Oudergewoonte is die winteruitgawe van Landbou Boerekos ’n reisuitgawe en dié slag het ons met die Breedekloof se plaasprodukte gekook, innoverende produsente besoek en bobaas-tuiskokke se kombuisgeheime geleer. 

Me. Tharina Marais, eienaar van die Pure Boland Market, waaroor ons ook in Landbou Boerekos skryf, stel nou spesiale bokse saam met die wonderlike produkte wat in die uitgawe genoem word. Nou kan jy ook die lekkernye geniet wat ons in dié prentjiemooie streek raakgeloop het. 

Marais sê die gedagte vir die bokse het posgevat toe sy besef het die grendelstaat gaan mense nog lank verhinder om byvoorbeeld by die Pure Boland Market en ander markte uit te stal. Sy wil die uitstallers help om hul inkomstestroom aan die gang te hou. 

“Ek het besef ek moet aanvaar wat besig is om te gebeur, my daarby aanpas en planne beraam om mense te help om in die ‘nuwe normaal’ waarin ons leef, steeds kos op die tafel te sit,” sê sy. 

Die Landbou Boerekos-boks is haar sesde boks. 

“Die gemeenskap het ons reg van die begin af baie goed ondersteun. Wat ons bokse uniek maak, is dat dit regtig goeie waarde vir geld is. Die Pure Boland Market is ’n egte plaasmark, wat gehalteprodukte deur plaaslike mense aanbied. Ons wil dit in die bokse ook weerspieël,” sê Marais. 

Unieke aanbod

Daar is twee bokse om uit te kies – luuks of deluxe. Elkeen is boordensvol gepak met ’n verskeidenheid vars en ingelegde produkte – van wildskenkels tot bloubessiestroop, varsgebakte brood, smullekker soetgoed, plaaseiers, pesto, tuisgebakte koekies, heuning, sampioene, vrugte, souse en natuurlik ’n geliefde produk uit die omgewing: moskonfyt. Jy kry boonop ook ’n eksemplaar van Landbou Boerekos in die boks! 

“Mense is altyd stomgeslaan oor die gehalte van die produkte in die boks. Ons sorg vir ’n heerlike kombinasie, sodat daar iets vir almal in is. Al die produkte kom uit ons streek. Ek raak toenemend bewus van watter wonderlike streek ons in woon. Hier is die ongelooflikste produkte, nie net ten opsigte van waarmee mense boer nie, maar ook wat mense daarmee doen. Die moontlikhede is eindeloos.”

Gewoonlik voeg sy ’n reseptekaart in elke boks in, maar in die Landbou Boerekos-boks is daar ’n spesiale boekmerkie wat resepte aandui wat met die bestanddele voorberei kan word. 

Bestel gou!

Die eerste Pure Boland Market-boks met ’n Landbou Boerekos-tema word in die Breedevallei, Kaapse Wynland, Overberg en Kaapstad versprei. Bestel jou boks voor Woensdag 20 Mei om 13:00 by tharina@realevents.co.za of 082 301 8561. Dit word Donderdag en Vrydag afgelewer. 

Binnekort sal daar ook landwyd bokse met Landbou Boerekos-produkte versprei word. Hou Landbou.com en Landbouweekblad dop vir nog inligting, of besoek Pure Boland Market se Facebook-blad