Dié wat dit ken, beskou nastergalkonfyt as die kaviaar van konfyte. Erick en Wiida Badenhorst van Bergville sit deesdae ’n familietradisie van  konfytkook met hierdie pers, inheemse bessie voort. 

Ná 30 jaar in die korporatiewe wêreld en ’n rukkie sabbatsverlof waartydens hy die Camino de Frances-pelgrimsroete (oftewel die Franse Weg) aangedurf het, het Erick Badenhorst ’n lewensveranderende besluit geneem. Hy en sy vrou, Wiida, het teruggegaan na sy familieplaas, Natalheim, naby Bergville om die familietradisie van nastergalproduksie voort te sit.

Dat ’n prokureur soos Erick, iewers in sy vyftigs, besluit om die stad te verruil om die boerdery te betree, is dit nie ongewoon as ’n mens in ag neem hoe die boerebevolking wêreldwyd verouder nie. Amerika se boere is gemiddeld 55 jaar oud, in Japan is hulle gemiddeld 67 jaar oud en Suid-Afrikaanse boere is gemiddeld 62 jaar oud.

Erick én Wiida was plaaskinders voor hulle as studente op Stellenbosch ontmoet en 30 jaar gelede afgehaak het. Hul plaasagtergrond het dit ’n maklike besluit gemaak om die stad te groet.

Twee families werk saam

Wiida se ma, Elize Conradie van die plaas Skaterwater by Bothaspas op die grens van KwaZulu-Natal, Mpumalanga en die Vrystaat, het lank gelede die resep verfyn om die bitter nastergalbessie in ’n soet, swartpers konfyt te omskep. Elize het destyds die resep gebruik vir haar Umsobo-konfyt wat by padstalle reg oor die land te koop was. Haar man, Pierewiet, het die nastergal geplant en gepluk, terwyl Elize tot laat agter die konfytkastrolle gewerskaf het.

Dié erfenis is nou aan Wiida oorgedra waar sy en Erick vanjaar hul tweede nastergal-oes op ’n plaas aangrensend aan Natalheim, aan die voet van die Okhahlamba-Drakensberge, insamel. En net soos destyds met haar ouers, doen Erick die werk op die lande en vervoer die varsgeplukte nastergalbessies, terwyl Wiida en haar span gereed staan om die bessies te sorteer, gradeer en tot konfyt en stroop te kook in groot kastrolle op gasstowe.

Die saadjie wat Wiida se ouers jare gelede geplant het, groei dus vandag fluks met die hulp van drie geslagte Badenhorsts.

Erick se pa, Pieter (81), het gehelp met die ontwerp en ontwikkeling van die gasstowe, etiketmasjien en botteleringstasie.

Wanneer Erick en Wiida nie op die plaas is nie, staan sy broer en skoonsuster, MP en Michelle, in om Heerlijk aan die gang te hou. Hul seuns, JP en George, hou ook ’n ogie oor die plant en bewerking van die nastergal.

Mielieboere het lank nastergal as ’n onkruid beskou wat uitgeroei moes word, maar deesdae boer ’n handjie vol produsente met dié inheemse gewas. FOTO’S: JANDRI BARNARD, tensy anders vermeld
Erick Badenhorst met ’n nastergalplant.

Gemaak volgens toeka se beginsels

Vanaf middel Februarie tot April skep hulle meer as 200 werkgeleenthede, want dit is harde werk om dié bessies te pluk en die konfyt te kook. Dit word met liefde in klein hoeveelhede gekook sodat die gehalte, kleur en tekstuur van die heel bessie behoue bly. Slegs vars nastergalbessies en suiker word gebruik – geen bygevoegde fieterjasies nie.

Die Heerlijk-nastergalkonfyt word dan gebottel en etikette – wat die eindproduk as “zonder gelijke” beskryf – word sorgvuldig met die hand geplak. Dit is ’n smaaksensasie saam met vars brood of in jogurt en laat jou dink aan ’n kombinasie van moerbeie en bloubessies wat oor jou tong dans. Dit is waar die naam Heerlijk ontstaan het. “Dit is jou eerste reaksie as jy die konfyt proe. Die Nederlandse vorm bring ode aan ons voorouers en omarm ons herkoms,” verduidelik Wiida.

Die bessies is aanvanklik bitter en groen, maar namate dit ryp word, verkleur dit donkerpers en raak heerlik soet.
Die konfyt se aantreklike swartpers kleur is een van die kenmerkende eienskappe daarvan.

Inheemse skat

Hoewel die nastergalbessies ’n bietjie soos oorsese braambessies lyk, is nastergal so Suid-Afrikaans soos proteas.

Nastergal (of msoba, soos dit in Zoeloe bekend staan) is op die In Your Pocket-reisgids se lys van tradisionele kos. Dit groei natuurlik in dele van KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Hoëveld van Mpumalanga, waar die winters kouer is.

Die bessie is aanvanklik bitter en groen, maar word swartpers namate dit ryp word. Elke bessie moet met die hand gepluk en dieselfde dag nog verwerk en gekook word. Die raklewe van die bessies is so kort, dit kan nie eens oornag opgeberg word nie.

Die Badenhorsts is nie seker wat ’n goeie gemiddelde opbrengs is nie, aangesien hulle nog net twee jaar aan die gang is, maar dit hang van die weer af. “Verlede jaar was droër, en vanjaar is weer ’n nat jaar. Ons is boonop nog nie klaar geoes nie. Dit is moeilik om te sê hoeveel bessies ons per hektaar oes.”

Elize Conradie, Wiida se ma, het die familieresep ontwikkel en destyds konfyt gekook wat by talle padstalle beskikbaar was.
Dit is harde en tyd­rowende werk om die klein bessies elkeen met die hand te oes, maar die beloning is groot as jy ’n smeersel konfyt op vars brood geniet. FOTO: NICKY BARBER

Oorspronklik het boere nastergal as onkruid beskou wat hulle met onkruiddoder in hul mielielande uitgeroei het. Dit het nastergal ernstig bedreig, maar nou herleef dié erfeniskos danksy ’n hand vol boere wat dit aanplant. Dit word immers as die kaviaar van konfyt beskou. Dit is boonop propvol antioksidante en vitamien C.

Dalk het Antjie Krog dit die beste beskryf in A Change of Tongue: “If she likes somebody, she opens jam with whole orange pieces; if she wants to impress somebody, she opens her green-fig jam bottled with copper pennies; but nastergal, bane-wort, picked with endless patience, a batch never consisting of more than a cup or two, takes first prize. This is really for special people.”