché sê plaasskole is oor die algemeen baie ontvanklik vir die idee om kinders met gestremdhede in te neem. Boere is ook besorg oor mense met gestremdhede op hul plase en dikwels baie ondersteunend.

De Bruin vertel sy en Sogiba was aanvanklik ietwat op hul senuwees en nie seker wat om te verwag nie, maar hulle het gou besef Zayron verg nie ekstra moeite nie en ontwrig nie hul gewone dagtaak nie. Boonop vind hulle dit baie bevredigend om te sien hoe hy floreer danksy die werk wat hulle doen.

“Dit is vir my só lekker om met hom te werk, veral as hy my naam roep of iets probeer sê wat niemand anders verstaan nie. Ons geniet hom baie,” sê Sogiba.

Hoewel Fouché-hulle met ’n breë spektrum van gestremdhede werk – van outisme tot spina bifida – is dit veral fetale alkoholsindroom en intellektuele gestremdhede wat by kinders op plase voorkom.

“Ons het besef daar is baie kinders met gestremdhede wat glad nie by skole of crèches inskakel nie. Soms word hulle weggesteek of in die huis toegesluit. Mense besef dikwels nie die aard of omvang van die gestremdheid nie, of dit duur ’n ruk voor die ouers dit identifiseer en aanvaar. Ons projek is daarop gemik om hierdie kinders so gou moontlik op te spoor en in ’n omgewing te plaas waar hulle gestimuleer kan word sodat daar nie ’n verdere verlies aan hul reeds beperkte vermoëns is nie.”

Die Umnenge-dagsorgsentrum op De Doorns is gemik op kinders met gestremdhede. Hulle kan dit van 3 jaar tot 18 jaar oud bywoon, waarna hulle by ’n jeugprogram inskakel. Die waglys vir plek in sulke sentrums is baie lank.

Dit is dikwels maatskaplike werkers wat CommKidz oor sulke kinders inlig. Arbeidsterapeute soos Fouché en haar kollega, me. Sam McCrindle, doen dan ’n evaluering om die soort gestremdheid te bepaal en riglyne te gee oor die pad vorentoe, wat moontlike rehabilitasie insluit. Hulle probeer ook uitvind waarom die kinders nie in die skoolomgewing is nie. Onkunde, moeilike vervoerreëlings of ’n tekort aan toerusting soos rolstoele is dikwels te blameer. “Ons kyk dan hoe ons die struikelblokke kan oorkom,” sê Fouché.

In Zayron se geval wag hy tans vir ’n spesiale stootkarretjie wat die departement van gesondheid onderneem het om te borg. Intussen gebruik hy ’n gewone babastootwaentjie, hoewel dit eintlik glad nie geskik is nie.

Buiten finansiering is daar ander struikelblokke, veral rondom vooropgestelde idees oor gestremdhede. Fouché wil graag mense aanmoedig om soveel moontlik oor gestremdhede te gesels en bewus te raak daarvan.

“Probeer mense met gestremdhede deel maak van die gemeenskap, moet hulle nie anders behandel nie en respekteer hul menswaardigheid. Eintlik moet dit glad nie ’n uitsondering wees as daar kinders met gestremdhede in plaasskole is nie.”

Mense uit ander gebiede wat kans sien om soortgelyke projekte aan te pak of op ander maniere betrokke wil raak, kan die VPG se kantoor skakel by 023 347 2002.