Vertel meer oor Nook.

Ek is ’n grafiese ontwerper met verskeie kliënte wat ek oor jare opgebou het. Ek het ook ’n produkafdeling wat dekor en skryfbehoeftes, soos kaartjies en etikette, ontwerp en druk. Al my ontwerpe beeld my unieke illustrasies uit.

Hoe het die onderneming ontstaan?

Ek was ’n konsepontwerper in Kaapstad, maar het gevoel ek kan nie my kreatiwiteit daar uitleef nie. Daarom het ek besluit om ’n sakekursus te volg sodat ek my eie onderneming kon begin. In daardie stadium het ek in ’n klein woonstel gebly en agtergekom daar is ’n groot vraag na veeldoelige meubels en dekor.

Ek het dus begin om lampies met verwisselbare skerms te maak. Dit is ’n fokuspunt in jou huis, en jy verwissel die skerms na gelang van die situasie. Dit is dus ’n lamp en ’n kunswerk in een. Dit werk ook goed as naglig vir babas en jong kinders.

Hoekom het jy die sprong platteland toe gemaak?

Ek woon tans buite Worcester en het hierheen getrek omdat dit goedkoper was om ’n onderneming hier op die been te bring as in die stad. My produkte word alles in die Boland en Kaapstad vervaardig.

My uiteindelike doel is om heeltydse personeel aan te stel. Klein ondernemings, soos myne, skep werk en help met Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer. Ek wil graag werk verskaf aan mense in my omgewing.

Hoe maak jy mense bewus van jou produkte?

Ek bemark Nook op sosiale media, veral Instagram. Instagram en Facebook gee vir jou ’n platform vanwaar jy ’n groot verskeidenheid mense kan bereik. Ek stal ook op markte, soos Kamers, uit.

Was dit moeilik om finansiering te kry?

Ek het voorheen in Londen (Brittanje) en Kaapstad gewerk en het toe reeds begin geld spaar sodat ek my eie onderneming kan begin. Gelukkig het ’n grafiese ontwerper net ’n skootrekenaar nodig om te kan werk. Jou aanvanklike oorhoofse koste is dus laag. Die groot finansiële belegging het eers gekom toe ek produkte begin vervaardig het.

Het jy soms in die begin gevoel of jy wil tou opgooi?

Gelukkig het ek baie vriende wat hul eie ondernemings bedryf. Hulle was my inspirasie. Hulle het my bygestaan met raad en motivering. My familie het my ook baie ondersteun.

’n Grafiese ontwerper werk waar haar skootrekenaar is, vertel Wilhelmien du Toit. Só kon sy in die begin haar oorhoofse koste beperk.

Hoe bly jy produktief?

Roetine bly maar die beste, maar ek moet bieg – ek sukkel soms om dag ná dag dieselfde ding te doen. Ek verkies om op ’n plek te werk waar daar min onderbrekings is. Dan sit ek my oorfone op en eet die olifant happie vir happie!

Watter wenke het jy om tyd beter te benut?

Miskien om vinniger te slaap?! Gee voorrang aan dit wat belangrik is.

Wat maak jou suksesvol?

Ek glo ’n mens kan enige doel bereik deur harde werk. Ek sou ook nie suksesvol kon wees sonder my familie en vriende se ondersteuning en as ek nie my knieë deurgebid het nie.

Is daar iets wat jy wens jy geweet het voor jy Nook begin het?

Ja, ek wens ek het vooraf meer geweet oor belasting en administrasie. Ek moes dié dinge op ’n baie ontnugterende manier leer.

Wat het jy geleer uit jou foute?

Almal maak foute en foute kos geld, maar elke fout is ook ’n leerskool. Dit is ook van die beste raad wat ek op my pad gekry het.

Wat hou die toekoms vir jou onderneming in?

Op die lang duur wil ek graag my eie ateljee hê waar ek kan werk en my produkte kan uitstal. Op kort termyn is dit om ’n aanlyn winkel te begin en meer produkontwikkeling te doen. Ek wil ook graag op meer markte uitstal en deur meer winkels verkoop.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.